Ná milde reën dra Oudtshoorn se veld 'n uitspattige blommejas. So ver die oog kan sien, pronk skurwe Karookoppies in die kleurige weelde van aalwyn, klapperbos, wilde granaat en ysterhout. Dié wêreld spog selde met só 'n kleurkaleidoskoop, vertel gebore inwoners. Tog sorg 'n plaaslike boervrou se snyblombedryf vir 'n voortdurende spatsel kleur in dié andersins vaal uitgestrektheid.
Eintlik is alles te danke aan die wilde stekelrigheid van 'n volstruiskuiken. Want dis haar renons in die blote gedagte om haar dae met die grootmaak van dié temperamentele voëls te verwyl, wat Julia Terblanche van die plaas Leeublad, Oudtshoorn, oorreed het om erns met haar eertydse studierigting te maak.
"Die meeste boervroue wat hier hul eie ding doen, is by die volstruisbedryf - gewoonlik die grootmaak van volstruiskuikens - betrokke. En daarvoor het ek nie kans gesien nie! Danksy my studierigting het ek 'n bietjie agtergrond oor blomme gehad, en besluit om snyblomme te begin kweek."
Waar ons tussen die amper menshoogte inkalelies slenter, bak sy haar hand teen die son, want die eerste voorsmakie van 'n bloedige Oudtshoornse somer is reeds in die lug.
"Die hitte hier is ons grootste vyand. Daarom pluk ons soggens reeds teen 06:00 die blomme vir bestellings. As die son omstreeks 08:00 in volle glorie begin bak, moet ons klaar wees."
Hoewel 'n snyblomboerdery in normale omstandighede 'n uitsonderlike gesig op 'n Karooplaas behoort te wees, vorm die kleurbedekte heuwels op die gesigseinder 'n ideale agtergrond vir die lappe kweekblomme. Daar word gespog dat meer as 310 mm reën sedert Mei in dié omgewing geval het - 'n gulle gawe teenoor die jaarlikse kwota van tussen 200 en 250 mm.
Toegerus met 'n B.Sc.-graad, twee jaar se praktiese werk op 'n roosplaas in Franschhoek en ondervinding op onderskeidelik 'n snyblomplaas in Frankryk en 'n krisanteplaas in Holland, is dit nie vreemd dat Julia 'n groot sukses van haar blomkwekery maak nie.
Boonop was haar man, Bennie, 'n steunpilaar deurdat hy die grond beskikbaar gestel het waarop sy 'n begin kon maak, 'n besproeiingstelsel geïnstalleer het en ook deurentyd raad gee oor die toediening van kunsmis en gifstowwe.
"Ek het maar so voel-voel begin omdat ek eers wou kyk waarheen dinge ontwikkel. Maar ná twee jaar weet mense van my blomme. Ek lewer twee keer 'n week bestellings in Oudtshoorn en verskaf ook vars blomme aan drie winkels en etlike gastehuise, haarsalonne en restaurante in die dorp."
Sy is trots op die feit dat sy met haar oënskynlik beskeie bedryf vyf mense - vier vroue en 'n man - van werk kan voorsien. Een van die vroue, vir wie sy geleer het om bosse blomme vir bestellings te sorteer en te bind, het reeds haar onmisbare regterhand geword.
Aanvanklik het dit fyn beplanning gekos om te sorg dat haar voorraad blomme in die vraag kon voorsien.
Maar sy het gou geleer om elke maand variante soos sonneblomme en stachys te plant en só vir 'n voortdurende stroom snyblomme en loof te sorg. Vir tye wat die aanvraag besonder groot is, of sy nie in 'n spesifieke behoefte kan voorsien nie, bestel sy blomme uit Johannesburg of van 'n blomplaas in die distrik Knysna.
"Dit gebeur gewoonlik op tradisioneel gewilde dae in die blombedryf soos Valentyns-, Sekretaresse- en Lentedag en gedurende Kersfees, die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en vakansietye wanneer die meeste mense gaste in hul huise onthaal. Voornemende bruide klop ook hier aan om blomme vir hul troue te bestel. Dit kos soms fyn beplanning om voldoende voorraad gereed te hê. En dit baat nie om 'n week voor of ná die tyd massas blomme te kan verskaf nie. As jy nie op 'n gegewe tyd in jou kliënte se behoeftes kan voorsien nie, verloor jy jou mark," sê Julia.
Die afgelope seisoen het sy 'n duisend bosse freesias - dertig stele per bos - en dieselfde hoeveelheid inkaleleis gelewer. Tydens die jaarlikse KKNK in Oudtshoorn lewer sy ook dikwels 'n duisend bosse gemengde snyblomme.
Sy plant in die winter hoofsaaklik irisse, ixias, freesias, ranonkels, Geraldton-wasplante en papawers, terwyl Sint Josefs- en swaardlelies in die somer voorkeur kry. Daar word ook voorsiening gemaak vir 'n verskeidenheid loof soos katoog, hypericum, ridderspoor en delphiniums.
Die net meer as 'n hektaar grond waarop sy haar blombedryf begin het, het intussen met etlike hektaar uitgebrei. Die huis se spaarkamer, wat aanvanklik as sorteerkamer moes dien en waar Julia ook bosse blomme vir bestellings moes bind, het nie net plek gemaak vir 'n volbloed-sorteerkamer nie, maar boonop is 'n koelkamer aangebou waar blomme voor aflewering gebêre word om langer vars te bly.
Soos in enige sake-onderneming, gaan alles nie altyd voor die wind nie.
In Augustus is haar skaduhuis omgewaai deur 'n verwoestende wind wat heelwat plante uitgedroog en beskadig het.
Aangesien groot hoeveelhede groente in die distrik verbou word, moet sy bedag wees op roes wat immer in die lug teenwoordig is. Voorts gedy swamsiektes op die uiterste temperature van die omgewing. Hiervoor word die grond gereeld berook deurdat dit met 'n seil bedek en gas daardeur geblaas word.
Boonop bring die blommewerkery mee dat sy voortdurend aan erge hooikoors ly. Haar toestand is van só 'n aard dat die dokter aanbeveel het dat sy die "oorsaak" van die probleem liefs moet vermy. Maar hoe vermy 'n mens nou jou werk? Dus drink sy maar gereeld anti-histamien om die toestand meer draaglik te maak.
Dis vir haar 'n vreugde om daagliks met die een of ander faset van blomkwekery besig te wees. Sy geniet dit veral om ná die fisieke harde werk van plant en in stand hou die blomme te sien groei en gedy.
"Verál in die versengende Karoohitte is blomme kweek maar soos enige ander werk. Maar as ek dan dink aan die vreugde wat 'n bos vars snyblomme aan soveel mense bring, gee ek nie om nie."
Juis dié rede motiveer haar ook dikwels om vars snyblomme uit haar eie huis vir mense af te staan wat vergeet het om 'n bos te bestel of dringend blomme nodig het.
En hoewel sy nie 'n paar eg Kaapse blommeverkopers in die omgewing het wat vir humor in dié bedryf kan sorg nie, kan Julia daarvan getuig dat sy ook soms prettige oomblikke het. "Ek kweek onder meer sulke stekelrige, balvormige groen plante - die ouer mense noem dit 'oumansballe'. Dit is verál gewild as deel van rangskikkings, weens die uitsonderlike voorkoms daarvan.
"Mense bel gereeld om spesifiek vir dié plante te vra. Maar omdat hulle nie dié naam wil gebruik nie, word ek gereeld op amusante beskrywings getrakteer," lag sy.
13 Desember 2002