Landbou
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Niks kry dié plaasmark onder
Deur MARITHA SWART

Nie eens 'n plaasaanval en sewe inbrake kon dié dapper vrou beweeg om haar suksesvolle plaasmark te sluit nie.

Sy onthou nie veel van die aanvaller wat haar plaasmark elf jaar gelede binnegestorm het en haar herhaaldelik met 'n mes probeer steek het nie, vertel Miems van der Walt van die plaas Taveta in die De Jagersdrift-omgewing, distrik Utrecht.

Haar onderneming, Bloekombos Plaasmark, is langs die hoofpad tussen Dundee en Vryheid geleë. Die plaasopstal lê sowat 'n kilometer verder.

Sy wys die snymerke aan haar hande wat sy opgedoen het terwyl sy verbete geprobeer het om die aanvaller se messteke af te weer.

"Danksy genade van Bo," antwoord sy toe ek haar uitvra oor haar traumatiese ervaring en waarom sy nie daarna die plaasmark se deure gesluit het nie.

Sy vertel hoe sy etlike dae voor die aanval onrustig geraak het oor twee jong mans wat dae aaneen buite die winkel gesit en die doen en late in die omgewing dopgehou het. Sy het destyds nie geweet dat aanvallers vooraf eers 'n mens se bewegings dophou en sorgvuldig aanteken voordat hulle tot die aanval oorgaan nie.

"Die aanvallers het maklik toegang tot die winkel gekry. Dit was destyds die gewone oop-plan opset waar kliënte vrylik kon rondbeweeg, self hul produkte uitkies en daarna by ' sentrale punt daarvoor betaal."

Een van die aanvallers het ingekom (sy maat het buite gewag), Miems met 'n mes gedreig en geld en die bakkie se sleutels geëis.

Miems, wat Zoeloe magtig is, het hom sonder sukses probeer kalmeer. Hy het haar met die mes begin toetakel.

"Ek het hom aan die arms beetgekry en vir 'n vale geklou. Hy het losgeruk en toe agteruit beweeg met sy rugkant na die ingang van die winkel.

"Ek is beveel om saam te kom sodat ek die bakkie aan die gang kon kry. Hulle moes tydens hul verkenning opgemerk het dat die bakkie soms moeilik aan die gang kom. Die oomblik toe hy buite die deur was, het ek dit blitsig in sy gesig toegestamp."

Toe die aanvallers nie die voertuig aangeskakel kon kry nie, het hulle op die vlug geslaan. Miems het via die burgerbandradio in die bakkie hulp ontbied.

Sy was aanvanklik bang dat die aanvallers sou terugkom (hulle het die polisie ontglip en is eers twee jaar later vasgetrek), maar het nie kans gesien om die plaasmark te sluit nie.

"Dié onderneming bied 'n waardevolle ekstra inkomste," vertel haar man, Kobus, wat hoofsaaklik met Simmentalers boer en ook 'n melkverspreider is. Dit gee stabiliteit te midde van die onsekere risiko's van boerdery. Dit betaal - afgesien van die winkel se eie bedryfskostes - ook die huishouding se kruideniersrekening en Miems se persoonlike brandstofkoste."

"In daardie stadium het Bloekombos ook al agt jaar lank in die kruideniersbehoeftes van die omgewing se swart bevolking (binne 'n radius van sowat 30 kilometer) voorsien," vervolg Miems. "Dit sou 'n groot terugslag vir ons kliënte (baie van hulle is bejaardes en skoolkinders) gewees het as ek die plaasmark sou sluit.

"Ek kon nie bekostig dat vrees my onderkry nie."

Sy het die hulp van 'n kundige in die voorkoming van plaasaanvalle se hulp ingekry, haar winkelopset verander, sterk diefwering by die bedieningstoonbank laat aanbring en 'n alarmstelsel geínstalleer.

Ná die aanval (en nóg sewe ander inbrake) word kliënte nou nie meer binne die winkel toegelaat nie. Miems se assistent, Joyce Buthelezi, oorhandig die verlangde produkte deur tralies aan hulle.

