Landbou
Databasis vir uitvoerders
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Dit is maklik om verstrengel te raak in die oerwoud van inligting oor maksimum residu-vlakke (MRV'e) van verskillende uitvoerlande: Duitsland vereis iets anders as Malta, en Spanje het ook sy eie standaarde. Om nie eens te praat van die groot supermarkte wat ook hul eie koppe volg oor chemiese residuvlakke nie.

Alle vars produkte moet eers in oorsese hawens die groen lig kry voor dit in invoerlande bemark kan word. Een van die aspekte waarna gekyk word is MRV'e.

"Ten spyte daarvan dat geharmonieerde- residuvlakke ingevolge Europese voedselveiligheidswetgewing al baie lank nagejaag word, is hierdie steeds een van die tergende kwessies vir uitvoerders en hul verskaffers," sê mnr. Kobus Hartman, marktoegangsbestuurder van Capespan.

Hartman was aan die spits van 'n konsortium kundiges, waar onder die Suid- Afrikaanse Plaagbeheerinisiatiefprogram (SAPIP), die Departement van Landbou en die Europese Unie (EU), wat 'n databasis met inligting oor die maksimum toegelate residuvlakke vir vars produkte in die EU en Suid-Afrika ontwikkel het.

"Verlede jaar het 'n EU-groep Suid- Afrika besoek en 'n ondersoek geloods na MRV'e. Volgens hulle het daar vraagtekens gehang oor die legitimiteit rondom die uitvoer van ons vars produkte," sê Hartman.

Die EU-afvaardiging was veral bekommerd oor hoe inligting omtrent MRV'e verkry word by ander vars produkte as vrugte.

Die Regering kon ook nie die antwoorde aan hulle verskaf nie.

Die EU het R960 000 aan die SA Pip beskikbaar gestel om 'n sogenaamde statusdokument oor residuvlakke van alle vars uitvoerprodukte anders as sagtevrugte en sitrus (wat reeds langs ander weë bedien word) daar te stel. Die departement van landbou was die direkte bevoordeelde van die projek. Hulle sou die inligting gratis op 'n webwerf vertoon.

Die tender is aan Agribesigheidstelsels Internasionaal (ABSi) toegeken. Hulle het die taak binne 'n jaar afgehandel.

ABSi (die konsortium) is 'n onafhanklike dienstemaatskappy wat administratiewe steun by Capespan geniet en hom beywer om sekere dienste vir die hele uitvoergemeenskap te lewer. Een van hierdie dienste is Icmas, 'n program wat boere help met die voorbereiding vir sertifisering vir voedselveiligheidsprogramme (soos GLOBALGAP en Nature's Choice).

"Wanneer jy na oorsese markte uitvoer, het elkeen sy eie voorskrifte ten opsigte van voedselveiligheid.Daar is veral twee fokusgebiede: Chemiese oorblyfsels en mikrobiologiese besmetting," sê Hartman.

Sedert 1991 beywer die EU hom om die MRV'e vir al die lidlande te standaardiseer, maar ná 16 jaar is die proses nog nie voltooi nie. Volgens aanduidings sou alle chemiese middels volgens 'n EU-regulasie (369/2005) teen September 2007 geharmonieer wees. Die teiken is nou verskuif na Julie 2008.

"Die proses is stadig, maar die kans is goed dat die EU uiteindelik geharmonieerde MRV'e sal hê."

Die proses om 'n databank vir plaaslike uitvoerprodusente op te stel was net so 'n ingewikkelde,maar belangrike taak.

Suid-Afrika se landbou moet mededingend wees ten einde die 10 % tot 15 % uitvoergroei- teiken te bereik. Dié teiken is vasgestel ter ondersteuning van die Regering se Asgi-SA-strategie (Versnelde en Gedeelde Groei-inisiatief). Die databasis is dus 'n welkome hupstoot vir mededingendheid in die hedendaagse kennisekonomie.

"Die doel van die databasis is om boere en ander rolspelers met die inligting wat hulle oor MRV'e nodig het te voorsien sodat hulle effektief kan meeding in die internasionale mark. Deur die databasis te gebruik kan kwekers uitvind watter plantbeskermingsprodukte die meeste gepas is vir die gewassewat hulle produseer om uit te voer, en tot wattermate hulle die produk kan gebruik (afhangende van die land waarvoor die oes bestem is)," sê Hartman.

"Daar is redelik ingewikkelde Europese wetgewing om mee rekening te hou. 'n Mens moet ook weet hoe reageer die verskillende lande daarop. Dan is daar ook nog die kommersiële magte (die supermarkte) wat in gedagte gehou moes word.

Uiteindelik moes die databasis in al dié behoeftes voorsien.

"Dit was 'n enorme klomp werk. Die databasis beslaan meer as 190 000 selle, 153 chemiese produkte en ongeveer 74 kommoditeite," sê Hartman.

Alle relevante oesbeskermingsprodukte wat in Suid-Afrika en die EU gelys is, is in die databasis opgeneem. Dit sluit in 78 insekmiddels, 65 swamdoders, vier onkruiddoders en ses groei-reguleerders.

Die aktiewe bestanddeel, 'n verstekwaarde (in gevalle waar lande nog nie saamstemmet die geharmonieerde waarde nie, is die verstekwaarde die laagste MRV wat aanvaar sal word), Suid-Afrikaanse en Codex-waardes, die geharmonieerde waarde (indien beskikbaar) en waardes vir dertien EU-lidlande, asook Switserland en Noorweë word aangedui.

"ABSi het die werk gedoen, die EU het die geld gegee en die begunstigde is die staat," sê Hartman.

Die databasis is saamgestel vir nisgewasse, soos suptropiese vrugte, bessies, grenadellas, groente en baba-groente.

"Gegewe dat die vraag na sulke gewasse internasionaal groei en dat kleinskaalse en opkomende boere dit kan produseer, sal die databasis nuttig wees om sulke boere by te staan met die inligting wat hulle nodig het virmededingendemarktoegang."

Die databasis is in Desember aan die Departement van Landbou oorhandig, maar bly ook die eiendom van ABSi.

By die departement sal die inligting gratis bekombaar wees. Tans is dit ook nog verniet beskikbaar by ABSi se webwerf: www.absi.co.za , maar "die val-arm sal in die toekoms laat sak word". Hartman vergelyk dit met 'n tolpad. Die departement se gratis webwerf is die ander roete.

Wat ABSi se databasis nuttiger maak, is dat daar voortdurend inligting bygewerk word.

"Dit is die eerste keer dat so 'n omvattende databasis in Suid-Afrika bestaan. Dit is ook die enigste gratis webwerf van sy soort ter wêreld. Daar is 'n soortgelyke een in Europa,maar dit is 'n betaal-werf."

Volgens Hartman was die grootste uitdagings om die regte inligting in die databasis in te sluit, seker temaakwetgewing is reg geïnterpreteer en om Suid-Afrikaanse inligting - wat maar skraps is - in te sluit.

Landbouweekblad, 15 Februarie 2008