Soos alom bekend, is baie Suid- Afrikaanse vrugteprodusente bekommerd dat China, met sy massiewe vrugteproduksie, appels, pere, druiwe en ander vrugte op die Suid- Afrikaanse mark kan stort en daardeur die mark kan vernietig.
Dit is egter bloot onmoontlik,want vrugte kan nie, soos klere of skoene, eenvoudig op groot skaal op 'n skip gelaai en na Suid-Afrika gestuur word nie, sê prof.Daan Louw, hoof van Optimale Agri-Besigheidstelsels (OABS) in die Paarl. Vrugte is maklik bederfbaar en om dit in verkoelde toestande van China na Suid-Afrika te stuur, is duur, gespesialiseerd en besaai met risiko's.
Louw het op 'n besoek aan China 'n produksiekosteberaming gedoen en die beraamde kleinhandelprys van ingevoerde Chinese appels in Suid-Afrika (indien dit ooit sou gebeur) ondersoek. Dit help nie om met vae veronderstellings vrees te wek nie - dit was tyd om die ware feite en syfers op die tafel te sit, sê hy.
Die eerste inisiatiewe om marktoegang tot China vir Suid-Afrikaanse sagtevrugte te kry, het al in 1999 begin. Die meeste onderhandelinge het gegaan oor fitosanitêre vereistes - 'n onderwerp wat nie vinnig afgehandel kon word nie.
In Februarie verlede jaar is die finale protokolle onderteken. Daarvolgens mag Suid- Afrika tafeldruiwe na China uitvoer, terwyl China appels en pere na Suid-Afrika kan stuur. Volgens die protokol sal Suid-Afrikaanse appels en pere eers ná 18 maande ná die ondertekening na China uitgevoer kan word - dus so teen die tweede helfte van vanjaar.
Die Chinese mark is ontsaglik groot. As 'n mens van die veronderstelling uitgaan dat sê maar 10% van dié land se bevolking moontlik Suid-Afrikaanse sagtevrugte kan koop, beteken dit reeds 130 miljoen mense.
Die land se arbeidsmag bestaan uit meer as 760 miljoen mense. Sowat 95% van die inwoners is geletterd en die land se ekonomie groei teen 10,5% of meer per jaar. Daar is dus uitstekende markgeleenthede.
Louw meen nie Suid-Afrika moet die ganse Chinese mark in sy visier probeer kry wat vrugte-uitvoer betref nie. As jy jou bloot op die groot stede, soos Shanghai, Beijing, Hongkong en Chongqing, asook die boonste segment van die mark met puik vrugte en ander landbouprodukte toespits, sal baie goeie winste moontlik wees.
Aan die ander kant is baie plaaslike sagtevrugteboere bang vir die "storting" van Chinese vrugte in Suid-Afrika noudat die protokolle die invoer van sulke vrugte moontlik maak.
Maar wat is storting? Louw sê storting vind plaas wanneer een land sy produkte in 'n ander land verkoop teen laer pryse as wat in die land van oorsprong vir die produkte gevra word. Dit is ook wanneer die verkoopprys laer as die produksieprys van die produk is. Die verskil tussen die prys in die land waarin die produk gestort word en die prys in die land van herkoms, word die stortingsmarge genoem.
Louw het tydens sy besoek syfers en data van landboubeamptes en ander landboukundiges in China gekry. Heelwat inligting het ook in gesprekke met ander instansies na vore gekom.
Omdat geen appels op plase in China gepak word nie, is die verpakkings- en produksiekoste te verdeel. Rekordhouding bestaan feitlik nie op Chinese plase nie,wat die ondersoek bemoeilik het. Tabel 1 gee 'n opsomming van appelproduksiekoste per hektaar en per ton in China en Suid-Afrika.
![]()
|
Waar lê die verskille? Louw meen dit is hoofsaaklik weens die plantdigtheid in die boorde, die produksiemetodes en arbeidskoste.
In Suid-Afrika is die plantdigtheid dubbeld dié in China. In China word die meeste arbeid per hand gedoen, teenoor grootliks meganisering in Suid-Afrika. Arbeidskoste hier is dubbeld dié in China.
Verder is daar 'n taamlike groot verskil in die bemestingsmetodes (die Chinese gebruik natuurlike kompos) asook in plaag- en onkruidbestryding. Die Chinesemeganisasiekoste is bykans nul en hul brandstofkoste is ook uiters laag.
In tabel 2 gee Louw 'n opsomming van die produksie- en verpakkingskoste per boks van 10 kg en 12,5 kg. Daaruit blyk groot verskille in die algehele plaasinkomste.
![]()
|
Die pakhuiskoste in China is gemiddeld R26,20 vir 'n boks van 10 kg. Die na-pakhuiskoste beloop gemiddeld R24,39 per boks, blyk uit die ondersoek. Dit beteken die totale koste van die pakhuis tot op 'n skip in Qingdao - die belangrikste vrugteuitvoerhawe in die Shandong-provinsie - is dus gemiddeld R50,59 per boks, sê Louw.
Wat sê dit alles?
Eerstens dat appels nie T-hemde of tekkies
is nie. Die voorsieningskanaal vir vrugte
(appels) is ingewikkeld en die risiko is
hoog.
Tweedens blyk dit uit die berekeninge dat produksie per hektaar 'n groot invloed op koste per ton het. Maar dit sal nie vir China moontlik wees om sy gemiddelde produksie van 14 ton of 15 ton per hektaar op te stoot tot byvoorbeeld 30 ton tot 45 ton per hektaar sonder 'n geweldige verhoging in sy produksiekoste per hektaar nie. Die getal appelbome per hektaar sal opgestoot moet word, plantmetodes en -stelsels sal teen hoër koste op groot skaal aangepas moet word en meganisering sal moet plaasvind, waaronder doeltreffende bespuitings- en oesprogramme.
