Landbou
SA avo's nog meer gesog
Deur ANDRIES GROENEWALD (agroenew@landbou.com)

"Op die uitvoer- en die binnelandse markte beleef ons 'n groter vraag na avokado's, wat gekoppel is aan volhoubare, winsgewende opbrengste," sê mnr. Don Westcott, voorsitter van die Suid- Afrikaanse Avokadokwekersvereniging (SAAKV).

Westcott het tydens die SAAKV se jaarvergadering by Magoebaskloof naby Tzaneen gesê 'n voorbeeld van volgehoue goeie pryse die afgelope seisoen was die sowat 1,2 miljoen bokse (4 kg) avokado's wat tussen weke 20 en 29 op die Europese markte van die hand gesit is sonder dat die prys ineengestort het.

Dit is te danke aan goeie volume-koördinering tussen agente asook die volgehoue internasionale kommunikasie oor die totale volumes wat die onderskeie produsentelande gaan aanbied. Danksy hierdie aksies, waarby die SAAKV jare reeds 'n leidende rol speel, is 'n situasie geskep waarin die Europese vraag na avokado's gehandhaaf is, uiters beperkte voorraad opgebou het en die bruto verkoopprys op 'n winsgewende vlak gebly het.

"'n Mens hoef net te dink aan 'n paar jaar gelede toe 700 000 bokse per week voldoende was om die Europese mark te oorlaai met rampspoedige finansiële gevolge vir Suid-Afrikaanse boere," sê Westcott.

In die 2007-seisoen is 9,4 miljoen bokse uitgevoer teenoor die 8,9 miljoen bokse wat in 2006 verskeep is. Weens rypskade laat in Mei het die bedryf 'n geskatte 500 000 tot 600 000 bokse verloor. As hierdie verlies in berekening gebring word, beteken dit dat Suid-Afrika se uitvoer-avokado-oes meer as 10 miljoen bokse kon wees.

Wat die plaaslike markte betref, toon beskikbare statistieke dat 5 miljoen bokse in 2007 verkoop is teenoor die 5,1 miljoen bokse wat in 2006 aangebied is. Hierdie syfers sluit volumes uit wat regstreeks aan kleinhandelaars, die informele sektor en verwerkers gelewer is.

As hieruit afgelei word dat die plaaslike mark sowat 50% van die totale volume uitmaak, beteken dit dat Suid-Afrika se totale avokadobedryf sowat 80 000 ton of 20 miljoen bokse verteenwoordig. En dit beklemtoon die groei in en die toenemende belangrikheid van die plaaslike marksektor. Die afgelope seisoen was ook die eerste keer dat nie met skeptisisme gekyk is na die kultivar Hass as "fabrieksgraad"-vrugte nie, want dit was uiters gesog by die informele marksektor.

Volgens Westcott het die SAAKV se generiese promosieveldtogte en markontwikkelingspogings die volgende voordele ingehou:

  • In Brittanje is promosiewaarde van R19,4 miljoen bewerkstellig deur R1,8 miljoen te bestee. Marknavorsing dui aan dat die persentasie Britte wat bewus is van avokado's en dit eet, toegeneemhet van 16% in 2001 tot 27% in 2007.

  • 'n Beperkte promosieveldtog in Frankryk waaraan R300 000 bestee is, het tot advertensiewaarde van R2 miljoen gelei.

    Met avokadoverbruiksyfers van 34 g per kop in Rusland, 150 g in Duitsland, 500 g in Brittanje en 1 380 g in Frankryk het die bedryf nog 'n lang pad om uit te kom by die 3,5 kg per kop in Chili, 4 kg in Israel en 8 kg in Mexiko.

    Tydens die internasionale bemarkings- en promosiewerkgroep se vergadering verlede jaar in Chili is besluit om ondersoek in te stel na 'n moontlike promosieheffing per boks avokado's wat die lidlande van die Europese Unie bereik. Hierdie beginsel is gegrond op 'n model van Amerika waar verpligte heffings op vrugte uit Suid-Amerika suksesvol ingestel is. Met die heffing is promosieveldtogte gevoer, die verbruik van avokado's verhoog en die winsgewendheid van die bedryf verbeter. Die toepassing daarvan op die EU-markte word bespreek.

    Op Suid-Afrikaanse bodem het R600 000 wat aan 'n bewusmakingsveldtog bestee is, tot advertensiewaarde van sowat R4,5 miljoen gelei. Met 'n plaaslike verbruik van 850 g per kop meen die SAAKV daar is nog ruimte vir markontwikkeling.

    Die SAAKV se veldtog teen onvolwasse vrugte op markte vroeg in die seisoen vorder flink. Dit bestaan uit 'n opvoedings- en 'n bewusmakingsprogram asook fisieke inspeksies op die varsproduktemarkte saam met die Departement van Landbou en die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte. Die hoofdoel van hierdie veldtog is om verbruikersweerstand te voorkom en om avokado-bewusmaking en -verbruik in Suid-Afrika te bevorder.

    Subtrop, die betreklik nuwe oorkoepelende kwekersvereniging vir die avokado-, lietsjie-, makadamia- en mangobedryf, het sy voete ná die eerste jaar goed gevind. Dit bedien die bedrywe deur voorligtingsbeamptes wat aan spesifieke streke toegewys is, interaksie met boere deur studiegroepe, persoonlike kontak en die media.

    Deur Subtrop word opkomende boere met gereelde vergaderings ondersteun. In die Levubu-gebied bestaan reeds goeie interaksie tussen opkomende en kommersiële avokadoboere. Subtrop sal oor die volgende twee seisoene praktiese handleidings vir opleiding saamstel.

    Die SAAKV ondersteun avokado-navorsing om te verseker dat die bedryf op die snypunt bly van aspekte soos produksie, verpakking, en die na-oes- en logistieke fasette van die bedryf.

    As gekyk word na neigings in globale avokadoproduksie is die ontwikkeling en die ontsluiting van nuwe markte vir die vereniging 'n voorrangsaak.

    Daar word veral aandag gegee aan marktoegang tot Amerika waarvan baie van die vereistes vir die protokolle waarskynlik ook vir toegang tot ander lande ingespan kan word.

    In die 2006/'07-seisoen is 250 000 ton avokado's aan markte in die EU gelewer teenoor die rampspoedige 1998/'99-seisoen toe 120 000 ton gelewer is. Vanjaar (2008) word verwag dat 210 000 ton gelewer sal word weens rypskade in Chili en Israel, sê Westcott.

    Landbouweekblad, 18 April 2008