Vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is aksyns 'n maklike, goedkoop manier om 'n groot klomp belasting in te vorder, maar vir kelders, wat die meeste van dié belasting betaal, is dit miljoene rand wat oorbetaal word sonder dat hulle iets in ruil daarvoor ontvang.
Aksyns is wêreldwyd 'n fiskale belasting, 'n manier om inkomste vir regerings te genereer, maar ook regerings se poging om die gebruik van alkohol en tabak te ontmoedig. Trouens, mnr. Trevor Manuel, Minister van Finansies, het onlangs in sy begrotingsrede opgemerk dat verhogings in die aksyns op alkohol en tabak nodig is om "verbruiksgewoontes" van dié produkte te temper.
Volgens die Suid-Afrikaanse Wynbedryfinliging en -stelsels (Sawis) het die Suid-Afrikaanse Regering in 2006 meer as R3 miljard aan aksyns en belasting op toegevoegde waarde (BTW) op wyn en sterk drank verdien. Produsente-inkomste vir daardie jaar was R2,61 miljard.
Dr. Johan van Rooyen, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Wynbedryfsraad, sê in die lig daarvan behoort die Regering die wynbedryf met navorsing, die versameling van bestuursinligting, transformasie en die bevordering van wynbemarking in die buiteland te ondersteun.
"Die bydrae wat aksyns tot die Regering se inkomste lewer, bied 'n regverdige basis om aansienlik meer geld in die bedryf terug te ploeg."
Op die vlak van produsentekelders is daar 'n ander knelpunt. Mnr. Abrie Botha, voorsitter van VinPro en Namaqua Wines, meen die manier waarop aksyns op wyn gehef word - op die verpakkingsvolume eerder as op die waarde (lees die bygaande berig "Rand en sent") - plaas proporsioneel 'n groter las op kelders wat groot volumes wyn teen laer pryse verkoop.
Sy maatskappy betaal reeds R45 miljoen per jaar aan aksyns. Dit is 'n bedrag wat, volgens hom, beslis 'n verskil aan die uitbetaling aan boere maak.
Die verhoging in aksyns kom ook op 'n tydstip van verdiepende finansiële druk op druiweboere. Botha sê die nuutste aksynsverhoging van 7,3% op natuurlike wyn en 11% op sterk drank bring die totale verhoging in aksyns die afgelope vyf jaar op onderskeidelik 105% en 72% te staan. In dieselfde tyd het die gemiddelde druiweprys met meer as 30% gedaal.
Mnr. Herman Fourie, 'n senior bestuurder in die ouditeursfirma Pricewaterhouse- Coopers se afdeling vir doeane en aksyns en buitelandse handel, sê die meeste Europese lande hef aksyns op 'n volumegrondslag.
In teorie kan die grondslag waarop aksyns op wyn gehef word, sekerlik na 'n ad valorem-grondslag verander word. Dit sal egter 'n gemotiveerde aansoek van die ganse wynbedryf aan die SAID se doeane- en aksynsafdeling en die Kommissie vir InternasionaleHandelsadministrasie (Itac) verg.
As dit slaag, kan die proses om 'n afsonderlike tariefpos te skep, drie maande tot nege maande duur, sê Fourie.
Hy dink nie die betaling van aksyns sal van kelders na ander verkopers van wyn en brandewyn verskuif word nie. Eweneens sal die wynbedryf sy saak by Itacmoet gaan motiveer as hy reken belastinggeld kom hom vir bedryfsaksies toe.
Die kelders is egter nie die enigste verloorders as dit by aksyns kom nie. Die Provide-projek, wat deur die Departement van Landbou en sy Wes-Kaapse eweknie gefinansier word, ontleed die uitwerking wat verhogings in aksyns op die land se ekonomie het. Volgens berekeninge wat in 2006 deur dié projek se span ekonome gemaak is, sal 'n verhoging van 10% in aksyns die volgende uitwerking hê:
Die verhoging in die aksyns op wyn en sterk drank is nie heeltemal 'n eensydige regeringsaangeleentheid nie. Mnr. Riaan Kruger, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse vereniging vir die eienaars van drank-handelsmerke (Salba), spreekbuis vir die vervaardigers en verspreiders van drank, sê die drankbedryf tree jaarliks met die Regering oor aksyns in gesprek.
"Die verstandhouding is dat as teikens van belasting van 23%, 33% en 43% op onderskeidelik wyn, moutbier en sterk drank bereik is, sal daar verder net inflasiegerigte verhogings wees. Ons besef ons sal nie aksyns afgeskaf kry nie. In ons gesprekke met die Regering probeer ons verseker dat aksyns nie só hoog is dat dit verkope beperk nie."
Manuel is klaarblyklik aan Salba se kant op dié punt. Tydens die SA Wynbedryfsraad se Vryheidsdaglesing verlede jaar het hy gesê hy het simpatie met die wynbedryf se standpunt dat aksyns op wyn "buitensporig" is. Hy het egter ook gewaarsku dat ministeriële simpatie dikwels nie 'n teenwig vir die gewigtige advies van fiskus-amptenare bied nie.
Rand en sent
Die verhogings in aksyns vir die 2008/'09-belastingjaar sluit in 12c (7,3%) op 'n bottel
wyn van 750 milliliter, 5c (7%) op 'n blik bier van 340 milliliter en R2,17 (11%)
op 'n bottel sterk drank, soos brandewyn, van 750 milliliter. Dit bring die aksyns op
wyn op R1,84 per liter te staan. Op sterk drank beloop die aksyns nou R67,72 per
liter absolute alkohol en op vonkelwyn R5,63 per liter.
Dit beteken dat die verkoper van 'n bottel wyn van 750 milliliter wat R20 kos, byna 7% daarvan aan belasting moet afstaan, teenoor die 0,5% wat die verkoper van 'n bottel wyn van R260 moet betaal.
Die aksyns op alkoholiese drank word verhoog in ooreenstemming met die Regering se beleidsbesluit om die teiken te bereik van 'n totale belastinglas (aksyns en belasting op toegevoegde waarde) van 23%, 33% en 43 op onderskeidelik wyn, moutbier en sterk drank.
Landbouweekblad, 21 Maart 2008