Landbou
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Gasteplaas benut warmbron
Deur MARITHA SWART

'n Boervrou van Rouxville benut 'n uitsonderlike nis in die toerismemark deur 'n warmwaterbron - een van enkeles in die land - in te span as aantrekkingskrag op hul plaas.

('n Inskrywing vir Landbouweekblad/Sanlam se kompetisie vir vroue-entrepreneurs.) Suid-Afrikaanse vakansieplase - soos in die geval van vakansieoorde - se gewildheid neemhand oor hand toe. Boonop bied al dié oorde min of meer dieselfde toeristeaantreklikhede - iets wat dit ál moeiliker maak om 'n mededingende voordeel in dié bedryf te bekom en te behou. Soos met enige produk in die mark, maak 'n ooraanbod die verbruiker se keuse ál moeiliker. Tot só 'n mate dat die moderne verbruiker al hoe meer op die uitkyk is vir 'n produkwat hom van ander produkte of dienste onderskei.

Susan van derWesthuizen van die plaas Badfontein in die distrik Rouxville het die probleem van toenemende kompetisie in die vakansie- en gasteplaasbedryf suksesvol getroef deur 'n uitsonderlike warmwaterbron op haar en haar man, Johan, se plaas in te span. Dié bron is maar een van enkele warmwaterbronne in die land en, sover bekend, die enigste een in private besit in die Vrystaat. Die ander warmwaterbron in dié provinsie, die een by Florisbad, is regeringseiendom.

Omdat Susan nie net moet meeding met ander vakansieplase en -oorde in die land sonder warmwaterbronne nie, maar ook met ander toeristebestemmings met warmwaterbronne (waarvan een, die Aliwal- Noord Spa, skaars 20 kilometer weg in dieNoordoos-Kaap geleë is), moes sy 'n ander plan bedink omharemeer uitsonderlik as dié van haarmededingers temaak.

Terwyl - sover bekend - meestal kommersiële tipe swembaddens oor van die anderwarmwaterbronne in die land gebou is, is hare so natuurlik moontlik gehou. Waar Badfontein se bron vandag is, was eers 'n modderige fontein volmoerasagtige turfgrond en verrotte riete waaruit water teen 6 000 liter per uur van onder die aardkors opgeborrel het.

Vanweë die hoë sout-, swael- en mineraalinhoud was die water nutteloos vir landboudoeleindes. Gelukkig was daar 'n natuurlike rotsformasie by die plek waaruit die water opgeborrel het en kon sy dít - pleks van kommersiële swembadvloer - inspan. Johan het "kante" van sement gebou sodat die poel 'n swembad-vorm kon aanneem. 'n Pyp is ook binne-in die poel van twee meter diep aangebring sodat die oorloop na die omringende veld uitgelei kan word. Die water is 'n helder seegroen en die rotse onder in die poel kan duidelik gesien word. Die water se hitte wissel tussen 29 °C en 32 °C.

Susan sê die bron is omring deur riete wat die gevoel van 'n veld-atmosfeer versterk. 'n Lapa met braaivleisgeriewe is by die bron aangebring en sowat 50 tree verder 'n eenslaapkamerhuisie met bo-vertrek (as kinderslaapkamer), kombuis en badkamer.

Vanweë die hoë swawel- en minerale inhoud van die water kan Susan nie naby die bron tuinmaak nie. "Gelukkig verkies mense die ongerepte natuur om die bron."

Die hoofopstal is sowat twee kilometer verder geleë. Hier is nóg gastekamers asook 'n gasterondawel vir vakansiegangers. 'n Kampeerterrein is op die rivieroewer gebou. Om benewens die boerderybedrywighede 'n vakansieplaas op Badfontein in te rig, was nie 'n oornagbesluit nie, vertel Susan. Die vakansieplaas was ook nie 'n kitssukses nie.

"Ons het eers met skape en melkbeeste op die plaas Vergunning in die distrik Rouxville geboer. Omdat dié plaas te min water vir voer gehad het, het ons toe Badfontein, wat op die oewer van die Oranjerivier geleë is, gekoop."

