Landbou
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Padlangs, bank toe
Deur THEUNS BOTHA

'n Droom. Goeie marknavorsing, die regte tyd op die regte plek en báie sweet. Dit, in 'n neutedop, is die wenresep waarmee twee boervroue besig is om met hul restaurant, Padlangs, bank toe te lag. Hulle deel 'n paar van die geheime wat van só 'n onderneming 'n sukses maak.

('n Inskrywing vir Landbouweekblad/Sanlam se kompetisie vir vroue-entrepreneurs.)

Net meer as 'n jaar gelede, tydens 'n huweliksherdenking, het die twee manne in dié vroue se lewe, die jawoord gegee dat hulle met die planne kon voortgaan om 'n padstal, cum restaurant, in die Gamtoosvallei - die spens van die Oos-Kaap - te begin. Presies sewe maande later is die eerste roosterbroodjie (effens gebrand) aan 'n familielid bedien. Nog dieselfde dag het van die bure nuuskierig kom inloer om te sien waarmee hulle doenig was.

Ses maande ná Padlangs se deure geopen is, staan die twee boervroue verstom oor hul omset. En as sake só voortgaan, kan hulle heel moontlik teen die einde van die jaar die magiese miljoenrand-kerf haal.

Dit klink soos 'n feëverhaal, maar vir Anne Melville (43) en Heidi Muller (29) van Patensie, was dit deeglike marknavorsing, 'n goeie ouditeur, harde werk, min slaap en 'n tikkie panache wat sou sorg dat die onderneming - waar hulle tot 60 mense kan bedien - van meet af in die binnebaan meeding.

Ek hou die oggend kort ná agt by Padlangs stil. Wat dadelik opval, is die ambiance van die interieur. Lig en landelik. Die sonlig wat deur die kantgordyne oor die geel- en dennehouttafels spoel, herinner aan eetplekkies op die Franse platteland. 'n Jaar gelede was dié plek, waar ons nou sit en koffie drink, nog 'n aartappelland.

Anne het voorheen spyseniering van haar huis af gedoen en reeds jare die begeerte gekoester om 'n restaurant te besit. Haar vennoot Heidi, 'n gekwalifiseerde psigometris, en swanger met haar tweede baba, het weer by haar man, Jaco, geneul om 'n padstalletjie op te rig. Hoekom nie albei se drome waar maak nie? het Neil (Anne se man) geredeneer en die volgende dag voorgestel dat hulle 'n gebou op sy plaas - vroeër 'n kontreiwinkeltjie - net moet opknap.

Omdat dit voorheen 'n besigheid was, is hulle die rompslomp gespaar wat gewoonlik met die vestiging van 'n nuwe onderneming langs 'n hoofweg gepaard gaan. Die vroue se aanvangkapitaal (boukoste uitgesluit) het op sowat R350 000 te staan gekom. Benewens die argitekskoste, het die kombuistoerusting, eetgerei en tafels en stoele 'n diep gat in hul sak gelaat. Anne wou groter bou en het net die beste toerusting gesoek. Heidi het briek aangedraai.

Op raad van hulle ouditeur is besluit om Padlangs as beslote korporasie te bedryf waarin elk 'n 50 % aandeel het. Hulle beskou dit as 'n goeie roep, aangesien die reëls duidelik uitgespel is. "Dit is soos 'n huwelikskontrak. Hoewel jy met die een trou wat jy die liefste in die wêreld het, gaan jy nogtans 'n kontrak aan," benadruk Heidi. Anne sê op haar beurt, dat hulle enige verskilpunte oor die bestuur van die onderneming soos volwassenes benader en dinge dadelik uitpraat.

Anne het vir 'n week op Hermanus die fyner kunsies van restaurantwese en spyseniering by 'n vriendin se onderneming gaan leer. Heidi het die lêer nadergetrek met uitknipsels wat sy oor die jare van interessante spyskaarte en binnehuisversiering versamel het. Hulle het die bouers op hulle tone gehou en self die verfwerk van die mure en vloere gedoen.

Oor die naam is weke lank getob. Anne het gehou van Valencia-on-Main. Heidi het iets meer landelik en Afrikaans verkies. Dit was die opmerking van vriendin - "as jy honger of dors is, hou net padlangs" - wat die deurslag gegee het.

Toe die deure op 1 November verlede jaar geopen is, was hulle slaggereed. Die geregte wat hulle bedien, is vooraf beproef. "Ons skyfies tel onder die beste in die land omdat die aartappels plaasvars is. Veral die ontbyt, wat as "leeuloop" bekend is, is 'n treffer," lag Anne.

Die afval, wat uit Calvinia bestel, deur Heidi se skoonma berei, en op Saterdae bedien word, lok selfs besoekers uit die stad. Hoewel vars groente, vrugte, blomme, tuisgebak, ingelegde konfyt en keurige geskenkies deel van die verskeidenheid is wat by Padlangs te koop is, meen die vroue dat die kos wat hulle bedien, die groot trekpleister is.

Omdat Padlangs op die R331 roete (die Oostelike poort na die Baviaanspoort wildernisgebied) geleë is, kan hulle reg deur die jaar op honderde toeriste wat hierlangs ry, reken. Dit het heelwat netwerk geverg om die regte verskaffers raak te loop. Vir uitsonderlike geskenkies, het hulle 'n ekspo in Johannesburg bygewoon. Benewens die ses mense aan wie hulle nou heeltyds werk verskaf, is daar ook ander mense in die Gamtoosvallei wat by die onderneming baat vind. "Eerder as om sélf die koeke te bak en hoenderpastei te maak, bestel ons dit by mense in die kontrei wat bekendheid daarmee verwerf het," sê Anne.

Die twee het nog groot planne vorentoe. Benewens die spyseniering vir spesiale geleenthede, waaronder jaareindfunkies en kinderpartytjies, beplan hulle om mense gedurende die sitrusseisoen te nooi om self die vrugte in die boorde te kom pluk.

Watter raad het hulle vir ander entrepreneurs?

"Moet nie te groot begin nie. Begin reg en moenie afskeep nie. Bied 'n gehalteproduk teen 'n billike prys aan. Wees eksklusief en probeer om in die behoefte van 'n nismark te voorsien. En, eggo hulle, "Padlangs is net 'n naam. Ons is die gesig van die besigheid. Daarom is een van ons voortdurend hier om te sorg dat dieselfde standaard deurgaans gehandhaaf word. Oor 'n jaar of wat wil ons ook saans oop wees en selfs kunsuitvoerings hier aanbied."

  • Navrae: Anne Melville en Heidi Muller, tel. 042 283 0798. E-pos: baviaans@padlangs.net.

    4 Julie 2007