Landbou

Leigh MacKenzie en haar dogter Georgina by die padstalletjie wat jaarliks duisende besoekers lok.
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Pasteie met 'n verskil uit dié padstal
Deur THEUNS BOTHA

Nóg 'n verwoestende brand nóg sperstrepe op die nasionale pad kon dié boervrou, wie se plaasstalletjie landwyd bekend is vir sy voortreflike vleispasteitjies, onderkry. En sy het nog baie planne vorentoe.

Sowat 50 kilometer van Port Elizabeth af op die besige N2-roete na die Noorde, waar die pad na Cradock, Grahamstad en Port Alfred vurk, staan die Nanaga-plaasstalletjie. Dit is hier, onder die reuse boomaalwyn, waar reisigers graag stilhou. Nie net om bene te rek nie, maar verál om aan Leigh MacKenzie (36) se beroemde vleispasteitjies weg te lê. Tot 1 800 van hulle op 'n bedrywige dag!

Dié bekende baken het sy ontstaan jare gelede gehad toe Leigh se ma, Lynn, 'n Johannesburger, saam met haar ingenieur man na die Oos-Kaap verhuis het.

°My ma was hewig ontsteld toe my pa besluit het om heeltyds te kom boer. Sy kon haar nie indink in 'n lewe sonder elektrisiteit nie en het besluit om kool langs die pad te verkoop sodat hulle 'n kragopwekker kon aanskaf.

°Miskien was dit toe al in die sterre geskryf dat ek eendag die besigheid by haar sal oorneem, want die aand voor my geboorte het sy nog gestaan en kool verkoop,° lag Leigh, wie se man agt jaar gelede ook besluit het om van Gauteng af na die Oos-Kaap te verskuif.

Sy vertel dat haar ma die besigheid met 'n paar boervroue van die omgewing bedryf het. Benewens pynappelsap het hulle hoofsaaklik tuisgebak en konfyt verkoop. Ná die verbreding van die nasionale pad, het die owerhede haar ma in kennis gestel dat die stalletjie sy deure sal moet sluit.

°My ma was bitter omgekrap en het Johannesburg toe gevlieg om haar persoonlike misnoeë aan die direkteur-generaal van die Departement van Vervoer oor te dra. Haar vertoë het geslaag en sy het terstond besluit om die besigheid uit te brei en ook vleispasteitjies te maak en 'n teetuin met 'n uitsig oor die landerye te open.°

Leigh, wat sosiale wetenskap en ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer het en later 'n bemarkingskursus in Londen verwerf het, sê dit was 'n wonderlike voorreg om vir 'n paar jaar saam met haar ma te werk voordat sy besluit het om uit te tree.

°Ek is seker een van die gelukkigste mense om só 'n gevestigde besigheid oor te neem. Hier kom steeds besoekers aan wat my herinner dat my ma persoonlike aandag aan elke kliënt gegee het.

°Ek het die eerste paar jaar deur al my swangerskappe self in die kombuis gewerk. Meestal met meel oor my groot maag. Dit het egter meegebring dat ek presies weet wat die werkers ervaar as daar toue ongeduldige kliënte is wat brom omdat hulle 'n rukkie moet wag voor die vars pasteie uit die oond kom.°

En kyk, dosyne pasteie word elke uur hier op Nanaga gemaak. Op 'n stil dag word sowat 450 verorber. Vakansietye, wanneer die paaie besig is, word tot 1 800 'n dag gebak en alles verkoop. Omdat die pasteie ook goed vries, ry mense uit die Baai om 'n paar dosyn aan te skaf sodat daar altyd iets in die vrieskas sal wees wanneer gaste onverwags opdaag of die kinders neul dat hulle honger is.

Al wat Leigh bereid is om oor haar resep te verklap, is dat sy net die beste gehalte vleis by 'n verskaffer op Alexandria kry en speserye en kruie gebruik wat volgens 'n geheime formule saamgestel is.

°Die eintlike geheim is dat elke pasteitjie handgemaak word, met die vleis bult en binne 'n dag verkoop word. Mense soek gehalte en dít is wat ons hulle bied.°

Sy verkoop tien verskillende soorte vleispasteitjies wat tussen R8,50 en R9,85 stuk verkoop word. Dit wissel van hoender tot wild en volstruis. Dit is verál die lam-en- kruisement wat 'n groot treffer is.

