Die soekenjin Google en die sleutelwoord "superfoods" het 'n Stellenbosse ingenieur met 'n belangstelling in voedselproduksie aan die dink gesit.
"Ek het opgelees en agtergekom sampioene het wonderlike karakteristieke (van die sogenaamde supervoedselsoorte). Die Ooste verstaan dit al 2 000 jaar lank. Amerika en Europa se sampioen-markte beskik ook oor goed gevestigde eksotiese kultivars," vertel mnr. Schalk de Beer, besturende direkteur en eienaar van Nouvelle Mushrooms.
Superkos is voedselprodukte wat gelaai is met voedingstowwe en dikwels as wonderkos beskou word. Eksotiese sampioene bevat baie beta-glukeen - 'n middel wat die mens se immuniteitstelsel ondersteun.
Sowat drie jaar gelede het De Beer shiitake- sampioene ('n sampioen van Oos- Asiatiese oorsprong met 'n tipiese umamigeur, oftewel effens souterige smaak) vanaf Nederland begin invoer, maar probleme het bly opduik.
Die tydsverloop om produkte per lugvrag in Suid-Afrika te kry verkort die rakleeftyd, dit was 'n groot probleem en boonop duur ook.
Dit was nie lank voor hy besluit het om die sampioene self te produseer nie. Sy uitgangspunt was nog altyd om tegnologie na die voedselbedryf te bring. Die produksie van shiitakes het netjies in dié uitdaging gepas.
"Ek het reeds in die 1980's die idee gekry die vlak van voedselprosessering is nie naastenby op dieselfde vlak as byvoorbeeld, die petro-chemiese bedryf nie."
Sedertdien het hy betrokke geraak by vrugtesap- en soja-aanlegte, rooibosteeprosessering en anti-oksidant-ekstraksie.
So, die voedselwêreld was nie heeltemal vreemd nie.
Hy het die ingevoerde shiitaki's hoofsaaklik aan restaurante verskaf - wat op hulle beurt gehelp het om bewustheid onder verbruikers te skep. Sy mark was dus jonk,maar het gedy.
Vandag produseer sy maatskappy sowat 350 kg shiitake- en koningoestersampioene per week.Dit maak hulle die grootste plaaslike verskaffer van eksotiese sampioene in Suid-Afrika. Hulle hoop om teen einde Mei vanjaar produksie op te stoot tot 1 000 kg per week.
Die produksie op eie bodem het begin met 'n lisensiëringsooreenkoms tussen Nouvelle Mushrooms en CNC Exotic Mushrooms in Nederland. Laasgenoemde voorsien De Beer van substrate en sisteme vir die eksotiese sampioene.
"Ek het terug gekom en hul tegnologie in Suid-Afrikaanse toestande toegepas.
Oorsee kweek hulle die sampioene op eikehout- skyfies, wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie en plaaslike bome het nie die regte voedingswaarde nie. Ek moes dus 'n grondstof kry wat gaan werk én volhoubaar is."
Dit was 'n moeilike taak, aangesien shiitake- sampioene baie stadig groei. Dit het elke keer meer as vyf maande gekos om uit te vind of die getoetste grondstof werk en die verlangde opbrengs verseker, al dan nie. Uiteindelik het 'n mengsel van verskillende roumateriale die truuk gedoen om as gasheer vir die sampioene te dien. Dié omgewingsvriendelike substraat is verder ontwikkel om sampioen-bederf te voorkom.
Dit word by Nouvelle Mushrooms se komposkamers in Stellenbosch vervaardig, terwyl die inkubasie- en groeikamers in die Hemel en Aarde-vallei (tussen Caledon en Hermanus) geleë is.
"Ons het 'n paar dinge in gedagte gehou toe die stelsel ontwikkel is. Volhoubaarheid was uiters belangrik. Twee oudits is op die fabrieke gedoen om te verseker Woolworths een van die kieskeurigste kleinhandelaars in die land, se standaarde (ometiese en tegniese higiëne te bestuur) is in plek. Laastens het ons klem gelê op die etiese ontwikkeling van diemaatskappy en 15 werknemers."
Sowat 60% van die sampioene word aan Woolworths gelewer.Die oorblywende 40% gaan na restaurante, hotelle en word ook aangewend vir verwerking.
"Ons glo in die ontwikkeling van die eksotiese sampioen-mark in Suid-Afrika," sê De Beer.
Volgens hom kan hulle nou daagliks vars sampioene lewer. Dit waarborg 'n langer rakleeftyd aan die kleinhandelaar en verbruiker. De Beer glo ook dit verbeter die gesondheidswaarde van die sampioene wat dikwels met die verloop van tyd verlore gaan.
Die ander voordeel is koste-verwant.
Die sampioene is 'n nismark, en dus redelik duur, maar deur die hoë invoerkoste te systap kan hulle die koste van die sampioene in die mark afdruk.
Internasionaal word shiitakes vir sowat R70 per kg verkoop. In Suid-Afrika is die plaashekprys ongeveer R90 per kg.