Johan het hierna die melkbeesboerdery laat vaar en hom op veeboerdery (Wit Dorpers en Bonsmaras) en besproeiing toegespits. Die ou opstal op die plaas het hulle nie geval nie en hulle het 'n rondawelmet twee slaapkamers gebouwaarin sy, Johan en drie kinders ses jaar lank gewoon het. In 1987 het hulle 'n huis gebou. Die rondawel is as verblyfplek vir kuiergaste gebruik.

Hul familie het die rondawel en die ander besienswaardighede op die plaas só geniet (daar is ondermeer 161 geϊdentifiseerde voëlspesies, wild, die riviermet sy visvanggeleenthede, damme vir vlieghengel, wandelpaaie, 4x4- en "quad"-bane en rotskuns) dat Susan besluit het om haar hand aan 'n vakansieplaas te waag.

"Almal het my ontmoedig omdat die plaas te ver van die hoofpad sou wees (op die Bethulie-Goedemoed-pad en sowat 16 kilometer vanaf die N6 van Bloemfontein na Oos-Londen)."

Susan het haar nie laat afskrik nie. "Die kinders was byna uit die skool en 'n ekstra inkomste om universiteitsgelde te betaal, sou nuttig wees." Sy het eers die tweede jaar begin adverteer, maar tevrede besoekers het ook al hoe meer mense na haar begin verwys. Sy het ook by die destydse Satoer aangesluit.

Deesdae adverteer Susan deur die AA, die Stay In South Africa-webwerf en ook via die MalutiRoete-projek ('n inisiatief van die Vrystaatse enNoordoos-Kaapse toeristeburo's om die N6 en sy besienswaardighede te bemark).

Haar besigste tye is van Desember tot April en in Junie. Haar mark bestaan hoofsaaklik uit mense van Gauteng en KwaZulu-Natal.

"In Februarie ontvang ek hoofsaaklik toeriste van Duitsland, België, Holland en England. Besoekers is veral gaande oor die warmwaterbron op die plaas," sê Susan. Namate haar besoekerstal toegeneem het, het Johan vir haar 'n lapa by die bron gebou asook 'n afsonderlike kampeerplek vir woonwaens by die rivieroewer.

"Ons kry dikwels gaste wat vir een nag oorbly en dan 'n paar dae langer wil bly om die natuur te geniet. Baie vra ook vir 'n kampeerplek so ongerepmoontlik. Ons het toe op die rivieroewer tussen die bome 'n kampeerplek opgerig wat soortgelyk is aan een wat ons in Botswana gesien het.

"Hoewel daar oral kragpunte aangebring is, het die kampeerplek nie afgebakende staanplekke nie. 'n Riethuisie met 'n wasbak en tafel dien as kombuis en 'n ander riethuis word as badkamer ingespan (met 'n spoeltoilet en 'n bosstort). 'n Braaiarea wat natuurlik inskakel by die omgewing en wat met etniese patrone deur Johan en Susan se seun Henry geverf is, dra verder tot die besondere atmosfeer by.

Naby die kampeerterrein is drie damme gebou vir vlieghengel en vir die vang van geelvis.

Al die wooneenhede op die plaas is vir selfsorg ingerig. Gaste kan kies of hulle ontbyt en/of aandete wil nuttig.

Susan meen die feit dat sy die vakansieplaas klein en intiem hou, is nóg 'n onderskeidende eienskap.

"Daar is ook ander warmwaterbronne op die plaas, maar as dit ook in swemplekke omskep word, is diemoontlikheid groot omin 'n vakansie-oord te ontaard.Ons probeer dit voorkom.

"My mark wil juis al die geriewe hê van 'n vakansie-oord sonder die toeloop en gewoel van 'n klompmense.

"Arbeid is ook 'n probleem. Ek het slegs een heeltydse en twee deeltydse werkers wat my met die gaste help. Omdat ons so naby aan die dorp woon, verkies ons werkers se vrouens om in die dorp te woon - ons ander manlike werkers is weer ongetroud."

  • Navrae: Susan van der Westhuizen, sel 083 430 6166.

    Landbouweekblad, 13 Julie 2007