Landbou
Nuwe middelklas vra meer groente
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

Sommige groentesoorte het baat gevind by die snelle groei in die middelklas, terwyl ander, soos kopkool, die wind van voor gekry het.

Volgens mnr. Nico van Rensburg, nasionale verkoopsbestuurder van die saadmaatskappy Starke Ayres, is wortels een van die gewasse wat die gewildheidsleer geklim het namate Suid-Afrikaners se besteebare inkomste meer geword het. "Die verbruik van wortels het verdriedubbel," het hy op die maatskappy se boeredag op die Oostenberg-proefplaas naby Stellenbosch gesê.

Hy skryf dit toe aan verskeie redes: Die gehalte van wortels, verbeterde boerderypraktyke, beter verpakking en groter beskikbaarheid op winkelrakke.

"En dan natuurlik die ekonomie in Suid- Afrika. Eetpatrone het verander en wortels is een van die gewasse wat daarby baat gevind het. Kool het nie."

Volgens hom is net drie gewasse gewilder as wortels by Suid-Afrikaanse verbruikers. Aartappels is die gewas wat die meeste geëet word, gevolg deur tamaties en uie. Wortels kom deesdae in allerhande gedaantes voor. Selfs die kieskeurigste verbruiker kan tevrede gestel word. Voorafverpakte en verwerkte wortels is veral gewild.

Boere wat wortels plant, kan waarde toevoeg deur dit in dun repies te laat kerf (julienne), baba-worteltjies te kweek of ronde wortels te laat sny.

Hoewel die oorsese markte deesdae weer na groente en vrugte se oorspronklike kleure neig, is wortels deesdae ook in roomkleur (Creme de Lite), rooi en geel beskikbaar.

"Verpakking word eerder gebruik om produkte interessant te maak," sê Van Rensburg oor die neiging.

Die saadmaatskappy het op sy boeredag 31 geelwortelkultivars vertoon. Minstens drie hiervan is vanjaar bekend gestel.

Mnr. Bryan Featenby-Smith, besturende direkteur van Starke Ayres, sê die maatskappy se telingsprogram het veral die afgelope paar jaar voorrang geniet. "Ons materiaal het die afgelope sewe jaar werklik op straat verskyn. Ons het baie moeite met plaaslike teling gedoen."

Geelwortels
STAR 3006 is steeds die internasionale standaard vir alternaria-weerstand by wortels en word op groot skaal vir bevriesing en versapping gebruik. Dit is 'n donkerkleurige wortel met goeie eenvormigheid en 'n sterk lof-aanhegting. Die kultivar vereis egter goeie waterbestuur om te voorkom dat dit hard word.

Maestro is die verbetering op STAR 3006. Dit is die maatskappy se basterkultivar waarvan die meeste saad verkoop word. Die wortel het 'n beter en meer egalige kleur en is effens kleiner as STAR 3006.

Maestro kan al in Augustus en September gesaai word (Oktober tot einde Februarie word aanbeveel), maar dan moet 3% tot 5% saadskiet in Desember verwag word.

Nog 'n ou gunsteling uit Starke Ayres se wortelbedding is Laguna. Dit is 'n Nederlandse hibriedmet 'n kleiner lob. Dit is geskik om in die somer in die Kaap en in die Noorde van Maart tot Augustus gesaai te word.

Van Rensburg sê Laguna het 'n "baie hoë uitpak", maar is gevoelig vir alternaria. As dit meganies geoes word, word die kanse vir alternaria egter beperk.

Laguna se alternaria-probleme is die hoof gebied met 'n splinternuwe kultivar: CA 651. Hierdie wortel is soortgelyk aan Laguna, maar het die alternaria-weerstand van Maestro. "CA651 het 'n baie sterk aanhegting, wat gaan help as produsente meganies wil oes. Dit maak dus 'n lekker verskil, veral as jy arbeidsprobleme het."

CA 628 sal in Januarie 2009 in kommersiële hoeveelhede beskikbaar wees. Dit duur 'n bietjie langer om oesgereed te raak, maar gee 'n goeie opbrengs. Dit is 'n groter wortel en is dus veral geskik as bossies vir die varsmark of groot voorafverpakkings.

CA 637, die derde nuwe hibried, het 'n mooi kleur en leen hom veral tot versapping en verwerking.

Onder die Imperator-tipes is Topcut 'n opwindende kultivar. Volgens Van Rensburg is die Amerikaners gaande oor Topcut en wend hulle dit veral aan vir verwerkte ronde wortels of baba-wortels.

Topcut verskil van sy voorganger Primecut deurdat dit korter en meer silindries is. "Jy het dus 'n groter verhaling as jy gesnyde en geskilde wortels produseer," sê Van Rensburg.

Murgpampoentjies
Wat murgpampoentjies betref, sê mnr. Frikkie Bam, verkoopsbestuurder vir die noordelike streke, is kleur die groot kwessie. "Nou wil almal murgpampoentjies so donker as moontlik hê. Maar hoe ligter die murgpampoentjies, hoe groter is die opbrengs. Die rede is siektebestandheid. Ons het verskillende tipes vir verskillende tydgleuwe. Die plaaslik geteelde murgpampoentjies is net so goed soos die ingevoerde kultivars."

