Landbou
Wees versigtig met bloubessies
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Versigtig optimisties, is hoe mnr. Trevor McKenzie, besturende direkteur van die maatskappy Eurafruit op Stellenbosch, oor die Suid-Afrikaanse bloubessiemark voel.

"Die bedryf moenie produsentgedrewe wees nie, maar eerder markgedrewe," het hy op 'n simposium tydens die Bien Donné- ekspo gesê.

In 2000 was die Rabbiteye-bloubessies veral gewild in Suid-Afrika (lees die meegaande berig "Drie tipes beskikbaar"). Ou kultivars, soos Bonnita en Bluemax,wat net mooi in die middel van die seisoen geoes word, het die laagste pryse op die mark behaal. Boonop was dit moeilik om die klein vruggies op die varsmark te verkoop.

"Ons kyk na taamlik swak opbrengste," het McKenzie gesê.

In 2001 het Eurafruit met die Fall Creekkwekery in Oregon, Amerika, begin sake doen. Só kon nuwe kultivars hul weg na Suid-Afrika vind. 'n Ooreenkoms oor 'n teelprogram is ook beklink. "Die resultaat was groter oeste en beter opbrengste. Dit het ook die bloubessiebedryf van voor 2000 tot nou verander."

Teen die begin van die seisoen (week 38 tot week 41) is produksie tradisioneel laag en pryse dus hoog. Teen November tel die produksie op. Daarmee saam sak die pryse. Inweke twee totvierverdienboeregewoonlik die laagste prys vir hul bessies. Teen Fe- bruarie en Maart begin die prys weer spoed optel soos die produksie afneem.

"Ons mikpunt is natuurlik om die mark in die begin en die einde van die seisoen te bedien. Maar soos produksie wêreldwyd toeneem, gaan die pryse daal en die produksie- en pryskurwes afplat.

"In die toekoms sal produsente nie meer R100 per kg kry nie. Argentinië en Chili mik vir dieselfde markgleuwe as Suid-Afrika. Argentinië kan in die begin van die seisoen voorsien en Chili teen die einde. Ons kyk dus na 'n produk wat in die toekoms baie meer kommoditeit-geörienteerd sal raak.

Ons sal die veranderinge oor so vyf jaar begin voel," sê McKenzie.

McKenzie was huiwerig omoor syfers te praat, maar het 'n rowwe koste-uiteensetting vir 'n bloubessieboerdery gemaak.

Die plante sal 'n boer sowat R50 000 per hektaar uit die sak jaag, maar dit hang af van die kultivars, die afstand tussen die plante, waar die plantmateriaal vandaan kom asook of daar enige tantième op die plante betaal moet word.

Grondvoorbereiding kan van niks tot R80 000 per eenheid kos. Bloubessies het drie primêre grondvereistes: 'n Lae pH-waarde, 'n lae klei-inhoud en baie organiese materiaal. Onthou, bloubessies is bosse wat op woudvloere gedy.

Besproeiing kan 'n verdere R50 000 per eenheid kos, na gelang van die grootte van die bloubessie-eenheid.

Skadunette is ook belangrik en 'n bloubessieboer moet bereid wees om bykans R250 000 per eenheid daarvoor op te dok. McKenzie sê bloubessieplante presteer beter as dit in die skaduwee gekweek word, veral in die harde Wes-Kaapse klimaat. Laer produkpryse kan dit egter vir boere te duur maak.

Om dié uitgawes te regverdig, moet die inkomste voorwaar goed wees, maar ook daaroor is McKenzie realisties. Hy sê 'n goeie gemiddelde opbrengs is sowat 8 ton bloubessies per hektaar. In die eerste week van November verlede jaar het die bessies teen R100 per kg verhandel,maar die week daarna teen R75 per kg. Hy reken op lang termyn is die gemiddelde prys ongeveer R40 per kg.

Die pryse mag dalk belowend lyk, maar die produksiekoste moet nog in gedagte gehou word. Volgens McKenzie kos die pluk en verpakking sowat R10 per kg en die pakmateriaal 'n verdere R6 tot R10 per kg. Dan is daar ook nog die koste van vervoer, kunsmis en onkruidbestryding om mee rekening te hou.

Wat bly dus oor? "Nie veel nie,maar darem hopelik iets," sê hy.

"As jy my bel en sê jy dink daaraan om bloubessies te plant, sal ek jou eers probeer afraai.Dit is arbeidintensief en moeilik.Ons kyk na 'n minimum van 10 hektaar om jou oorhoofse koste te dek.

"Vandat jy besluit om te plant totdat jy plant verloop sowat drie jaar as die invoer en kwarantyntydperke in ag geneem word. Jy bereik eers vier tot vyf jaar daarna volle produksie," sê McKenzie.

Suid-Afrika produseer net sowat 0,5% van die wêreld se bloubessies. "Die bekommernis is dus nie of jou buurman nog 5 hektaar bloubessies gaan plant nie, maar eerder wat gaan gebeur as Argentinië se boere besluit omnog 500 hektaar te plant."

Landbouweekblad, 8 Februarie 2008 BLOUBESSIES Drie tipes beskikbaar
Laebos-bloubessies het baie koue-eenhede nodig. Suid-Afrika se klimaat is te warm vir dié bessies, wat veral in Kanada en Rusland voorkom.

Hoëbos-bloubessies is in twee groepe beskikbaar. Die noordelike hoëbosbloubessies kom veral in die noordelike state van Amerika voor. Dit het 'n taamlik hoë kouevereiste (minstens 800 tot 1 200 koue-ure) en kan in spesi.eke dele van Suid-Afrika, soos die Wes- en Oos-Kaap, verbou word. Die bessies word van Desember tot Maart ryp.

Die suidelike hoëbos-bloubessie benodig minder koue ure en kom veral in die suidelike Amerikaanse state, soos Florida, Kalifornië en Georgia, voor. Die bessies word van September tot Desember ryp. Dit pas goed aan in die Wes-Kaapse grond, veral as 'n vloerplant in die woude.

Rabbiteye-bloubessies benodig net 400 tot 800 koue-ure en word in Amerikaanse state soos Georgia geproduseer.

Oestyd is Desember tot Maart. Die Europese markte is weens die pitjies in die vrugte nie meer so erg oor dié soort nie, maar nuwe kultivars toon belofte en kan vorentoe in Suid-Afrika geplant word.