Hoewel die gehalte van Chinese appels aan die toeneem is, het die land nog 'n lang pad om te stap voordat 'n groot deel van sy appeloes aan internasionale gehaltestandaarde sal voldoen en hy sy uitvoer kan verhoog.
Verder is Suid-Afrika 'n klein mark vir China en ver geleë. Die meeste Chinese landbouleiers en -kenners dink nie dit is haalbaar om appels winsgewend na Suid- Afrika uit te voer nie. Die Suid-Afrikaanse mark vir Chinese Fuji-appels sal waarskynlik grootliks tot die Chinese bevolking beperk wees en dus bloot 'n nismark wees.
Uit die berekeninge is dit duidelik dat die Chinese nie wins sal kan maak uit appeluitvoer na Suid-Afrika nie, want die prys van Suid-Afrikaanse Fuji-appels sal in die grootste deel van die bemarkingstydperk (November tot Januarie) heelwat laer wees as wat dit sal kos om Chinese Fuji's in te voer. Sou Chinese appels uit Shandong in Suid-Afrika vir minder as R9,50 per kg verkoop word, sal dit 'n aanduiding wees dat sulke appels volgens die Wêreldhandelsorganisasie se standaarde wel gestort word.
Daar is beslis goeie geleenthede vir Suid- Afrika, soos vroeër verduidelik ten opsigte van China se groot bevolking. As Suid-Afrika net 10% van sy appeloes na China kan uitvoer, sal dit groot verligting bring in sy tradisionele markte (Europa en Brittanje), wat reeds oorlaai word. Dieselfde geld die plaaslike mark in Suid-Afrika.
As China as bemarkingsgeleentheid nie benut word nie, is 'n wonderlike geleentheid vir die plaaslike sagtevrugtebedryf verby, want dié geleentheid sal baie vinnig deur mededingers aangegryp word, meen Louw.
Bedrywe verskil beduidend
Hoe vergelyk die Chinese appelbedryf met dié van Suid-Afrika?
China produseer 25 miljoen ton appels per jaar, wat 32% van
die wêreldproduksie uitmaak. Vergelyk dit met die naasgrootste
produserende land, Amerika, wat maar 'n "skamele" 4,3 miljoen
ton appels per jaar produseer.
Vir Suid-Afrikaners lyk die Chinese produksiesyfers vreesaanjaend, maar China voer maar sowat 780 000 ton appels per jaar na die res van die wêreld uit (3,1 % van sy produksie).
Daar is sowat 380 miljoen boere wat op klein lappies grond van minder as 0,5 hektaar boer. Dan word daar boonop ook ander landbouprodukte saam met die appels geproduseer.
Suid-Afrika voer jaarliks sowat 305 000 ton appels uit, wat sowat 40% van sy totale produksie uitmaak. Die aantal hektaar onder appelboorde op 'n appelplaas hier is 60 tot 120.
In China word appels met familie-arbeid verbou. Die gemiddelde loon is R25 per persoon per dag. Dit is sowat die helfte van die minimum loon wat in Suid-Afrika betaal moet word. China se arbeidskoste is dus die helfte van dié in Suid-Afrika.
In China word appels grootliks organies geproduseer. Boere gebruik natuurlike kompos. Wanneer hulle wel bespuit, doen hulle dit op klein skaal met rugsakspuite. 'n Tipiese Chinese plasie word gewoonlik met pikke, grawe, vurke, miskien 'n klein trekkertjie en 'n rugsakspuit bewerk. Op party is 'n klein skuurtjie en op ander word die appels ondergronds in tonnelskure opgeberg.
Dit toon duidelik dat die kapitaalbelegging op 'n Suid-Afrikaanse vrugteplaas baie groter as in China is, sê prof. Daan Louw, hoof van Optimale Agri Besigheidstelsels (OABS) in die Paarl.
In China word 'n boer se appels van hom gekoop. Hy het niks met die bemarking daarvan te doen nie. Daarteenoor is Suid- Afrikaanse vrugteboere nou by die bemarking en uitvoer van hul produk betrokke. Hulle is ook ten volle ingelig daaroor. Feitlik ál sowat 730 plaaslike appel- en peerprodusente in Suid-Afrika is bekend met en betrokke by sy produksie-organisasie.
In China se Shaanxi-provinsie alleen is daar 28 miljoen boere. "Hoe organiseer jy soveel boere? Dit is onmoontlik," meen Louw.
Tydens sy besoek aan China het hy besef dat een van die grootste struikelblokke in dié land se appelproduksie die gebrek aan kommunikasie is.
Dit is ook 'n mite dat die Chinese regering die kleinboere op groot skaal subsideer. Volgens die Produsente-Ontledingsindeks (POE) word Chinese boere omtrent 7% deur hul regering ondersteun, teenoor Suid-Afrika se gemiddelde 5 %. Die enigste verskil is dat Chinese boere sedert 2006 van belasting vrygestel is in 'n poging om landelike gebiede vinniger te help ontwikkel.
"Hoe subsidieer enige regering 380 miljoen boere sonder om dadelik bankrot te raak?" vra Louw.
'n Verdere faktor om in gedagte te hou, is die feit dat die Chinese appelopbrengs in dié stadium maar gemiddeld sowat 15 ton per hektaar is, teenoor Suid-Afrika se gemiddelde 55 ton per hektaar.
Die Chinese is egter besig om hul appel- en peerbedryf op groot skaal te moderniseer, soos in vorige uitgawes van Landbouweekblad berig is.
Landbouweekblad, 22 Februarie 2008