"Ons is 'n kostedrywer en wil binne die volgende jaar die prys afbring na die internasionale prys toe. Hoe gaan ons dit doen?
Met 'n skaalekonomie," sê hy en verwys weer na hul uitbreidingsplanne wat reeds in 'n gevorderde stadium is.
'n Bemarkingsveldtog om kosliefhebbers en verbruikers bewus te maak van shiitakes wat trots Suid-Afrikaans verbou word, is onderweg. Hierin sal ook klem gelê word op die supervoedsel-waarde van die sampioene.
In die Ooste is shiitakes by verreweg die gewildste sampioene, maar in Amerika en Europa kraai wit sampioene nog koning.
Eksotiese sampioene het hier reeds tussen 5% en 10% van die veld gewen. In Suid- Afrika is minder as 1% van alle sampioene wat geëet word eksotiese soorte.
Volgens die ooreenkoms met CNC kan Nouvelle Mushrooms sewe spesies plaaslik kweek. Hulle hoop teen die einde van die jaar groei al sewe spesies in hul inkubasiekamers, sê De Beer.
Die toekoms beloof ook om opwindende verwerkings produkte op te lewer.
"Dit is nie maklik nie. Die kweek van shiitakes is ontsettend ingewikkeld. Hy is 'n stadige groeier en het soveel kompetisie, dit is 'n konstante stryd om hom te laat leef en goeie opbrengste te kry," sê De Beer.
Die substraat word in 4 kg-plastieksakke verpak. Dié sak is 'n lewende organisme wat asemhaal en suurstof en koolstofdioksied deurlaat. Bakterieë en swamme, wat met die sampioene kompeteer, kan dit egter nie binnedring nie.
Ná twee weke in die sak, en as daar geen teken van kontaminasie is nie, begin die inkubasietydperk van sowat 12 weke tot 16 weke. Elke sak word gemerk en teen sowat 25 °C geberg.
"As daar kontaminasie voorkom, kan ons na die voorraadnommer gaan en die probleem soek."
Mettertyd vorm die kompos 'n natuurlike baslagie aan die buitekant. Die inkubasietydperk is dan verby. Dit word met temperatuur geskok (vinnig afgekoel) om die groei te stimuleer. Binne tien dae vorm die steeltjies, en die sampioene word vir sowat 5 dae gedra. Die shiitakes word volgens twee graderings - 35 mm tot 50 mm en 50mm tot 75mm - geoes.
"Ons het nog nie genoeg statistieke om te weet watter grootte die gesogste is nie. Die heel kleintjies of heel grotes word geprosesseer of pesto van gemaak. Maar dit is 'n baie klein persentasie," sê De Beer.
'Superkos' bult spiere
Die mark vir super-kossoorte en drankies
groei teen 'n duiselingwekkende spoed,
het die internasionale markanalise-.firma
Datamonitor onlangs bevind.
Luidens die verslag getiteld Super Food and Drinks: Consumer Attitudes to Nutrient Rich Products toets verbruikers toenemend produkte op grond van 'n "supervoedsel"-etiket. In antwoord hierop doen kleinhandelaars hul bes om regdeur die jaar produkte (veral vars vrugte) te voorsien wat gewoonlik net by spesialiswinkels, soos deli's en gesondheidswinkels, beskikbaar was.
Superkos is sekere kossoorte wat as nutrient-kragsentrales beskou word, en waarvan daar hope in elke winkeltrollie en kosblik gelaai behoort te word. Bloubessies, appels, donker sjokolade, hawermout, kiwi's en bone het elk 'n plek op dié lys. Sampioene se superkrag lê in beta-glukeen (wat die mens se immuniteitstelsel stimuleer). Eksotiese sampioene, soos shiitake, enoki, zhuling en reishi, het almal kankerwerende en anti-virale eienskappe.
Volgens die verslag is granate dié supervoedsel van die oomblik - dié vrugte word glo daagliks deur talle hoë-profiel glanspersone geëet. Die toename in produkte met 'n granaatbasis was nie net in Amerika nie. In dié land is 'n groei van 383 % die afgelope twee jaar gesien in die bekendstelling van nuwe granaatprodukte.
In Wes-Europa het dit ook bykans verdriedubbel tussen 2001 en 2006. Groentee-verkope het met meer as 30% in Amerika geklim in dié tydperk.
"Dit is nie net die gesondheidsvoordele van granate en eksotiese bessies (veral goji-bessies) wat help om die opname van meer eksotiese supervoedsels te versnel nie. Soos kopers meer waaghalsig raak met die geure wat hulle uittoets, is die jagtyd oop om die nuwe vrug of bestanddeel te vind wat hul verbeelding in komende jare kan aangryp."
Die verslag waarsku egter verbruikers is baie meer bewus van die belangrikheid van 'n gebalanseerde en gevarieerde dieet, daarom behoort supervoedsels nie as 'n "towerproduk" bevorder te word nie. Slim bemarkers en produsente sal eerder konsentreer op die produk se rol in 'n gesonde, gebalanseerde dieet.
Landbouweekblad, 15 Februarie 2008