Dan is daar ook roosterkoek waarvan tot 1 200 per dag opgeraap word, biltong en fyngebak, asook konfyt wat in Montagu tuisgemaak en onder haar logo bemark word wat groot treffers is.

Omdat die besigheid so uitgebreid en op 'n plaas geleë is, is haar grootste uitdaging om werkers te kry.

°Ons het 35 mense in diens, van wie die meeste daagliks van plekke soos Colchester en Paterson af werk toe moet pendel. Omdat die sukses van enige onderneming gekoppel is aan die gesindheid van die mense wat vir jou werk, bly dit my grootste taak om almal gemotiveer te hou.

Leigh se drie kinders van onderskeidelik 7 jaar, 5 jaar en agt maande, is haar eerste prioriteit. Sy het egter 'n paar jaar gelede 'n Skotse bestuurder, mnr. Iain Withers (35), aangestel.

°Met sy ervaring in die bakkersbedryf was hy die nommerpas kandidaat. Hy is vandag 'n groot steunpilaar aangesien ek met die versorging van my kinders nie heeltyds by die stalletjie kan wees nie.°

Ook haar man, Malcolm, 'n melkboer, ondersteun haar ten volle in die onderneming. Die inkomste uit die plaasstalletjie het nie net met die lae melkpryse nuttig te pas gekom nie, maar hulle ook in staat gestel om in ander eiendom te belê.

Die feit dat die padstalletjie so ver van vulstasies af geleë is, bring mee dat baie reisigers van die toiletgeriewe gebruik maak. Aanvanklik is die diens gratis aangebied.

°Ongelukkig het van die besoekers dit begin vandaliseer en moes ons deurslotte aansit. Daar was 'n groot bohaai in 'n plaas-like koerant toe ons die publiek R1 begin vra het om van die geriewe gebruik te maak. Wat hulle nie besef nie is dat die geld wat ingesamel word hoofsaaklik aan liefdadigheidsorganisasies geskenk word.°

Hoewel Leigh nie die stalletjie se jaarlikse omset aan die groot klok wil hang nie, is dit nie moeilik om self somme te maak nie.

Met sowat 2 000 pasteie en roosterkoeke wat per dag verkoop word, beloop die inkomste duisende rand per dag. Dan is daar nog die teetuin waar etes verskaf word. Sy glimlag net betekenisvol as sy gevra word of sy al die R2 miljoen kerf per jaar verby gesteek het.

In die vyf jaar sedert sy die besigheid oorgeneem het, was die aand toe 'n yskas omgeslaan en 'n groot deel van die padstalletjie deur 'n brand in puin gelê het, die enigste slegte ervaring.

°Ons was binne 'n halfuur hier en kon gelukkig keer dat alles afbrand. Die personeel was wonderlik en binne drie weke het ons weer sake gedoen,° onthou sy.

Leigh, wat intussen ook 'n gastehuis op die plaas geopen het, sê omdat die sperstrepe wat onlangs op die pad aangebring is, motoriste wat van Port Elizabeth af reis verhinder om na regs by die padstalletjie in te draai, hulle besluit het om die stalletjie binnekort sowat 1 kilometer verder van die huidige standplaas te verskuif.

°Ons kry ook heelwat navrae van mense, soos uit die sybokhaarbedryf, wat vra of ons nie van hul produkte wil verkoop nie. Met die beperkte ruimte en die kos wat so goed verkoop, is dit iets wat ons moontlik sal oorweeg wanneer daar na die nuwe gebou getrek word.°

Met die Oos-Kaap wat al meer buitelandse besoekers lok en die talle wildplase in die omgewing glo dié sakevrou dat daar nog vele geleenthede wag en voer sy reeds planne in die mou om haar meer op die gasvryheidsbedryf toe te spits.

°Die dag as my kinders uit die huis is, sal ek seker, nés my ma, te bly wees om iets te hê wat my heeltyds besig hou,° sê die fyn vroutjie.

  • Navrae: Leigh MacKenzie, sel 082 730 1701. E-pos: nanaga.farmstall@mweb.co.za.

    Landbouweekblad, 17 Augustus 2007