"Ja, ek is seker die enigste ou op die planet wat dít doen," sê mnr. Danie van Tubbergh toe ons 'n afspraak oor die foon maak.
Die unieke onderneming wat Van Tubbergh op sy plaas Riverside, by Aan De Doorns (naby Worcester), bedryf, voorsien die hele Suid-Afrika regdeur die jaar van die Bolandse lekkerny waterblommetjies ( Aponogeton distachyos ) - in 'n blik.
En só kan die Engelse, Kanadese, Nieu-Seelanders en Aussies ook met ons eg Suid-Afrikaanse waterblommetjies bederf word. 'n Engelse hotel - die eienaar het Suid-Afrikaanse bande - sit ook graag waterblommetjiebredie voor. 'n Internasionale tydskrifresensie het (erg beïndruk) gesê dit moet die enigste plek ter wêreld wees wat "a stew of water lilies" bedien.
Van Tubbergh bemark al twintig jaar lank sy ingemaakte waterblommetjies onder sy eie Riverside-etiket. Bekende verskaffers het ook met sy vlei-groente in hul produkreeks gespog.
Sy kommersiële boerdery met waterblommetjies is reeds in 1983 staangemaak en danksy noukeurige rekordhouding kon Van Tubbergh sekere neigings in verbruikerspatrone en aanbod raaksien.
"Met kommersiële verbouing is die beskikbaarheid van waterblommetjies vervroeg. Dit is nie net meer in September beskikbaar nie."
Hoewel daar steeds 'n produksiehoogtepunt in September bestaan, is daar ook 'n mini-hoogtepunt in Mei. Volgens Van Tubbergh is dit belangrik dat 'n boer afsetgebiede vir albei hierdie hoogtepunte het. Die mark vir vars waterblommetjies is beperk. Hy het oorsesemarktemet die vars produkte probeer oorrompel, maar die groei was stadig. Dit was tyd om ander planne te maak.
Een opsie was om die houvermoë met bestraling te verbeter. Die nodige proewe daarvoor is gedoen.
'n Ander plan, wat hy ook saam met die Universiteit Stellenbosch se departement voedselwetenskappe aangepak het, was om die blomme te dehidreer. Dit moes die produk ligter maak vir uitvoer en ook die houvermoë verbeter.
"Die produk was pragtig,maar het geen smaak gehad nie," vertel Van Tubbergh. Die moontlikheid van bevriesing is ook oorweeg, maar geen idee was so suksesvol soos die geblikte waterblommetjies nie. "Ons gaan spesifiek vir die blik, want ek is nie skaam om te sê die produk is nie mooi genoeg vir 'n deursigtige glasbottel nie."
Die geblikte waterblommetjies was die gepaste antwoord om die verhoogde voorraad in September weg te werk.
Van Tubbergh het hom op die inmaakmark begin toespits toe twee seisoene agtereenvolgens van sy data afgewyk het. Redes daarvoor het hy nie,maar hy het wel 'n sterk vermoede dat inheemse plante (soos waterblommetjies) en diere goeie aanduiders van aardverwarming kan wees.
Waar die produksie gewoonlik 'n minihoogtepunt in middel Mei bereik en 'n daling aan die einde van Augustus toon voor dit weer in September optel, het dit in 2004 en 2005 nie die September-styging gewys nie. Daar was dus hopeloos te min blomme vir inmaak beskikbaar.
Dié insinking het Van Tubbergh oortuig om die varsproduktemark, wat soms onvoorspelbaar kan wees, vaarwel toe te roep en hom net op die veiliger inmaakbedryf te beroep, ten minste om die tekorte aan te vul.
Die produkontwikkeling het ook gelei tot ander, interessante gebruike vir waterblommetjies. Hy het vorendag gekom met onder meer 'n waterblommetjie-ratatouille, -puree en -blatjang.
Die A-graad-blomme word meesal in die blikkies gesit, wat beteken daar is 'n groot hoeveelheid uitskotblommetjies. Om waarde tot die verwerking toe te voeg, het Van Tubbergh op 'n kol ook blikkies waterblommetjie- roomsop verkoop.
Hy hou sy kaarte styf teen die bors wanneer hy gepols word oor markinligting, maar verklap darem dat sowat 60% van sy produk in Gauteng verkoop word. Plaaslik is dit meesal in supermarkte beskikbaar, terwyl dit ook spog op die rakke van Britse winkels wat in Suid-Afrikaanse produkte spesialiseer.
"Ek wil nie die idee skep dat hier 'n meeloopgeleentheid is nie. Aangesien ek al so lank by waterblommetjies betrokke is, weet ek wat die gevare is."
Is hy bang sy mark word oorgeneem?
"Ek dink nie oorproduksie is te vrees nie. Dit sal net 'n probleem wees as daar skielik werklike grootmaatproduksie is.
