Landbou
Duitsers soek SA vrugte
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

'n Gesant van een van Europa se grootste vrugtebemarkers, Direct Fruit Marketing (DFM), het op 'n onlangse besoek aan Suid-Afrika net een boodskap vir boere gehad: "Ons kry nog te min van jul vrugte."

Die DFM bedien die Duitse supermark Rewe. Hierdie kleinhandelreus het 'n omset van meer as 2 miljard Euro (1 Euro = R11) en 14% van sy totale voedselmandjie bestaan uit vars vrugte.

Mnre. Günter Raack, Klaus Pape (albei van die DFM) en Hubert Merzbach en Oskar Zwirner (albei van Rewe) was in Suid-Afrika om met druiwe-, steenvrugte-, appel- en peerboere te gesels.

"Ons kom elke jaar net voor die produksietyd van druiwe, steen- en sitrusvrugte om aan boere en uitvoerders te verduidelik wat ons van hulle verwag. Ons gee ook terugvoering oor ontwikkelinge in die Duitse mark, soos nuwe neigings ten opsigte van kultivars, groottes, verpakking en tydigheid.

Ons kom hierheen om dit vir die bron self te vertel," het Pape aan Landbouweekblad gesê.

Hierdie keer het hulle Suid-Afrika ook besoek om gehalteversekeringskwessies en die naspeurbaarheid van vrugte (soos dit deur Duitse verbruikers verlang word) te bespreek.

'n Onlangse veldtog deur 'n bekende organisasie wat hom vir omgewingsbewaring beywer, het veral die tafeldruifmark 'n vuishou toegedien. In die smeerveldtog is huisvroue wysgemaak druiwe is giftig (weens die hoë residu-vlakke wat op 'n spesifieke besending van druiwe van 'n Europese Unie-land gevind is).

"Ons is egter oortuig dat die maksimum residuvlakke op vrugte van ons verskaffers in Suid-Afrika aan die voorskrifte voldoen. Die bestuur van residuvlakke in Suid Afrika is meesal goed. Ons kan egter nie altyd dieselfde sê van ander lande in die Suidelike Halfrond nie.

"Daar is 'n gevoeligheid onder alle Duitse kleinhandelaars oor chemiese residuvlakke weens die rampspoedige gevolge wat dit verlede jaar vir sommige van hulle veroorsaak het. Die invoerder en kleinhandelaar wil nou seker maak hulle verkoop veilige vrugte aan die verbruiker," het Pape gesê.

As deel van die versekering wat kleinhandelaars aan hul kopers wil gee, het Rewe self na hul verskaffers se boorde kom kyk om eerstehandse kennis op te doen.

"Die vrugte wat Suid-Afrika uitvoer, se maksiumus residuvlakke is laer as die voorgeskrewe vlakke vir die Europese Unie. Ons moet dit aan verbruikers beklemtoon," het Pape gesê.

Alle boere wat vrugte aan die DFM lewer, het 'n ooreenkoms onderteken. Hierin erken hulle hulle voldoen aan die nodige voedselveiligheidsvereistes, soos vervat in Hassap en GlobalGap.

Pape en Raack was veral beïndruk met die uitmuntende produksie-, verpakkings-, en uitvoergeleenthede in Suid-Afrika. "Ons is uiters tevrede met die programme, stelsels en prosedures wat met almal bespreek is. Met die samewerking tussen ons sleutel-produsente en ander betrokkenes in die vrugtebedryf verwag ons om aan te hou groei in ons langtermynverhoudings en om Suid-Afrikaanse vrugte van 'n goeie gehalte in supermarkte in Duitsland te verkoop."

Benewens die gehalte-versekering is daar ook etniese kwessies wat in ander lande in die Suidelike Halfrond voorkom wat nie op Suid-Afrika van toepassing is nie. Pape sê die Duitse verbruiker is baie besorg oor kinderarbeid en plaaswerkers se welstand.

