Landbou

Die Vrouewynmaker van die Jaar vir 2007, me. Susan Wessels.
Soortgelyk
Vrouewynmaker van die Jaar aangewys


Skaars een jaar nadat sy die leisels oorgeneem het by die Vrede-en-Lust-wynplaas, is Susan Wessels op Stellenbosch bekroon as Suid-Afrika se Vrouewynmaker van die Jaar. Landbouweekblad borg dié kompetisie.

'n Rekordgetal van 53 inskrywings is vanjaar vir die gewilde kompetisie ingeskryf. Me. Wessels se prys is 'n studiereis ter warde van R30 000 na die wynmaak-streek van Bordeaux in Frankryk.

Benewens Wessels was die ses finaliste vanjaar: Alicia Rechner van die Backsberg-landgoed in die Paarl, Elzette du Preez, van De Grendel in Durbanville, Rianie Strydom, van Haskell Vineyards in Stellenbosch, Ruth-Frances Penfold, van Steenberg Vineyards in Constantia en Tania Joubert, van die KWV, ook in die Paarl.

Nadat die topwyne gekies is, het 'n uitgelese paneel beoordelaars onderhoude met die ses finaliste gevoer.

Volgens me. Norma Ratcliffe, een van Suid-Afrika se eerste vrouewynmakers en sameroeper van die beoordelaarspaneel, het Wessels uitgeblink met eersteklas witwyne en het sy bewys dat sy `n verskeidenheid kultivars bemeester het.

Benewens Ratcliffe, bestaan die beoordelaarspaneel uit Eleonor Visser, verlede jaar se wenner en wynmaker by Winecorp, Jo-Anne Metler, skakelbeampte by L'Ormarins, Caroline Rillema, van Caroline's Fine Wines in Kaapstad en Marilyn Cooper, hoof van die Kaapse Wynakademie.

Volgens Landbouweekblad groei die belangstelling in die toekenning, waarin 'n ambassadeur vir die wynbedryf vir die volgende jaar aangewys word, beslis. Dit is nou behoorlik 'n hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse wynkalender.

"Die aantal inskrywings groei jaarliks en die kompetisie trek wynmakers van groot, gevestigde kelders sowel as van kleiner kelders uit die minder bekende wynstreke," sê Lorraine Immelman-Steyn. "Ek is geweldig bly oor die groei van die kompetisie. Die getal van 53 inskrywings vanjaar wys dat die titel van Suid-Afrika se Vrouewynmaker van die Jaar toenemend belangrik is vir ons vrouewynmakers."

"In die lig daarvan dat vroue in die wynbedryf wêreldwyd toenemende erkenning geniet, het hierdie toekenningsgeleentheid 'n belangrike rol te speel in die motivering van alle vroue - nie net diegene wat die wynbedryf wil betree nie. Dit wys dat vroue enige loopbaan met sukses kan betree en met die nodige deursettingsvermoë, kennis en vaardighede hul hoogste ideale kan bereik - selfs in 'n sogenaamde "manswêreld".

"Die aanwys van hierdie wyn-ambassadeurs lei tot die bevordering van die veelsydige aard van die wynbedryf en volg op die gewildheid van die Champagne Lanson Woman in Wine-toekenning wat jaarliks by die International Wine and Spirits Fair in Londen aangebied word, asook die Shoprite-Checkers Vrou van die Jaar-toekenning."

27 Julie 2007