Landbou

Annelize Vorster het haar eie 4 x 4-roete gebou en lei vroue op om aan dié sport deel te neem.
Boervrou tem 4 x 4-belewenis
MARITHA SWART

Danksy 'n boervrou se spesiale 4 x 4-opleidingskursus vir vroue en haar gepaardgaande 4 x 4-roetes, kan vroue nou saam met hul mans aan dié opwindende buitelugsport deelneem.

(Nog 'n inskrywing vir Landbouweekblad en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur-kompetisie.)

Wanneer dit by die "manne" se sport - soos 4 x 4-uitstappies in die buitelug - kom, moet vroue en kinders dikwels verveeld terugstaan tot die manne klaar gespeel het.

Ry hulle wel in die kragvoertuie, moet hulle dikwels uitklim wanneer hul waaghalsige wederhelftes uitdagende roetes aanpak.

Dit is egter nou iets van die verlede danksy die uitsonderlike plan van Annelize Vorster van die geskiedkundige plaas Merrimetsi aan die voet van die Korannaberg naby Excelsior.

Annelize het haar eie 4 x 4-roete gebou en lei vroue nou op in die hantering en fynere kunsies van die voertuie waarmee dié roetes aangepak word.

"Die vrouebestuurders sit hul mans dikwels ore aan," lag sy. Soos die "macho" besoeker wat geskerts het dat sy vrou - wat deur Annelize en haar man, Danie, opgelei is (Annelize gee die teoretiese opleiding en Danie behartig die praktiese sessies) - nie besonder steil rots sou kon uitry nie.

"Manlief het gedink hy is die enigste een met kennis van 4 x 4-roetes. Groot was sy verbasing toe vroulief - met Danie in die passasiersitplek - die rots met gemak kon uitry. Manlief was op die plek briesend - sy pret was bederf en sy ego gekrenk. Hy is daar en dan wéér teen die rots af om te bewys dat hy dit (dié keer met ál die vereiste hulpmiddels aangeskakel) ook kon uitry."

Annelize skryf haar sukses toe aan die feit dat sy "reg" getrou het. Sy het met die instrukteur getrou wat haar opgelei en touwys gemaak het in die bou van 4 x 4-roetes.

"Dit was goedkoper om met Danie te trou as om sy konsultasiefooie te betaal," terg sy.

"Danie bou dikwels 4 x 4-roetes vir ander mense. Opgelei in bemarking en toerismebestuur, tree hy ook dikwels as toergids vir toeriste op. Hy is deesdae ook vryskutskrywer vir die tydskrif Drive Out."

Danksy Danie se hulp, spog Merrimetsi met drie 4 x 4-roetes sowel as verskeie ander roetes. Die moeilikheidsgraad wissel van "mak" familieroetes tot uiters uitdagende roetes.

Sedert die eerste roete in 2000 begin is, het die tydskrif Drive Out die Merrimetsi 4 x 4-roete (dit sluit ál die roetes in, maar staan net as Merrimetsi 4 x 4-roete bekend) al drie keer as een van dié tydskrif se beste tien roetes in die land aangewys. Onder die kriteria is huisvesting, roete-evaluering, moeilikheidsgraad van roetes, oraloor persoonlike bestuurderservaring, inligting wat aan gaste verskaf word en omgewingsevaluering.

"Danie bou nie net nuwe roetes op Merrimetsi nie," verduidelik Annelize. "Hy het onlangs roete in Swaziland gaan voltooi. Hy is ook in beheer van die begeleide roete (as gids) en behartig die praktiese voertuigopleiding."

Op haar beurt skryf Annelize die 4 x 4-handleidings in vereenvoudigde taal. Sy behartig ook die opleidingsessies in die klaskamer.

Bykomende 4 x 2-voertuigopleiding word ook aangebied vir vroue wat bloot wil leer om met hul meer beskaafde "veld"-voertuie, soos BMW se X5 en Volvo se XC 9, op gewone grondpaaie en modderige plaaspaaie te ry en ook 'n bietjie veldry baas te raak.