Sedert 'n alarmstelsel geínstalleer is, het die inbrake opgehou. Joyce het ook 'n burgerbandradio byderhand waarmee sy dadelik hulp kan ontbied. Veiligheid word verder versterk deurdat Miems een van die plaasskool se onderwyseresse in die aangrensende woonstel laat inwoon. Die woonstel is toegerus met 'n noodknoppie. Omdat Miems se sekuriteitstelsel aan dié van die boerdery gekoppel is, hoef haar winkel nie finansieel daarvoor in te staan nie. Die traliediefwering het Kobus sommer uit skrootmateriaal gemaak.

Miems wil nie al die krediet vir die sukses van die winkel vir haarself toe-eien nie. Haar skoonma, Cecile Groenewald, wat destyds saam met Kobus op Taveta geboer het, het die winkel 19 jaar gelede begin nadat swak mielieoeste, swak wolpryse en hoë rentekoerse die boerdery lamgelê het. "Ons het destyds die plaas se paaiemente met ons wolgeld betaal," verduidelik Kobus. "Toe wolpryse skerp daal en rentekoerse styg, kon ons nie meer die paaie-mente volhou nie en het ons twee plase verloor. Net Taveta het oorgebly."

Kobus het 'n gebou van 50 vierkante meter vir sowat R20 000 gebou.

Cecile se plaasmark het gehelp om Taveta weer geldelik op die been te kry. Ná vier jaar is Cecile getroud. Sy het die plaasmark 15 jaar gelede aan Miems oorhandig.

Dit was 'n uitdaging, vertel Miems. "Toe Cecile destyds begin het, was dit in die vroeë jare negentig. Die nuwe politieke bestel van die afgelope 15 jaar het die misdaadprentjie aansienlik laat verander."

Toenemende misdaad op plase nood-saak sekuriteitaanpassings. En die markvraag en marksamestelling het verander.

"My skoonma het 'n oorwegend blanke mark bedien. Boere van die omgewing het dikwels aankope vir hulle werkers by haar gedoen.

"My mark is oorwegend swart. Namate die land ekonomies groei en verander, verander my mark se behoeftes en hul aankooppatrone dienooreenkomstig.

"Toe ek oorgeneem het, was plaasaanvalle nog nie aan die orde van die dag nie. Boere het kontant op plase aangehou en hul werkers het kontantlone ontvang. Kontant wat werkers by my winkel kom uitgee het.

"Deesdae kan boere nie meer groot bedrae kontant op plase hou nie. Hulle betaal nou eerder salarisse regstreeks (via die internet) in werkers se rekeninge in. Dit verplig plaaswerkers om dorp toe te gaan om geld te trek. Hulle doen dan sommer hulle inkopies daar. Dit het meegebring dat ek heelwat kliënte verloor het en ander planne moes bedink."

Om die probleem op te los, het sy haar bemarkingspoging uitgebrei na punte in haar onmiddellike omgewing waar pensioen- en kindertoelae uitbetaal word. Tot voordeel van haar winkel sowel as die omgewing se mense.

"Bloekombos is naby (binne stap- en fietsry-afstand van) die betalingspunte. Dit is gerieflik vir skoolkinders van omringende plaasskole, pensioentrekkers en ontvangers van kindertoelae wat nie kans sien om spesiaal dorp toe te gaan (sowat 30 kilometer na Dundee en 40 kilometer na Vryheid) nie. Dit spaar hulle ook 'n buskaartjie dorp toe.

"Nog 'n sosiale probleem wat hierdeur opgelos is, is dié van manlike plaaswerkers wat hul salarisse in die dorp gaan trek en dan dikwels alles op drank uitgee. Hulle bring nie kruideniersware terug huis toe nie. Die mans se vroue en kinders kan nou self by my plaasmark kom kos koop."

Die dorp se mobiele kliniek wat een keer per maand by die plaasskool Zisize op Taveta aandoen, voorsien ook 'n stroom kliënte. Só ook vragmotorbestuurders wat daagliks op die hoofpad tussen Vryheid en Dundee reis. Padkampwerkers naby die winkel en toeriste wat die Bloedriviermonument daar naby besoek, vorm ook deel van haar kliëntebasis.

