
Vir 'n boervrou van die Karoo het haar besigheid die terapie verskaf wat haar deur 'n krisityd staande gehou het. Al moes sy in 'n stadium byna handdoek ingooi, het dié onderneming onder haar perfeksionistiese hand gedy en word haar handelsmerk nou selfs in die buiteland gedra.
Toe Fredré Lategan ná twee jaar as musiekonderwyseres in November 1996 met Stephan, 'n boer uit die distrik Aberdeen, getroud is, was haar skoolhou-dae iets van die verlede. Die afstand van die plaas af dorp toe, was net te groot en sy en Stephan het saam besluit dat sy die onderwys vir haar nuwe lewe as boervrou sou verruil.
Ná die geboorte van haar jongste seuntjie, Luan, in die winter van 2002, was sy verplig om die baba met sy swak bors uit die koue Karoolug te hou en moes sy vir 'n geruime tyd tuis bly.
"Die afsondering het my gou laat soek na iets om my hande mee besig te hou. Ek het begin om vir Luan, en my twee ander kinders, Juanita (8) en Stephan (6), sweetpakkies te maak.
"Al naaldwerkagtergrond wat ek in dié stadium gehad het, was dít wat ek tot op graad 8-vlak op skool gekry het en die kort kursus wat ek net ná my troue gedoen het toe ek 'n nuwe naaldwerkmasjien in Pretoria gekoop het. Die vrou wat dié kursus aangebied het, het opgemerk dat my masjien uitstekend met onderkleremateriaal werk. Dit het my aangemoedig om ook 'n kursus in die maak van onderklere te volg.
"Ek wou graag naaldwerkklasse in Port Elizabeth loop, maar moes ophou omdat ek in daardie stadium swanger geraak het en die ritte op my eie te gevaarlik was."
Vriendinne wat haar ná Luan se geboorte tuis kom besoek het, het die klere gesien en wou kort-kort weet of daar nie 'n stukkie van die lap oorgebly het nie. Só het sy begin om ook vir kennisse se kinders sweetpakke en babagroeipakkies ("babygrows") te maak.
"Dié kleremakery het só uitgebrei dat Stephan "met sy oog vir besigheid" in ón stadium opgemerk het dat ek onwetend my vinger op 'n gaping in die mark gelê het.
"In daardie stadium was ons nog deel van 'n familie-boerdery. Ek was maar altyd op soek na iets om 'n ekstra inkomste mee te verdien en het geglo dat dié kleremakery moontlik die antwoord was.
"Ek vra toe vir Stephan om vir my R5 000 te leen om Karoo Kidz, soos ek my besigheid intussen genoem het, aan die gang te kry."
Met sy B.Com. en honneursgraad in bedryfsielkunde was Stephan die "brein" agter haar besigheid, meen Fredré. Hy het haar ook goed laat verstaan dat sy met dié geld die "dinge moes laat werk" aangesien hy nie weer daarop geld sou uitgee nie.
Met die helfte van haar geleende geld het sy die goedkoopste naaldwerk- en omkapmasjien beskikbaar gekoop. Die res het sy gebruik om materiaal te koop.
'n Jaar later kon sy vir haar 'n industriële masjien aanskaf wat baie vinniger as die standaard-naaldwerkmasjiene werk. Karoo Kidz het 'n nuwe dimensie gekry.
Nadat 'n klinieksuster ná 'n besoek aan die plaas klere bestel en dit vir haar dogter in Reitz in die Vrystaat gestuur het, het 'n vrou uit dié dorp Fredré gebel om te hoor hoe sy te werk gaan om haar klere te verkoop.
"Sy wou weet of ek van agente gebruik maak. Tot in daardie stadium het ek nog net uit die huis verkoop. Ek het vir die vrou gesê ek sal na haar toe terugkom en het Stephan se raad gaan vra."
Agente sou beteken dat hulle registrasiegeld moes begin betaal, want 'n katalogus moes opgestel word. Fredréhet deurgedruk en Karoo Kidz se eerste katalogus - sommer 'n blaai-lêer met monsters van die materiaal waaruit mense kon kies, voorbeelde van hoe die verskillende patrone lyk en 'n pryslys - het die lig gesien.