Sy is ook verantwoordelik vir die bestuur van die gastehuis, die oornaghuis vir stappers en die kampeerplek vir tentblyers.

Hoewel hy dit geniet en baie trots is op sy vrou, steek sy hom behoorlik in die werk, kla Danie goedig. "Aan die een kant help ek haar en aan die ander kant vir skoonpa, Thys, met sy Bonsmara- en Vleismerino-boerdery op die aangrensende plaas Magermanshoek."

Die idee van 4 x 4- roete op die plaas het eintlik per ongeluk onstaan, vertel Annelize. "Toe ek in 1999 by my ouers op die plaas aansluit om die toerismebeen van die boerdery oor te neem, was daar net geskiedkundige gastehuis en staproete." Bo-op die 1800 m hoë berg was oornaggrot vir stappers wat sy moes skoonmaak.

"Die enigste pad daarheen was die ruwe bergpad wat my pa destyds met dinamiet oopgeskiet het om by sy vee bo-op die berg te kom. Ek het gou besef dat jy 4 x 4-opleiding nodig het as jy dié pad wou gebruik. Mens kan eintlik sê dat my pa se selfgemaakte bergpad die dryfveer was agter my 4 x 4-roete en opleidingskursus vir vroue.

In 2000 het Annelize 4 x 4-opleiding in Bloemfontein ondergaan. "Dis hier waar ek vir Danie ontmoet het. Tydens die praktiese sessie het hy ons 4 x 4-roete laat ry. Dit was nie juis opwindende een nie en ek het daar en dan besluit om my eie, meer uitdagende, roete op die plaas te bou. Danie het aangebied om raad te gee."

Annelize het dadelik aan die werk gespring. Sy het net met die hulp van een plaaswerker, 'n pik en 'n graaf roete bo-op die berg gebou. "My hande was vol bloedblase en eelte en my gesig en arms stukkend gekrap van die doringbosse wat ek moes uitkap," vertel dié fyn geboude vrou.

Annelize se familieroete is in November 2000 oopgestel. Dit strek oor 30 kilometer en word in 7 tot 8 uur afgelê. "Hoewel dit uitdagend is, kan die hele familie dié roete geniet sonder dat dit skrikkerig is vir kinders of vroue sonder 4 x 4-opleiding."

Nádat sy en Danie getroud is, is meer roetes bygevoeg. Danie het hoogs uitdagende hardebaard-roete van 800 meter gebou wat sowat 'n uur duur om te voltooi. Danie se ander roete, tegniese een, strek oor 2 kilometer en duur 'n anderhalf uur. Hy het ook twee "quad bike"-roetes ( bergroete en omgewingsroete), asook selfgeboude "quad"-baan van 6 km.

Die omgewingsroete (vir 4 x 4-voertuie en "quad bikes") neem besoekers op rit van 300 km in die distrik om die uitsonderlike sandsteengeboue en interessanthede, soos die murasie van die Gumtree-meule en die kersiewynkelder te besigtig.

Danie het ook uitdagende bergfiets-, rotsklim-, en abseil-roetes gebou. Daar is ook drie een-dag-staproetes wat veral gesog is onder voëlkykers.

"Ons beplan gedurig nuwer, meer opwindende roetes," vertel Annelize wat deesdae liefs die bouwerk aan Danie oorlaat. Die laaste 4 x 4-roete wat sy gebou het, was een vir die Clocolan Veteraan Trekker-skou in 2002.

"Ek het voorgeloop met snoeiskêr en die braambosse oopgemaak terwyl die werkers agterna gekom en verder skoongemaak het met kapmesse."

Annelize skryf die sukses van die gasteplaas verder toe aan die feit dat hulle dadelik begin adverteer het en die geleentheid aangegryp het toe Drive Out aangebied het om die roete te gradeer.

"Dit het stortvloed van besoekers tot gevolg gehad (meestal Gautengers en stedelinge).

Die Vorsters glo dat Annelize se opleidingskursusse vir vroue, saam met die groot verskeidenheid 4 x 4-roetes oor sandsteenklip, die verskeidenheid ander roetes en die plaas se geskiedenis, die sterkste trekpleister vir besoekers is en hulle voorsprong gee bo ander gasteplase en bemarkers van 4 x 4-roetes.