"Produsente moenie die hoogtepunt in aanvraag as die grondslag van 'n beplanningsmodel gebruik nie. In Julie enAugustus daal die produksie weens die koue.
"As die produsent nie voorsiening maak vir September se hoogtepunt in produksie nie, moet hy nie aangaan bloot omdat daar 'n goeie vraag in Mei en Junie is nie. Wat gaan hy dan doen met September se voorraad?" vra Van Tubbergh.
"Waterblommetjies is steeds meer bekend as 'n bestanddeel in bredies. Verbruikers moet opgevoed word oor waarvoor die blomme nóg gebruik kan word."
'n Waterblommetjie-souttert, hoender en- waterblommetjie-gebak en sop is net 'n paar van sy kreatiewe voorstelle.
Hy moes vanjaar vir die eerste keer in "etlike jare" voorraad inkoop om in die vraag te voorsien, maar sê die "vraag groei teleurstellend stadig in die oorsese aflaaiplekke. Dinge daar is nog nie lekker nie, maar as die oorsese markte wakker word..."
Hy skryf dit toe aan die aankopers en verbruikers se eetpatrone. Aankopers sukkel om te verstaan as 'n produk, soos waterblommetjies, wat sy eie produksieneigings toon, nie altyd saamval met die eetpatrone van verbruikers nie.
" 'n Aankoper moet begrip vir die produk hê, anders verstaan hulle nie as daar nie kontinuïteit is nie."
Waterblommetjies wat wild geoes word in 'n .uktuerende waterstelsel, soos 'n riviermond, kan maklik deur kolloïedes en troebelwater besoedel word. Hierdie blomme is dikwels sanderig. Dit kan nie in die gaarmaakproses verwyder word nie.
Kommersiële verbouing stel die produsent in staat om na die higiëne van die blomme om te sien.
"Dit is baie belangrik. My blomme kom van die dam af en gaan dan na 'n wasmasjien voor die lêproses begin," sê Van Tubbergh.
Hierdie lêproses behels 'n sout-en chloor- oplossing waarin die blomme geweek word om van lewende organismes en alge ontslae te raak.
Daarna word die blomme in die skuur op Riverside Farm gesorteer en weer deur 'n wasproses gesit. Daarna word dit in 'n skoon chloormengsel geweek om te verseker dat die blommetjies so steriel moontlik is. Dan eers word dit na die inmaakfabriek vervoer.
"Vandat ek begin blomme inmaak het, het ek nog nooit 'n klagte gehad wat aan probleme op die plaas toegeskryf kanword nie," sê hy trots.
"Twee dinge is belangrik om die houvermoë van vars waterblommetjies te verseker: Die temperatuur moet so na as moontlik aan vriespunt wees en daar moet altyd 'n hoë humiditeit wees."
Die ingemaakte blomme staan glad nie terug vir die vars waterblommetjies nie. "Maar dit hang natuurlik af van hoe jy (die verbruiker) dit kook. Ons strewe daarna om dit so ferm moontlik in die blik te sit sonder om die gevaar te loop dat dit te min gekook is. Die kleur is veronderstel om heel aantreklik te wees. Die geur word ook baie goed behou."
En die smaak? "Daar is 'n paar resepte waarin ek self verkies om die waterblommetjies eerder in geblikte vorm te gebruik," sê Van Tubbergh.
Die vervaldatum is sowat drie jaar ná die blomme geblik is, maar Van Tubbergh meen dit kan selfs langer behoue bly.
Prysgewys het Van Tubbergh waterblommetjies altyd met aspersies vergelyk, maar namate aspersies meer algemeen in Suid-Afrika verbou is, het waterblommetjies duurder geraak.
In dié nismark is daar meer as genoeg uitdagings wat oorwin moet word. Een daarvan is die verspreidingskanale. Van Tubbergh het al meer as een bloutjie met gesoute en gevestigde bemarkers geloop. Daarom verkies hy deesdae om, waar moontlik, regstreeks met die kettingwinkels te onderhandel.
Die bevordering van die produk onder Jan Publiek is ook 'n taai toffie. "Dit kan sekerlik beter gedoen word, maar dit is 'n te omvangryke taak vir een mens."
Sy toekomsplanne hou ook 'n uitdaging in. "Ek sal dit as 'n uitdaging sien as ek instrumenteel kan wees om waterblomme in 'n rigting te kry waar dit 'n toeganklike uitkoms aan enige Wes-Kaapse boer bied. Dit maak nie saak of hy op groot of klein skaal daarmee wil aangaan as 'n vertakking tot of as 'n volwaardige boerdery nie. Daarvoor is die groei van die plaaslike asook die uitvoermark egter noodsaaklik.
"As ek die keuse kan hê om 'n nalatenskap te los, sou dit wees om 'n lewensvatbare bedryf in die Wes-Kaap op die been te sien kom."
Landbouweekblad, 25 Januarie 2008