Op 28 het Landbouweekblad se nuwe Vrouewynmaker van die Jaar die wêreld se wingerde aan haar voete en boonop genoeg korrels "vroulike wysheid" om dié bedryf behoorlik op sy kop te draai.
Het Debbie Burden die keuse gehad, sou sy eerder 'n versnit as 'n kultivar wees. 'n Versnit ís altans "raaiselagtig, onvoorspelbaar en veelsydig, en op die einde word 'n mens aangenaam verras".
Landbouweekblad se Vrouewynmaker van die Jaar vir 2005 is inderdaad vol verrassings. Op die oog af lyk sy glad nie soos iemand wat vate rol en hande vuil maak nie, maar vinnig ontvou 'n meer juiste waarneming: Een van opregte deursettingsvermoë en passie.
Tydens 'n fotosessie op 'n snerpende Bolandse wintersoggend slaan Debbie se vasberadenheid deur. Deur die lens is die hoendervleis op haar nek duidelik sigbaar en sy bibber behoorlik, maar laat niks blyk nie. Inteendeel. Haar gemaklike, warm lag breek kort-kort deur terwyl sy deurentyd grappies maak.
Dit is sekerlik dié toegewydheid wat haar díé gesogte toekenning vir haar Red Hill Pinotage 2003 laat verower het, hoewel haar energieke, sprankelende geaardheid ongetwyfeld heelwat daartoe bygedra het.
Debbie, wat reeds ses jaar lank wynmaker op Simonsig Landgoed is, is in Oranjemund in Namibië gebore, maar het op Springbok mens geword. Haar pa is oorlede toe sy maar nege jaar oud was. Haar ma, Hetta, skielik alleenouer, het gevolglik besluit om met Debbie en haar ouer broers, Alderd en Anton, Springbok toe te trek - nader aan vriende en familie en hul skaapplaas in die Boesmanland. "Ek kom dus glad nie uit 'n wyntradisie nie," las sy by.
Weens haar liefde vir diere wou sy aanvanklik veearts word, maar ná haar eerstejaar B.Sc. aan die Universiteit van Stellenbosch het sy besluit om na 'n B.Sc.Agric. met wynkunde te verander.
"Maar ek het met chemie en mikrobiologie volgehou, want ek was onseker of ek as vrouewynmaker werk sou kry. My liefde en passie vir wyn het ek in Stellenbosch ontdek en ek was nog nóóit spyt oor my besluit nie," vertel sy.
Debbie meen haar ma se ondersteuning het 'n groot invloed op haar. "Tot vandag toe haal ek my hoed vir haar af, want sy het my geweldig geïnspireer," vertel sy.
Vir haar praktiese opleiding in 1999 het sy Hazendal Landgoed gekies omdat sy alles sélf wou doen en omdat daar 'n vrouewynmaker, Ronell Wiid, gewerk het.
"Met my aankoms was Ronell se swangerskap al gevorderd. 'n Hittegolf van gemiddeld 38º C het ons in die wingerd getref, maar sy het geduldig alles wat ek moes weet aan my verduidelik. Net daar het ek besluit: As sý dit kan doen, kan ek ook," vertel Debbie.
Ná afloop van haar studies het Debbie vir die werk as wynmaker by Simonsig aansoek gedoen en is sy deur Johan Malan, een van die drie Malan-broers wat mede-eienaar van die landgoed én hoofwynmaker is, as rooiwynmaker aangestel.
Dit was glo spanningvolle tye omdat Debbie die eerste vrouewynmaker is wat Simonsig in die kelder aangestel het. Toe sy in die parskelder begin werk het, het die werkers glo pype uit haar hande geruk en gesê 'n vrou doen nie handewerk nie.
Sy meen sy het 'n ongelooflike rooiwynspan en dat sy hulle kan inspireer deur te wys enigiemand kan 'n vat rol en pype sleep. Na haar eerste pars van 2 300 ton druiwe het sy nog nooit teruggekyk nie.
Haar produk, die Red Hill Pinotage, is 'n inheemse kultivar. Debbie beskryf dit as 'n veelsydige Pinotage, met 'n framboos, swartbessie en selfs pruimgeur. Die houtgeure sorg vir 'n speserygeur en dit is "elegant en sag, maar met ruggraat" - soos sy haar eie wynmaakstyl beskryf.