"Hulle wil weet daar word in plaaswerkers se basiese behoeftes voorsien - dat hulle 'n huis, beddens, lopende water en 'n skool vir hul kinders het. Ek weet in Suid- Afrika word dit op die meeste plase voorsien. Wieta, Sedex en Hassap vereis dit in elk geval."

Op die vraag of Duitse verbruikers begaan is oor swart ekonomiese bemagtiging het Pape ontkennend geantwoord. Rewe en die DFM se gereelde besoeke is ook deel van 'n strategie om die vennootskap tussen supermarkte en produsent-uitvoerders te versterk.

Die kleinhandelaars en invoerders het nou 'n beter begrip van Suid- Afrika en verbruikers kan dus verseker wees dat die vars produkte op hul rakke 'n veilige oorsprong het en van gehalte is. Terselfdertyd kan hulle ook Duitse verbruikers se terugvoering, soos watter verpakking en grootte hulle verlang, aan plaaslike boere oordra.

"Die terugvoering en gesprekke met boere is baie belangrik sodat almal weet wat verwag kan word."

Pape sê daar word jaarliks miljoene kar- tonne Suid-Afrikaanse vrugte na Duitsland uitgevoer.

"Ons stel ook belang om die DFM se programme en volumes in Suid-Afrika konstant te laat groei - ons soek nóg meer vrugte van Suid-Afrika. In die ander dele van die Suidelike Halfrond is daar baie meer hoofbrekens om mee rekening te hou en daarom kyk ons na Suid-Afrika vir markontwikkeling. Suid-Afrika kweek ook vrugte van 'n goeie eksterne en interne gehalte en boonop dryf Europa ál meer as honderd jaar lank handel met Suid-Afrika.

"Steenvrugte, soos appelkose en pruime, en alle kultivars tafeldruiwe, veral pitlose druiwe, is gesog."

Pape sê hulle sal ook meer Golden Delicious-, Granny Smith- en Royal Gala-appels verwelkom. Wat sitrusvrugte betref, is daar 'n spesifieke vraag na Star Ruby-pomelos en Midnight-, Navel-, Valencia- en Delta-lemoene.

"Natuurlik stel ons ook belang in organiese produkte; daar is 'n besliste vraag daarna in Duitsland. Rewe het 'n spesiale afdeling wat hierdie produkte aanhou.

Tans verdien organiese produkte 'n premie, maar dit sal nie altyd so bly nie."

Hy sê organiese produkte moet aan sekere fitosanitêre vereistes, soos neergelê deur die Duitse regering, voldoen.

Wat vruggrootte betref, verlang die Duitsers medium- tot groot vrugte, hoewel daar ook 'n mark vir kleiner vrugte is.

"Elke kleinhandelaar hou 'n reeks produkte aan. As die pryse te hoog is vir groot vrugte, sal hulle meer mediumvrugte op hul rakke uitstal."

Pape meen regstreekse verskaffing deur die boer aan die kleinhandelaars sal in die toekoms groot nuus in Duitsland wees,met 'n bemiddelaar op eie bodem en een aan Duitse kant.

Hy en mnr. Marius Deyzel, hoof uitvoerende beampte van Mardell Agencies wat spesialiseer in in- en uitvoer, stem saam dat die generiese bemarking van Suid-Afrikaanse vrugte oorsee, veral in Europa, moet verdubbel.

"Ons moet bewus wees van die medium- en langtermyngeleenthede wat voorlê en dit benut. Suid-Afrika moet nuwe kultivars bemark, soos dit in Nieu-Seeland gedoen word," sê Deyzel.

"Die mees gesogte verskepingsroete vir ons vrugte is om Noord te gaan. Die Ooste en Weste is so ver weg, dus is dit sinvol om ons vrugte na Europa te stuur.

"Europa gaan ál belangriker vir ons raak danksy die dinamika wat ons met die geldeenhede het. Boere verdien euro's, wat tans 'n sterker en bestendiger eenheid teenoor die rand en Amerikaanse dollar is. Die skeepsvragkoste na Europa word in dollars betaal, maar die verdienste is in euro. Ons betaal dus minder vir seevrag en verdien meer rand per karton."

Landbouweekblad, 29 Februarie 2008