
Van 'n "bosslaghuis" tot 'n geregistreerde slagplaas in minder as 'n dekade. Dié boervrou met haar rooimier-lewenswyse is die sout van die Noord-Kaapse aarde en haar hande staan vir niks verkeerd nie.
(Nog 'n inskrywing vir Landbouweekblad en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur-kompetisie.)
Belinda du Toit van Louisvale, naby Upington, is 'n tuisteskepper, onderwyseres en ewigdurende entrepreneur wat altyd werk vir haar hande soek.
Sy erken ruiterlik dat sy nie 'n goeie kok is nie, maar haar eenvoudige resep vir sukses is ongetwyfeld 'n wenner. Die bestanddele hiervoor, is geloof, kennis en geesdrif, want haar definisie van sukses is om te glo in wat jy doen, te weet wát jy doen en te hou van wat jy doen.
"Ek en my man, Elie, is mense wat altyd besig moet bly, want anders raak ons gou verveeld."
Een projek wat hulle in 1994 aangepak het, was om 'n vriend se troue te verfilm met 'n videokamera wat hulle vir Kersfees aangeskaf het.
"Daarna het baie mense ons gevra om hulle troues te verfilm en ons het begin om 'n geldjie daarvoor te vra.
"Die plaasskool waar ek skool gehou het, het nie buitemuurse bedrywighede aangebied nie en ek moes iets in die namiddae doen."
Hulle besluit toe om so tussen Elie se druiweboerdery en haar skoolhouery met braaikuikens te begin. Hul trouvideo-inkomste het die eerste hoenderhokke sonder sementvloere gefinansier. Dit was drie sifdraadhokke wat elk 100 braaikuikens kon hou.
"Tydens skoolvakansies moes ek die hoenders slag en verkoop. Die eerste slag was 'n nagmerrie - sonder toerusting en onder 'n groot boom met 'n swart pot. Ons het so 30 hoenders per dag geslag en dan in my kombuis verder skoongemaak en verpak," vertel sy.
Maar toe lê hef aan voor: Sy moes haar eerste produkte van die hand sit. En om te smous, is volgens haar die swakste eien-skap in haar mondering.
"Elie het 'n paar mense gebel wat ons ken en hulle het by ons hoenders gekoop. Ons moes eers die eerste besending verkoop voordat ons die volgende 100 kon bestel, maar ek wou uitbrei en verbeter. Ek het toe begin luister na mense se voorkeure en redes hoekom hulle eerder ons hoenders as winkelhoenders sou koop."
In daardie stadium het hulle net heel hoenders verkoop. Tot iemand eendag vir 'n verpakking van boudjies en dye vra. Belinda was huiwerig, want oor die opsny van 'n hoender het sy net mooi niks geweet nie. Haar pa het egter aangebied om haar touwys te maak.
Intussen is haar pa oorlede en haar ma kon nie meer bedags in skooltyd verder na die kinders omsien nie.
"Ek het ná agt jaar opgehou skool gee en Elie moes sy werkskuur vir my afstaan as 'n slagplek.
"Ek het die skuur laat uitverf en 'n sementvloer ingesit.
"In daardie stadium het ons so tussen 20 en 30 trouvideo's per jaar gemaak, wat die hoenderonderneming 'n goeie hupstoot gegee het."
Hoewel sy toe nog onseker was oor uitbreiding, is sy half gedwing om tot dié stap oor te gaan. Omdat sy altyd net in die behoeftes van haar kliënte voldoen het, het sy altyd te min voorraad gehad.
"Ek het Elie ingespan om hokke te bou. Net sodra hy dink dit is voldoende, het ek 'n volgende stel versoeke gerig. Ons het nou vier hokke wat elkeen 3 000 kuikens kan huisves."
Dit was die jaloerse aard van mense wat haar genoop het om haar onderneming as 'n slagplaas te registreer, aangesien sy bang was iemand verkla haar as bosslagter.
Dit was 'n groot geldelike uitgawe, maar ná 'n impakstudie en hersonering is die uiteinde 'n graad D-abattoir wat 300 braaikuikens per dag kan slag.
"Dit was 'n wonderlike gevoel om my abattoir-nommer te kry. Dit was lekker om te sien hoe ons van onder 'n boom tot in 'n geregisteerde abattoir vorder."
Hul druiweplaas moes verkoop word nadat hulle vir vyf jaar agtereenvolgens weerskade gehad het en nie langer met die tafeldruiwe-produksie kon voortgaan nie. Die 1,9 ha waarop die hoenderboerdery was, is uitgehou.
"My hoenderprodukte bemark hulself, want ek glo in gehalte en persoonlike diens. Die werksmag van ses het tot 12 vroue en drie mans uitgebrei.
"My skoonsuster, mev. Leanie Nöthling, het ook later kom help. Wanneer ek die aflewerings doen, behartig sy die winkel en slagpale."
Aanvanklik is die kuikens per koerier afgelewer en later met die vliegtuig. Sy self het nog nooit haar voet op 'n vliegtuig gesit nie, vertel sy.
Namate die kuikenbestelling vergroot het, moes 'n ander plan gemaak word. Sy ry nou self elke tweede naweek van Upington na Klapmuts in die Kaap om die besending van 3 000 kuikens te gaan haal.
"Soms ry my ma saam met my en soms help Elie ook," vertel sy.
Al haar produkte word aan huisvroue op Upington en omstreke verkoop. Bestellings word ook op die kuiken-roete, wat Calvinia, Piketberg, Paarl, Malmesbury, Klapmuts en Somerset-Wes insluit, afgelaai.
Haar grootste oomblik was verlede jaar toe sy tweede in die boervrou-kompetisie in die Noord-Kaap geëindig het.
Belinda het 'n pluimvee-ondersoekerskursus van ses maande voltooi. Sy het haar werkers opgelei om die vleis te ondersoek vir keuring vir menslike gebruik.
Hulle moet ook twee keer per jaar 'n higiëne-toets aflê.
Omdat haar verkoopslokaal nie baie groot is nie, is dié vergroting haar volgende mikpunt.
Landbouweekblad, 3 November 2006