Die bydrae van vroue in die landbou word dikwels onderskat. Dié bedryf word steeds deur patriargale houdings beïnvloed, maar dít is besig om te verander, meen verskeie vroue in die landbou.
Die rol wat vroue in die samelewing speel, is hierdie week met die viering van Vrouedag op 9 Augustus herdenk. Om 'n vrou se invloed bloot tot 'n enkele dag in die jaar te beperk, sal egter afbreuk doen aan duidelike tekens wat daarop dui dat vroue besig is om nuwe lewe in die landbou te blaas.
Vroue met uiteenlopende betrokkenheid in die landbou praat oor dié bedryf se hede én toekoms - met die vrou deurgaans as onmisbare dryfkrag daaragter.
Adv. Gesie Lategan, 'n boer en wynmaker op haar plaas, Domaine Brahms in die Paarl, was voorheen 'n wenner in die kompetisie vir die Wes-Kaapse Vroueboer van die Jaar. Sy sê die huidige probleme in sekere bedrywe skep eintlik wonderlike geleenthede vir innoverende optrede en nuwe spesialiteitsbedrywe. Jong mense toon weer 'n nuwe belangstelling in die landbou as beroep. "Ons grootste uitdaging is om positief te bly, nuwe geleenthede te skep, die geleenthede aan te gryp en innoverend toe te pas. Dit moet alles binne 'n gedurig veranderende ekonomiese klimaat plaasvind," sê sy.
Gereelde kontak met jong en voornemende boere - en veral vroue - maak haar opgewonde oor die potensiaal wat nog onontgin lê.
Sy beklemtoon egter die landbou is onder geweldige finansiële druk weens strawwe mededinging van mededingende lande, die toetrede van die opkomende Oosterse ekonomieë, hoë pryse van produksiemiddele, beperkende arbeidswetgewing en onsekerheid oor die gevolge van programme vir grondhervorming.
Tans is vroue se rolle nog uiters beperk, sê sy, maar voeg by dat die aantal toetreders tot die mark vinnig groei. "Dít is veral in plattelandse gebiede belangrik, waar vroueboere 'n herlewing in die landbou veroorsaak," meen sy.
Vroue se boerderye is meestal klein, intensiewe ondernemings wat in alternatiewe bedrywe, soos blomme, kruie en verwerkte produkte, spesialiseer.
Op 'n afgeleë plaas in die Groot-Ka-roo is van die grootste hindernisse vir me. Doret Smit van die plaas Wilge Fontein, Laingsburg, die stygende dieselprys. Die dieselprys laat ál die koste van produksiemiddele styg - hetsy vervoer, bemestingstowwe of spuitmiddels - terwyl produkpryse onveranderd bly of daal as gevolg van die sterk rand. Smit boer met wingerd en droëvrugte, en produseer saad. Sy is verlede jaar as die Departement van Landbou se Aspirant Jong Vroueboer aangewys. Sy meen die loonverhogings van 10 % per jaar raak moeilik haalbaar, aangesien omset dit nie regverdig nie.
Sy vertel hoe vroue op haar plaas deurgaans 'n belangrike rol vertolk het. "Ek onthou my ouma het ligdag in die vyeboom geklim om vye te pluk en dan te droog. My ma was die stille krag agter my pa se ondernemingsgees". Sy vertel van die plaaswerkers se vroue wat vroegdag uie uitplant, appelkose opsny en druiwe pars, terwyl hulle sing, kinders versorg en nog moet huishou ook.
"Ons vrouens kán suksesvolle landbouers wees as die passie vir die grond bestaan en ons lief is vir harde werk. Daar moet tog altyd besef word die boerdery is 'n besigheid," meen sy.
Die afgeskeepte kwessies van vroueregte en vroue se toegang tot grond is uiters belangrik in Suid-Afrika. Dít is duidelik uit baanbreker-navorsing wat me. Karin Kleinbooi van die Program vir Grond en Landelike Studies (Plaas) aan die Universiteit van Wes-Kaapland onlangs in Namakwaland voltooi het.
Sy sê die kwessies van vroue-eienaarskapspatrone asook eiendomsreg kom eintlik algemeen in Suid-Afrika voor, asook in ander ontwikkelende lande.
Grondregte word glo tradisioneel in die naam van die "hoof van die huishouding" - gewoonlik 'n man - geregistreer. Vroue kry meestal net toegang tot grond deur 'n verskeidenheid "afhanklike verhoudings" met hul mans, seuns of pa's. Dit is glo amper onmoontlik vir 'n ongetroude vrou om grondregte te bekom.
Hoewel kommunale gebiede danksy grondhervorming sedert 1994 uitgebrei het en beloftes gemaak is om bestaande regte van grondbesitters te erken, vind bestaande manlike boere steeds die meeste baat daarby en bied die stelsel min vir vroue.
Vroue se houding teenoor die bestaande patriargale stelsel van grondbesit blyk erg konserwatief te wees. Min vroue is bereid om die huidige gender-aard van grondregte binne families te betwis. Kleinbooi sê vroue se vraag na grond word grootliks nie erken nie.
Tradisioneel speel vroue 'n gewigtige rol in familie-boerderye. Hulle het glo tweeledige rolle wat nie as betekenisvol erken word nie, maar eerder as hul "plig" gesien word. Vroue is gewoonlik "uitgebreide werkers", maar speel ook 'n huishoudelike rol.
Prof. Sheryl Hendriks, akademiese koör-dineerder van voedselveiligheid aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, sê die landbou se toekoms kan nie sonder voedselveiligheid beskou word nie. Sy meen vroue is speel 'n sleutelrol hierin.
Voedselveiligheid in Suid-Afrika word blykbaar deur eiesoortige kwessies gekenmerk in vergelyking met ander Afrika-lande. "Suid-Afrika het genoegsame en party jare selfs 'n oorskot voedsel om die bevolking te voed, maar ten minste 43 % van die mense in die land ervaar voedsel-onsekerheid. Wanvoeding seëvier - veral in die platteland."
Toegang tot geld is belangrik in alle sektore in die land om vir dienste, soos dieët-en voedingkunde, te kan betaal. 'n Proporsioneel klein inkomste word egter uit die landbou in die landelike gebiede verkry, sê sy. 'n Inkomste uit die landbou is noodsaaklik om voedselveiligheid te bewerkstellig, maar dit word bedreig deur verbruikers se voorkeure vir gekoopte produkte, die tekort aan belangstelling in die landbou, 'n toename in sterftes weens MIV/vigs, 'n afhanklikheid van "reën-gevoede" landbou, ondeurdringbare markte en swak infrastruktuur.
Me. Joyene Isaacs, senior programbestuurder, ontwikkeling en ondersteuning van landbouers van die Wes-Kaapse departement van landbou, sê die landbousektor is besig om te verander. Sy sou graag meer suksesvolle swart boere in die toekoms in die provinsie wil sien, maar ook die ondersteuning van dié boere deur die inwoners van die provinsie. "Eintlik behoort die inwoners van die provinsie die waarde van alle boere te besef," voeg sy by.
Vroue is glo meer sigbaar in die landbousektor as voorheen, maar die tempo waarteen vroue in senior posisies aangestel word, "is nog baie stadig". Isaacs is besorg oor die min vroue wat tersiêre kwalifikasies in die landbou verwerf, want vroue kan beslis die beeld van die landbou verander, meen sy.
Dit blyk dus vroue stook sag, maar sterk aan die toekomstige lewensvuur van die landbou.
12 Augustus