Landbou
Vrouewynmaker: Finaliste aangewys
Deur AMELIA GENIS

'n Rekordgetal van 52 vrouewynmakers het vanjaar vir die Landbouweekblad Vrouewynmaker van die Jaar-kompetisie ingeskryf, en ses finaliste is pas daaruit gekies.

Die kompetisie wat vanjaar vir die vierde keer gehou word, het 20 inskrywings meer as verlede jaar gelok. Volgens me. Lorraine Immelman-Steyn, organiseerder van die kompetisie, bewys dit dat vroue besig is om hul stempel op die wynbedryf af te druk. "Nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in ander dele van die wynwêreld is daar 'n toename in vroue wat tot die wynbedryf toetree," sê sy. "Oor die wêreld heers daar 'n groter bewustheid van vrouewynmakers, ook deur middel van soortgelyke kompetisies soos hierdie een."

Vanjaar se ses finaliste sluit bekende wynname en 'n paar nuwelinge in.

Me. Susan Wessels, wynmaker van Vrede en Lust in die Paarl het deurgedring met haar 2007 Viognier, die ervare me. Rianie Strydom, wynmaker van Haskell Vineyards buite Stellenbosch het die top ses gehaal met haar rooiwynversnit, Samara 2005, en me. Elzette du Preez, van De Grendel in Durbanville het deurgedring met haar Winifred 2006, 'n witwyn-versnit. Die ander finaliste is mee. Alicia Rechner van die Backsberg Landgoed in die Paarl, met haar John Martin Sauvignon Blanc 2007, Tania Joubert, van die KWV, ook in die Paarl, met haar Cathedral Cellar Chardonnay 2005 en me. Ruth-Frances Penfold, hoof-wynmaker van Steenberg Vineyards, in Constantia, met 'n 2007 Semillon.

Die 2007 Landbouweekblad Vrouewynmaker van die Jaar word op 26 Julie tydens 'n galaseremonie by Spier, buite Stellenbosch, aangekondig. Haar prys is 'n reis ter waarde van R30 000 na Bordeaux, Frankryk.

Me. Norma Ratcliffe, een van Suid-Afrika se eerste vrouewynmakers en president van die beoordelaarspaneel, sê vanjaar se kompetisie is gekenmerk deur die gehalte van veral die witwyne wat deur deelnemers ingeskryf is. "Die beoordelaars is deur 'n diverse, opwindende versameling wyne oorval, en dit was interessant om te sien van watter hoë gehalte die witwyne was. Dit bewys dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf op die voorpunt staan om veral bekend te word vir die fantstiese witwynversnitte wat ons maak.

"Die innoverende gebruik van druifkultivars, veral minder bekende druifsoorte soos Viognier en Semillon, die eksperimentering met houtveroudering en veral versnydingstegnieke by witwyn wys dat hierdie vroue-wynmakers aan die voorpunt van die Suid-Afrikaanse wynbedryf staan."

Daar word van die uiteindelike wenner verwag om meer as net 'n goeie wynmaker te wees: Haar algehele persoonlikheid, beskouing van die wynbedryf, en loopbaandoelwitte word ook in 'n onderhoud met die beoordelaars beoordeel. Vanjaar se beoordelaarspan was Ratcliffe, mee. Eleonor Visser, wynmaker by Winecorp en verlede jaar se wenner van die kompetisie, Jo-Anne Metler, skakelbeampte by L'Ormarins, Caroline RiIlema, van Caroline's Fine Wines en Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse Wynakademie.

12 Julie 2007