In die tradisionele Oos-Vrystaatse produksiegebied was die kersieoeste die afgelope seisoen gemiddeld tot swak. Die nuwer produksiegebied in die Noordoos-Vrystaat het egter beter oeste as in die vorige produksietyd behaal.
Die kleiner oeste en ook die feit dat die kersies die afgelope seisoen later as gewoonlik ryp geword het, het meegebring dat minder van dié vrugte uit die gebied tussen Clocolan en Fouriesburg (Oos-Vrystaat) uitgevoer is. Baie van die boere het, omdat die oes betreklik klein was, nie eens probeer kersies uitvoer nie. Die plaaslike vraag is goed en die prys het op Ficksburg se jaarlikse Kersiefees van R70/kg tot R90/kg gewissel.
Die produksietoestande was in die voorseisoen baie gunstig met genoeg koue-eenhede in die winter. Boere se verwagtinge van 'n belowende oes is later in die blomtyd deur warm westewinde in die wiele gery.
Bestuiwing het wel plaasgevind, maar die bevrugting was swak en bome het vroeg van die vruggies afgespeen. Boere sê dat die oes net sowat 45% tot 50% van die gebruiklike opbrengs opgelewer het. Die produksie was baie wisselvallig ten opsigte van die ligging. In bepaalde boorde was die oes goed, terwyl die drag in ander weer uiters swak was. Die drag van die verskillende kersiekultivars het van plaas tot plaas gewissel en selfs van boom tot boom in dieselfde toestande.
Die bestaande groep kersieboere in die produksiegebiede Clocolan, Ficksburg en Fouriesburg het hul boorde in die afgelope jare nie juis uitgebrei nie. Nuwe toetreders het ook nie in dié tyd in die gebied belê nie. Dié toedrag van sake word waarskynlik veroorsaak deur 'n verandering in die landbou se makro-ekonomie sedert die 1980's waardeur 'n landbouer nie meer grond agt jaar lank onproduktief kan laat lê totdat die bome 'n behoorlike oes kan oplewer nie.
Een van die boere wat steeds vol hoop is vir die kersiebedryf, is mnr. Tommy Wille van die plaas Aletta in die distrik Ficksburg.
Hy meen die Oos-Vrystaatse vrugtebedryf hou steeds 'n toekoms vir hom en sy gesin in, selfs vir sy jongste kleinseun, wat die sewende geslag Wille is wat op die plaas gebore is. Wille aanvaar egter die wisselvalligheid van die bedryf en het selfs die afgelope tyd sy perske- en kersieboorde uitgebrei.
Hy volg 'n sonderlinge benadering tot die kersieboom: " 'n Kersieboom is soos my vrou - dis nie 'n kwessie van verstaan nie. Al verantwoordelikheid wat ek teenoor die boom het, is om dit net lief te hê, anders dra dit nie.
"Die kersie is 'n wonderlike ding, maar jy kan nie sy oes vooruit bepaal nie. Aanvanklik toe die bome begin bot het,was ons almal optimisties. Die bome het ook gelyk geblom, wat kruisbestuiwing bevoordeel. Maar ná die blomtyd was dit teleurstellend om te sien dat die bome van hul vruggies afspeen."
Wille sê met die drag van die vroegste kultivars, is probleme met die oopbars van vrugte tydens die eerste lentereën ondervind. Die vrugtestand op sy plaas was darem bevredigend en die kultivars Bing en Giant Heidelfinger het goed gevaar.
Syfers van 1979 tot 1987 van die destydse kersieproefplaas digby Ficksburg bevestig die wisselvalligheid van die kersie-opbrengs oor die jare. Die vernaamste faktore wat die opbrengs bepaal, is die noodsaaklikheid van genoeg koue-eenhede in die winter en die ongunstige uitwerking van skroeiende westewinde in die blomtyd.
Na gelang van die klimaat kan die gebied se opbrengs van 2 ton per hektaar tot 20 ton per hektaar wissel. "Dit is soms moeilik om die opbrengs te bepaal," sê Wille. "Jy sal in dieselfde boord bome kry wat langs mekaar groei, een met 'n vol drag en die ander bykans sonder vrugte."
In die Noordoos-Vrystaat was die drag aan kersiebome die afgelope seisoen in die algemeen meer as in die vorige produksietyd. Dit was die vierde jaar dat dié gebied,wat van Clarens tot by Reitz oor sowat 80 km strek, se boorde in produksie is. Die sowat ses boere het voor die goeie somerreën begin uitsak het, 'n oes van sowat 80 ton kersies verwag. 'n Beduidende afname was die gevolg met die vrugte wat weens die reën oopgebars het.
Mnr. Kobus du Preez, die pak-bestuurder by die Maluti-vrugtekoöperasie, noordoos van Bethlehem, sê die boere wat kersies aan sy onderneming lewer, is baie positief. "Ons bome begin nou volwasse raak. Ons pakhuis het sowat 85 ton kersies die afgelope seisoen gehanteer, wat sowat 6% meer is as in die vorige jaar. Dit is dieselfde met frambose, ook met genoeg koue-eenhede. Ons is dus baie positief oor 'n goeie oes vanjaar."
Die gebied se kersies is nou in 'n stygende produksiefase. Dit volg nadat boorde van verdwergende onderstamme sewe jaar gelede onder haelnette in die gebied geplant is. Die huidige groep boere is nou in 'n konsolidasiestadium. "Almal wat kersies geplant het, sal 'n besluit neem oor uitbreiding of nie nadat duidelikheid oor die inkomste van die kersieproduksie verkry is," sê hy. Maluti-vrugte lewer kersies aan 'n nasionale kettinggroep en voer ook uit na hoofsaaklik Engeland.
Du Preez is ook een van die gebied se vrugteboere wat benewens kersies, ook appels en frambose vir 'n nismark verbou.
Die betreklik koel toestande van die afgelope somer het die gebied se appeloes bevoordeel. Dit het in die derde week van Januarie begin en word deur die Wes-Kaapse oes sowat drie weke later gevolg.
Mnr. Hans Meiring van Bethlehem, 'n landboukonsultant in vrugteverbouing wat landwyd werk, sê 'n goeie appeloes word vanjaar verwag, want dit is voorafgegaan deur genoeg koue-eenhede die afgelope twee winters met genoeg water om die boorde in die winter nat te lei.
"Ons het 'n goeie winter gehad in alle streke in Suid-Afrika. Die Kaap het goeie reën gehad, wat gunstige vogtoestande meebring en die damme daar is vol. Boorde in die Mpumalanga-hoëveld lyk goed in hierdie stadium, en die Vrystaat ook."
Die skade aan die sagte vrugte in die Suid- en Wes-Kaap is egter nog nie verreken ná die onlangse oorstromings nie.
Du Preez sê boere moet kennis neem van die mark se behoeftes omdat die vraag na gifstofvrye vrugte en biologiese produkte in die toekoms al hoe meer gaan toeneem.
"Die supermarkte in Engeland het reeds die druk in dié rigting laat toeneem. Een van ons plaaslike supermarkte het aangedui dat hy in die toekoms 'n groter deel van sy produkreeks aan organiese vrugte wil afstaan.
"Oor 'n paar jaar van nou af wil hy oorskakel na biologiese produkte. Die mark soek vrugte van 'n goeie gehalte dwarsdeur die jaar. Derhalwe sal boere in Mpumalanga en in die Oos-Vrystaat hul vrugte so vroeg moontlik moet bemark. Wanneer die markte nog ondervoorsien is, word die beste pryse behaal."
Landbouweekblad, 22 Februarie 2008