STAR 8021 en STAR 8023 is nuwe hibried- murgpampoentjies. STAR 8021 het 'n medium-donkergroen kleur en word vroeg ryp. Dié hibried het hoë opbrengspotensiaal en is bestand teen die ZYMV-viruspakket. STAR 8021 is bedoel vir 'n dubbele mark: Verwerkers en die varsmark sal hom opraap.

STAR 8023 is 'n blinker groente met uitstekende silindriese vorm en 'n klein raamwerk, korter blaarstingels en 'n hoë oespotensiaal. STAR 8023 is beskikbaar met 'n volledige virusprogram.

STAR 414 is weens die langer lengte hoofsaaklik gemik op die verwerkersmark. Wat dié kultivar uniek maak, is die gladde, lang blaarsteel. Die vrugte pluk dus makliker, want daar is nie fyn dorings wat arbeiders steek nie. Dit kneus ook nie so maklik nie.

Spanspekke
Volgens me. Julia Thorpe, nasionale bestuurder van rankgewasse, het Starke Ayres 'n "enorme reeks spanspekke", want elke mark het sy eie vereistes. "Ons is baie gefokus op die verbruiker se behoeftes, en dus baie markspesifiek."

STAR 8819 val in die ou Athena-kategorie, maar het verbeterde eienskappe wat ontwikkeling aanbetref, byvoorbeeld kleiner saadlobbe, beter netontwikkeling en 'n langer raklewe.

STAR 8818 is 'n Amerikaanse kultivar met 'n vroeë Brix-ontwikkeling. Die spanspek se nate is goed ontwikkel, wat dit ideaal maak vir verbruikers wat dit in skywe wil sny. Die vrug spog ook met 'n verlengde raklewe, wat dit geskik maak vir die plaaslike en verwerkingsmark.

Wat spanspek-hibriede betref, bied die maatskappy die splinternuwe Magisto, Magritte en Magenta. Al drie voldoen aan Woolworths se vereistes en is ook geskik vir die uitvoermark.

Honey STAR, Esmerelda en Gilat is die nuwe groen spanspekke. Honey STAR het 'n verbeterde weerstand teen poeieragtige meeldou en danksy die ferm vleis ook 'n lang raklewe.

Esmerelda is spesiaal geteel om met skeepsvrag uitgevoer te word. Dié spanspek behou sy groen kleur baie langer en is ook effe kleiner (die vrugte weeg tussen 0,8 kg en 1,2 kg). Dit is ideaal vir die ontbyt-, uitvoer- en supermark.

Waatlemoene
Thorpe sê die mark vir pitlose waatlemoen toon groot potensiaal. "Dit lyk dikwels mooier, het 'n langer raklewe en is ook soeter. Die geel waatlemoene het waarde as nuwighede. Dit trek aandag. Die deursnee verbruiker hou daarvan as sy voete onder hom uitgeslaan word."

Sy sê weens die sterk kleurkontras teel hulle nie geelwaatlemoenmet pitte nie. "Ek is oortuig die pitlose mark sal groei. Daar is nou 'n paar honderd hektaar geplant en baie supermarkte het nog nie pitlose waatlemoene op hul rakke nie."

Die kleiner, pitlose waatlemoen is geskik vir die uitvoermark, terwyl die groter vrugte plaaslik verbruik word.

Passion is 'n pitlose basterwaatlemoen wat ongeveer 85 dae tot 90 dae neem om geoes te word. Die skil is donkergroen, sonder enige strepe en die vleis 'n dieprooi.

Passion is uiters geskik om vervoer te word en sal geskikwees vir die varsmark, supermarkte, verwerkers en uitvoer.

Kropslaai
Die welbekende slaai-kultivar Commander se jonger boetie Commandant bied goeie weerstand teen entbrand. Die kitskosreus McDonalds het reeds aangedui hy hou van dié kultivar. Dit lewer 'n ferm kop met 'n goeie gewig (tussen 700 g en 950 g).

Pampoene
Mnr. John Herbert, produkbestuurder, sê daar is 'n uitvoermark vir botterskorsies, veral na Spanje.

Dié markte soek groente wat nie meer as 1 kg elk weeg nie. M0730 weeg 800g tot 900g. Hoewel proewe nog aan die gang is, sê Herbert dis 'n soet groente wat sonder suiker geniet kan word.

Anders as STAR 7022 is die verbetering daarop, STAR 7026, se vleis baie hard. Die pampoene kan daarom maklik opgeberg word. Dit is nuttig wanneer die pryse nie gunstig is nie. Boere kan dan voorraad terughou en dit later bemark. Die vrug se saadholte is klein, dit is 'n semi-bostipe en die opbrengs is uitstekend.

STAR 7027 is soortgelyk aan STAR 7026, maar dit is 'n rankplant wat kleiner vrugte gee. Volgens Herbert het dit 'n baie sterk viruspakket (geskik vir die virusdruk in Noord-Natal) en harde vleis.

Nuwe kultivars en hibriede vir tamaties, soetrissies, brandrissies, mielies en brassicas is ook beskikbaar.

Landbouweekblad, 21 Maart 2008