"Dít maak Karoo Kidz anders. Ons lewer 'n uitsonderlike diens deurdat die katalogus só saamgestel is dat kopers sélf uit die verskillende materiale en style kan kies en 'n kombinasie saamstel wat in hul smaak val."
Haar aanvanklike idee was om 'n klein besigheid te begin om haar besig te hou wanneer die kinders die dag uit die skool is, vertel sy. "Maar skielik het dié besigheidjie vlam gevat en gelóóp.
"In 2004 het ek 'n bestelling van R100 000 se klere gekry wat mense na die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom wou neem. Dió bestelling moes binne drie maande afgehandel word.
"In daardie stadium was Karoo Kidz nog baie klein. Ek het net een vrou in diens gehad. In drie maande moes ek my besigheid vinnig aanpas, want ons twee sou diéwerk nooit alleen gedoen kry nie. Dit het uitbreiding, opleiding en heelwat geld gekos. In dié tyd het die vroue op die plaas my geweldig ondersteun. Ek moes almal tot my beskikking gebruik.
"Ek het 'n klomp vroue van die buurplase opgelei om snywerk te doen. As ons nou sien daar kom 'n bottelnek, vra ek net my regterhand, Regina Ndleleni, om hulle te laat weet."
"My grootste uitdaging is om groot bestellings te kan lewer met die minimum personeel. Omdat ons op die plaas aan die minimum-loonwet onderhewig is, is dit vir my onmoontlik om 'n klomp mense op 'n heeltydse basis in diens te hê omdat die hoeveelheid werk dit nie altyd regverdig nie."
Dit duur sowat twee jaar om 'n mens behoorlik op te lei. Só het Fredré al 'n hele paar vroue opgelei, maar dikwels trek hulle saam met hul mans weg en verloor sy die kundigheid.
"Opleiding vra tyd en geweldige selfbeheersing. Met die skoolhouery het ek geleer om met hoërskoolkinders te werk, maar om elke dag gemotiveer te bly om iemand 'n handvaardigheid te leer, kos vasbyt." Fredré het ook 'n graad 12-leerder, die seun van werkers op 'n buurplaas, vir vakansiewerk onder haar vlerk geneem.
"Desembervakansies werk hy vir twee maande en dan kan hy al sy skoolbenodigdhede uit die vakansiegeld koop."
Intussen het haar agente ook vinnig uitgebrei, sodat sy later altesaam 15 tot sover as Pretoria gehad het.
Haar grootste struikelblok was om die administratiewe kant van die besigheid onder die knie te kry, vertel Fredré. "Ek kan kreatiewe dinge doen, maar van rekeninge en die invordering daarvan, het ek niks geweet nie.
"Aanvanklik was ek te skaam om mense geld te vra vir my produkte. As iemand my nie betaal het nie, het ek dit daar gelaat.
"Maar ek moes materiaal bestel en laat druk voordat ek enigiets kon maak en het geen aanvangskapitaal gehad nie. Die rekeninge het begin instroom. In 'n stadium het Stephan sy voet neergesit: Hy sou dit nie meer help betaal nie. Ek sou dió besigheid eenvoudig móés laat werk of dit laat vaar."
Tydens'n weeklange gesinsvakansie by die see het sy haarself gesit en jammer kry oor die verloop van sake.
"Ek het gedink: Koebaai, Karoo Kidz. Ek sou moes teruggaan plaas toe en die slegte nuus aan my werkers en agente oordra. Ek het vir almal verantwoordelik gevoel." Terug op die plaas was sy verstom: Langs die faksmasjien het 'n dik pak bestellings haar gelê en inwag. Sy sou dié besigheid eenvoudig moes laat werk.
Intussen het sy 'n geordende sakevrou geword. Sy het reëls gemaak.
"Ek glo as 'n ding nie werk nie, maak jy 'n reël wat dit láát werk. Ek het voorheen verliese gely - mense wat bestellings geplaas het en dit dan nooit betaal het nie. Intussen het ek ón reël gemaak dat geen pakkie weggestuur word voordat die geld daarvoor in die bank is nie."
Karoo Kidz se klere is bekend vir die uitsonderlike lap van ón goeie gehalte waarvan dit gemaak word. Die meeste van die materiaal kom van Kaapstad af, hoewel lap ook van Johannesburg gekry word. Sommige daarvan laat Fredré sélf druk.
