Landbou
Organiese sure red wingerd
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Op die plaas Na-die-Oes, naby Bonnievale, het brak grond 'n blok jong Shiraz erg geknou. Dié wingerd "was nie meer lus vir groei nie", volgens mnr. Josua Coetzee, plaasbestuurder.

Kenners en 'n voorligtingsbeampte het hulle eintlik aanbeveel om nie wingerd teen Skoolkop te plant nie, maar Coetzee-hulle wou graag die maksimum produksie uit die plaas pers.

"Ons het besluit om die kans te waag en het in Augustus 2005 die wingerd (van sowat 4,5 hektaar) gevestig."

Kalk en gips is in oorleg met die kunsmismaatskappy ingesit, "maar ná net ses maande kon ons sien hier is fout".

Weens die hoë persentasie natrium(8 %) was die wit- en swartbrak kwaai op die stokkies. Hulle het gedink die blok is verlore. Die verdigting van die grond het ook gelei tot swak wortelontwikkeling, wortelvrot, swak of geen opname van voedingstowwe en geen vogbeheer nie.

"Toe kom Danie op die regte tyd op die regte plek aan," sê Coetzee.

Mnr. Danie Pienaar van Terra Kaap Liquids glo in die organiese integrasie van landbougewasse. Dit beteken 'n gewas word verbou met een doel voor oë: Om in die totale behoefte van die plant en die omgewing waarin dit groei, te voorsien. Hy glo ook voed die grond, en die grond sal die plant voed. Dit word gedoen met organiese sure, soos humien-, fulvien- en aminosure. Organiese sure is saam met organiese inhoud die bestanddele van humus.

Grond met humus het 'n donkerbruin kleur, 'n krummelstruktuur en 'n hoë waterhouvermoë. In die grond stimuleer en verbeter humus:

  • Mikrobe-aktiwiteit.
  • Die beskikbaarheid van minerale en elemente.
  • Die beskikbaarheid van stikstof (met tot 25 %).
  • Die grondstruktuur.
  • Die vermoë van die grond om vog te bestuur.

    Pienaar se plan van aksie om die Shiraz te red,was om die natriumvlakke te verlaag en die grond te deurlug.

    "Die eerste ding was om met die regstelling van die brakheid te begin," sê hy oor die humaatbehandeling wat toegepas is.

    "Die grond was geweldig verdig. AminoStim - een van die elemente om verdigting op te breek - is vir beter belugting gebruik sodat die grond se voghouvermoë en wortelontwikkeling kan verbeter."

    'n Sink-aanvulling is gedoen en die kunsmisprogram reggestel. Sowat 4 liter fulviensuur per hektaar is saam met die kunsmis toegedien vir die beter opname daarvan.

    "Die resultaat? Ons het basies die blok gered," sê Pienaar.

    "Dit maak my tevrede dat ons die grond se pH kon lig van 5,4 na 6,8. Die natriuminhoud het afgeneem van 8,03 % tot net 4,48 %. Die digtheidsweerstand het met 50 % verbeter."

    Dié veranderinge kon reeds in 'n grondontleding van September 2006 gesien word.

    Coetzee sê hy sal vanjaar die eerste oes van dié blok Shiraz kan afhaal - iets wat hy 'n paar maande gelede nooit kon gedroom het sou gebeur nie.

    Bogenoemde beginsels word nou met sukses op ander wingerdblokke, weiding, mielies en appelkose op die plaas toegepas. Humiensuur word uit steenkool onttrek en fulviensuur kom uit sekere komposvormende plantmateriaal.

    "Humiensuur is die een wat tussen die kleiplate van die grondstruktuur ingaan.

    Humiensure maak kunsmis sowat 60 % beter opneembaar vir plante.

    "Fulviensuur word in chelaatvorm gebruik en bring alle voedingselemente in die regte vorm sodat die plant dit makliker kan opneem.Dit het 'n lae pH(1,5 tot 2,5) en die koolstofinhoud is 47 % tot 50 %."

    Fulviensuur word gewoonlik saam met kunsmis toegedien. Die funksie daarvan is om die kunsmis en watermolekules beter te bind. Dit maak ook die kunsmis vir die plantmeer organies aanvaarbaar.

    Pienaar sê die gebruik van organiese sure kan 'n boer R775 tot R1 000 per hektaar per seisoen kos, na gelang van die boord se behoeftes.

    Maar dié uitgawe word maklik geregverdig met die volgende voordele:

  • Die blok Shiraz het sowat R100 000 gekos om te vestig. Sou die boer dit moes uithaal, was die geld in die water gegooi.
  • Afloopwater is bykans iets van die verlede. Danksy die grond se beterwaterhouvermoë mors die boerdery minder water - 'n voordeel vir die omgewing én die beursie.
  • Die goeie haarwortelontwikkeling (wat 'n mens in die pro.elgate kan sien) help die wingerdmet voedselopname.

    "Hierdie blok is gered deur die behandeling met organiese sure. Dit het die boer duisende rande gespaar en 'n goeie, gesonde blok is besig omte ontwikkel."

    Pienaar sê hul uitdaging was om 'n gesonde plant te skep.

    "Dit is 'n plant wat stres beter hanteer sodat dit siektes beter kan weerstaan en minder vatbaar vir plae is.Die doel was ook omdie produksiekoste af te bring."

    Grond het baie verbeter
    Sedert daar begin is om 'n blok Shirazwingerd op die plaas Na-die-Oes, naby Bonnievale, met organiese suur te behandel, het die grondstatus soos volg verander:

  • Die natriuminhoud beloop sowat 4 % teenoor 8 % voorheen.
  • Die pH het van 5,4 tot 6,8 verander.
  • Die kaliuminhoud het van 1,54 % tot 2,03 % toegeneem.
  • Die kalsiumvlak het van 64,6 % tot 75,48 % gestyg.
  • Die magnesiuminhoud het van 22,89 % tot 18,31 % gedaal.
  • Die weerstand het van 140 ohm tot 240 ohm toegeneem. Dit beteken deurlugting vind plaas, wat lei tot beter wortelontwikkeling, beter sterkhoutontwikkeling, beter voedingsopname en beter waterindringing (wat dus beter vogbehoud tot gevolg het).

    Wat is humien- en fulviensure?
    Humiensure is aromatiese strukture met 'n hoë molekulêre massa. Dit bestaan hoofsaaklik uit koolstof, suurstof en waterstof. Dit bevat ook karboksielsuur en fenoliese funksionele groepe. Humien word gevorm wanneer organiese plantmateriaal (plantreste en mikrobes) afbreek.

    Humien is 'n versameling chemiese strukture wat volgens die oplosbaarheid in alkalies en sure gede.nieer word. Dit is onoplosbaar in water, behalwe as humate met 'n hoë pH. Opgeloste humate is verantwoordelik vir die funksie van humiensure.

    Fulviensure is strukture met 'n lae molekulêre massa en bestaan uit koolstof, suurstof en waterstof, met karboksiel funksionele groepe. Fulviensure is by alle pH-waardes in water oplosbaar. Dit is die groepnaam vir 'n reeks sure, insluitend aminosure, hidroksiesure en vetsure.

    Landbouweekblad, 8 Februarie 2008