Vir haar is dit noodsaaklik om die styl van 'n wyn vir die verbruikers toeganklik te maak. Haar Red Hill Pinotage staan op verweerde skalie- en granietgronde wat glo uitstekend vir rooiwynkultivars is omdat dit oor goeie dreinering- en waterhouvermoë beskik. Dié grond dra tot die elegante smaak van die wyn by. "Parfuumagtig," sê sy en lag dan vir haar vroulike uitdrukking.
Sy vertel hulle het in 2003 begin eksperimenteer deur die Pinotage na oop kuipe te vat en nie meer as tien ton in 'n kuip te gooi nie. Pleks van die top Pinotage-blokke outomaties oor te pomp, is dit met die hand deurgedruk. Elke 20 minute vir twee uur lank is daar só deurgedruk. Dit lei tot goeie geur- en kleurekstraksie. Deur gedurige te proe, word die deurdruktye aangepas en word verhinder dat te hard met die Pinotage gewerk word.
"'n Mens is altyd versigtig vir bitterheid en stramheid," is haar mening.
Die temperatuur waarteen gegis word, is belangrik, verduidelik Debbie. Dit is een van die geheimpies wat elke wynmaker vir haarself hou. 'n Optimale temperatuur gee goeie kleurekstraksie.
Volgens haar gaan álles oor proe en Pinotage bly korter op die doppe. Die Red Hill Pinotage was vier dae op die doppe en daarna is dit gepers waar dit verder in die tenk kan gis. Elke pars verg sekere aanpassings van die wynmaker om die bes-te gehalte van die druif na vore te bring. Daarna gaan die wyn vate toe waar appelmelksuurgisting voltooi word. Die houtsoorte is belangrik, maar die gebruik van die regte hout vir 'n betrokke Pinotage kom uit ondervinding. "Dit is die lekkerste gevoel as mens wéét die wenresep is gevind," sê sy.
Haar wenwyn is 100 % Pinotage en 100 % nuwe hout, waarvan 94 % Franse eikehout en 6 % Amerikaanse eikehout is. Die wyn was vir 18 maande in hout.
Sy het nog nooit oorsee gepars nie. Dít, sowel as die erkenning en blootstelling wat dié kompetisie haar gee, maak haar opgewonde om self te gaan kyk wat in Bordeaux, Frankryk, gebeur (die hoofprys van die kompetisie). "Daar pars hulle nog erg tradisioneel. Die hele familie pars druiwe, verwerk dit, eet lekker saam en gaan weer terug kelder toe," vertel sy.
Debbie weet nog nie of sy in die Franse parstyd, September, oorgaan nie, want sy vrees hulle mag dalk te besig wees en sy wil so veel moontlik dinge sien, vrae vra en kennis uitruil.
Sy glo die wynbedryf in Suid-Afrika is op die regte pad. Omdat dit internasionaal so mededingend is, is gehalte die enigste uitweg. Sy sê die jongmense in die wynbedryf het met proeklubs begin waar kennis oor hul wyn uitgeruil word.
"Destyds was almal stil en geheimsinnig oor hul wyn, maar ons begin al hoe meer besef die uitruil van kennis is ons pad vorentoe," meen sy.
Van die wynmakers wat Debbie die meeste inspireer, is mense soos Johan Malan en Carl Schultz van Hartenberg Landgoed, wat volgens haar uitstekende wynmakers is, maar hulself nie te ernstig opneem nie.
Saans gaan draf Debbie met haar Rhodesiese rifrug en Jack Russell deur die wingerde by haar huis. Daarna ontspan sy met 'n glas rooiwyn (natuurlik) voor die kaggelvuur met haar spesiale vriend, Simon Thompson, wat ook in die wynbedryf is.
Sy glo 'n mens moet die dag aangryp en wil op haar gebied as rooiwynmaker verbeter en poog om gehaltewyne te bly maak. Sy meen 'n vrou bring dikwels 'n ander denkwyse na die bedryf. Die oproepe wat sy van wildvreemde vroue van regoor die land ontvang het, getuig daarvan dat Debbie werklik 'n inspirasie is, maar dít is geen verrassing nie.
8 Julie 2005