"Dit is 'n lang en vermoeiende proses. Ek het aanvanklik besluit om lap met'n Karoo-tema te ontwerp. Karoo Kidz se naam spruit hoeka uit die feit dat ons as werkers almal "kinders van die Karoo" is. Die lap moes ook hierby aansluit.
"Hoewel ek nie goed kan teken nie, het ek prentjies gesoek van dít wat ek graag op die materiaal wou laat druk: 'n Windpomp en dammetjie, Angorabokke, Merino-skape en Nguni-beeste - alles eie aan die Karoo. Dan het ek dit afgeteken so goed ek kan," vertel sy.
Die materiaal sélf koop sy rou. Dan word dit gekleur en gedruk waarna ón koerier dit vir haar aflewer.
"Dió hele proses is baie tydrowend. Aanvanklik moes ek Kaap toe gaan om 'n drukker te soek. In daardie stadium was my kinders nog baie klein en moes ek ál my sake oor die telefoon doen. Ons het nie eens 'n faksmasjien gehad nie.
"Dan bel ek maar en sê vir die vervaardigers ek soek die dikste sweetpakmateriaal wat hulle het, want in die Karoo word dit baie koud. En die dikste T-hemp-materiaal, want dié klere word baie gewas.
"Ek het my uit die staanspoor voorgeneem dat ek klere van 'n goeie gehalte wou maak. Só baie van my tyd gaan daarin en as 'n mens met 'n swak gehalte lap werk, is jou eindproduk van 'n swak gehalte. Ek het 'n gesonde afkeur daarin om my tyd te mors."
Fredró verkies om die besigheid "onder haar dak" te hou omdat sy só beter beheer oor die gehalte van haar produk het.
"Ek kyk persoonlik na elke artikel nadat dit klaar gemaak is. As alles nie 'n honderd persent reg is nie, word Karoo Kidz se naam nie daarop gesit nie. Om dié rede wil ek nie graag 'n fabriek begin nie, want dit sal onmoontlik wees om dan soveel beheer oor my produkte te hê."
Intussen pryk Karoo Kidz se etiket al op meer as seweduisend items wat deur die hele Suid-Afrika en selfs sover as Kanada en Rusland gestuur is.
Dié onderneming was vir Fredré terapeuties toe sy 'n groot hartseer in haar lewe moes verwerk. 'n Jaar voor Luan, haar jongste seun, se geboorte, het 'n ander babaseuntjie, net veertig uur ná sy geboorte, gesterf.
"Karoo Kidz bestaan nou vyf jaar. Dié seuntjie sou vanjaar vyf jaar oud wees. Sommige mense sê Karoo Kidz is dié kind.
Ek trek die land se kinders aan omdat ek hóm nooit kon aantrek nie.
"Ek het ná dié tragedie nooit berading ontvang nie. Ek het verkies om dit sélf met die Here deur te worstel. Karoo Kidz het my as mens staande gehou toe ek dit regtig nodig gehad het."
Met 'n onderneming soos dié verloor 'n mens dikwels moed wanneer dit voel of alles teen jou draai, maar daar gebeur ook dinge wat jou weer wind onder jou vlerke gee, meen Fredré.
"So het 'n man my eendag gebel om te hoor waar Karoo Kidz se tak in Johannesburg is. Ek het maar net gelag en gesê: "Meneer, Karoo Kidz is 'n klein besigheidjie van 'n boervrou wat haarself wil besig hou."
"Hy wil toe weet of ek nog nooit daaraan gedink het om ón franchise te begin nie. Ja, dit was al in my agterkop, maar in die stadium kan ek nie eens die winkel op Graaff-Reinet behoorlik van voorraad voorsien nie omdat die klere so vinnig uitverkoop."
Van haar man kry sy wonderlike ondersteuning, vertel Fredré. Wanneer hulle deur bestellings toegegooi word en teen spertye werk, sal hy saans, ná hy sy eie werk afgehandel het, vir haar patrone uitsny sodat sy agter die masjien kan inskuif. Hy het haar ook oneindige besigheids- en finansiële lesse geleer.
"Ek sê altyd: Ek is die eienaares, maar Stephan is die besturende direkteur!"
Navrae: Fredré Lategan
Tel. 049 845 0251; faks: 049 845 0259; e-pos: fredrelategan@telkomsa.net.