Terwyl die winkel in haar skoonma se tyd hoofsaaklik groente, vrugte en kruideniersware, soos koffie, tee, kerse, seep, meel en paraffien, aangehou het, moes Miems - namate haar mark en sy behoeftes verander het - bykomende produkte, soos lekkers, koekies, koeldrank, sigarette, vis, hoenderkoppe, hoenderpote, hoenderstukke, vet, brood, selfoonkaarte en selfs tweedehandse skoolklere en lewende hoenders, begin aanhou. Sy verkoop ook wors, polonies en eiers. Geen alkohol word aangehou nie.

Sy is baie ingestel op haar mark se behoeftes, meen Miems. Wanneer 'n kliënt vir produkte vra wat sy nie aanhou nie, doen sy moeite om dit aan te skaf. Dit sluit gewoonlik luukshede in, soos skoonheidsmiddels (haarstukke en grimering), modeneigingsprodukte wat kliente op televisie sien, of iets soos 'n spesiale kleur skoenpolitoer.

"Ek probeer gedurig my mark se behoeftes monitor om my mededinger wat sowat 20 kilometer verder geleë is, te troef".

"Mevrou kwyt haar so goed van haar taak, dat sy al die bynaam Mthembu (die betroubare een in Zoeloe) onder haar kliënte verwerf het, voeg Joyce vinnig by.

"Die mense sê ons padstal het baie meer produkte as die ander een," meen Joyce . Winkelure is weeksdae vanaf 08:00 tot 17:00 en Saterdae vanaf 08:00 tot 16:00. Sondae is die winkel gesluit.

Nóg 'n probleem wat Miems oor die jare heen moes troef, was stygende brandstofpryse. Haar skoonma kon destyds, danksy goedkoper brandstof, makliker dorp toe ry om voorraadtekorte aan te vul. Miems moet haar ritte fyn uitwerk om die winkel ekonomies regverdigbaar te hou.

"Ek koop twee keer per maand (in groot maat) hoenderkoppe- en pote by 'n nabygeleë hoenderplaas aan. Die hoenderboer lewer by my winkel af." Eiers kry sy by 'n buurvrou. Op dié manier verdien die buurvrou darem ook 'n nuttige inkomste.

Mieliemeel koop sy by 'n meule in die omgewing. Groente en vrugte word een keer per week in Vryheid gekoop.

"Joyce het ook al 'n entrepreneursgees aangekweek," skerts Miems. Wanneer 'n trok met vrugte en groente vir inkopies by die plaasmark aandoen, neem sy inisiatief en koop by hulle. Hiervoor word sy beloon met 'n ekstra bonus by haar salaris aan die einde van die maand. Joyce kry ook gratis inwoning op die plaas.

Die res van haar winkel se kruideniersware koop Miems een keer per maand by 'n groothandelaar op Dundee.

Al is haar winsgrens klein, hou sy haar pryse dieselfde as dié van ander supermarkte op die dorp.

Sy bestuur eerder haar kleiner winsgrens beter deur slegs kontant te koop en te verkoop. "Ek word nie opgeslurp deur kredietverskaffingsrente nie.

"My mark het dit nie breed nie, ek weier om hulle uit te buit."

Sy staan trouens 'n deel van haar wins af aan gemeenskapsopheffing by die staatsgesubsidieerde plaasskool Zisize op hul plaas.

Haar vriendin Hannelie du Preez wat Zoeloe magtig is en die Zoeloekultuur goed ken, kom gee weekliks daar vir die sowat 100 laerskoolkinders Bybellesse. Tydens dié sessies bederf Miems die kinders met vrugte, brood, lekkers en koeldrank uit haar winkel. Oor Kerstyd kry die kinders geskenkpakkies. Haar skoonsuster Isabel van Rensburg dra ook finansieel by.

Skoolhoof Thabile Masibuku en haar drie leerkragte meen dié samekomste het meegebring dat die kinders minder baklei, meer gehoorsaam is, en hul onderwysers en mekaar met meer respek behandel as ander skoolkinders in die omgewing. Dwelms is ook nie 'n probleem nie.

Navrae: Miems van der Walt, tel. 034 6321 664.