Voldagkursusse (vir 4 x 4- asook 4 x 2-voertuie) word op aanvraag op Merrimetsi aangebied. Vroue word gewoonlik in groepe opgelei, maar individuele opleiding is op aanvraag beskikbaar. Wat die kursusse uitsonderlik maak, is die feit dat Annelize die inhoud so omvattend en eenvoudig moontlik saamgestel het. "Moeilike voertuig- en ander tegniese terme word in eenvoudige taal verduidelik," vertel Danie.

"Hoewel op vroue gemik, vra mans ook vir opleiding. Die hele gesin kan nou deel in die 4 x 4-pret. Die opgeleide vroue kan nou self ry.

"Ons ondervind ook dat diegene wat verkies om saam met hul mans te ry, nie meer bang word nadat hulle opleiding ontvang het nie. Hulle wil nie meer aanhoudend uitklim by uitdagende plekke op die roete nie.

"Omdat hulle ná dese beter verstaan waartoe die voertuig in staat is, geniet hulle die ritte net soveel soos die mans."

Omdat Merrimetsi bewarea is, word groot versigtigheid aan die dag gelê om nie die natuurlewe en uitsonderlike besienswaardighede op die plaas te versteur of te beskadig nie.

"Jag word hier nie toegelaat nie en niemand mag op die roetes gaan sonder dat Danie hulle vergesel nie," sê Annelize.

Historiese gasteplaas
Die Koranna-Merrimetsi-gasteplaas aan die voet van die Korannaberg, is in 1985 tot bewarea-gebied verklaar en vorm deel van die groter Korannaberg-bewarea van 7 000 ha.

Die sandsteen-plaashuis wat in 1891 gebou is en opgeneem is in die register van nasionale gedenkwaardighede, is, sover bekend, een van die min sandsteenhuise in die Vrystaat wat Lord Kitchener se verskroeide aarde-beleid tydens die Anglo-Boereoorlog vrygespring het. Die huis is nie afgebrand nie omdat die destydse eienaar, ene Swart Wessels, die eiendom aan hooggeplaaste Britte verhuur het wat dit as jagplaas gebruik het. Die huis is ook ten tyde van die oorlog deur die Engelse as kwartiere ingespan.

Die grootste deel van die sandsteenhuis in die Victoriaans-Engelse boustyl, het behoue gebly. Afgesien van die voor- en agterstoepe wat met betonpilare vervang is (teen 1924) en die byvoeging van watertenkbasis, is die huis aan die binne- en buitekant nog in sy oorspronklike vorm.

Die Korannas, na wie die berg vernoem is, het in 1775 in die berg ingetrek waar hulle gebly het tot die eerste setlaars in dié gebied kom woon het.

Tekens van 'n sendingstasie vir Korannas word nog hier aangetref. Só ook 'n tonnel wat as Magul se Gat bekend staan waardeur Korannas, wat die boere se vee gesteel het, hul agtervolgers ontglip het.

Die talle rotskunswerke onder oorhangkranse en in grotte op die plaas is te danke aan Boesmans wat 250 tot 300 jaar gelede ook op die plaas gewoon het.

Die plaas huisves 270 verskillende voëlsoorte, 560 plantsoorte en 52 inheemse boomsoorte waarvan sommiges selde in die Vrystaat aangetref word.

Enkele voorbeelde is die voetangelplant (Euphorbia Pulmitaks Marloth), die wildeperske-, koko-, en sybasbome. Daar kom ook baie rotspoele in die sandsteen bo-op die berg voor. Navorsers van die Katolieke Universiteit van Leuven in België, met die samewerking van die Universiteit van die Vrystaat, doen tans navorsing oor die varswatergarnaal wat ná goeie reën in dié rotspoele uitbroei.

Daar is ook heelwat rotskuns en selfs versteende miershope op die plaas.

  • Navrae: Annelize Vorster, tel. 051 973 7204 of 082 415 6193.

    1 September 2006