Landbou
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Natuur vind gestalte in haar potte
Deur THEUNS BOTHA (landbou@mweb.co.za)

Geïnspireer deur haar mooi omgewing, laat 'n boervrou die natuur gestalte vind in die planthouers wat sy skep. Hoewel die onderneming nog in sy kinderskoene staan, kan sy kwalik voorbly om in die vraag na dié besonderse houers te voorsien.

Dit sou 46 jaar duur voordat mev. Judith du Rand van Wilgerfontein, Pearston, haar nis in die lewe ontdek. Ma van drie seuns, J.D. (22), Ross (20) en Vorster (8), het sy haar jare lank besig gehou met dié dinge wat elke goeie ma doen - die werk van tuisteskepper, kinders grootmaak en om haar man, Bennie, in die boerdery by te staan.

Nog altyd gek na tuinmaak, het sy ná haar twee oudstes skool verlaat het, gewonder wat sy kon doen om van die huis af 'n geldjie te verdien. Om op die naaste dorpe 'n werk te soek, sou te veel reis verg. Toe dink sy: Potte.

Ná vele probeerslae en 'n hele paar gebreekte planthouers wat in 'n sloot beland het, is die onderneming - ná bykans drie jaar se navorsing - uit die wegspringblokke.

'n Gebore ekstrovert, vertel Judith met groot handgebare dat die plaaspaaie in hul omgewing só sleg is dat sy meermale met stukkende asbespotte, wat sy by kwekerye aangeskaf het, tuis gekom het. Die uiterste temperatuurskommelinge het ook soms tot gevolg dat houers wat wél die rit ongeskonde maak, later kraak.

"Ek het oral navraag gedoen hoe om planthouers van beton te vervaardig. Daar is egter min mense wat bereid is om hul geheime uit te lap. Gelukkig het 'n vrou op Burgersdorp vir my gewys hoe haar gietvorms lyk en my vertel dat 'n mens ook 'n vibreerder nodig het om die beton te laat set sodat die eindproduk goed afgewerk lyk.

"En, kan jy glo, dit was toe niemand minder nie as my man en ons goeie buurman wat tot my redding gekom en uit ou motoronderdele en twee wielvellings vir my só 'n vibreerder geprakseer het," vertel sy met 'n stout vonkel in die oog.

Ondanks die "vibreerder" wat sy ding gedoen het, sou dit baie sakke sement en sweet verg voordat Judith die fynere kunsies van pottemakery bemeester het. Dit het bykans agt maande gekos voordat sy iemand raakgeloop het wat vir haar die ver-skillende gietvorms kon maak. Sy het aanvanklik besluit om by die klassieke vorms, soos die Venus, Kelly en Sumo, te bly totdat sy die basiese tegniek kon bemeester.

"Die dag toe die eerste beton wat uit 'n mengsel van sand, sement en gruis bestaan, in die vyf gietvorms gegooi is, was ek só opgewonde. Ongelukkig is die beton te lank in die potte gelaat en kon dit met die beste wil ter wêreld nie weer uitgekry word nie. Ten einde raad moes ons die potte met hamers stukkend slaan. Eers later sou ek agterkom dat die binneste deel van die gietstuk uitgelig moet word voordat die beton heeltemal droog geword het."

Later sou sy ook hoor dat 'n mengsel van petroleumjellie en diesel - wat aan die binnekant van die matryse geverf word voordat die beton daarin gegiet word - help om dit moeitevry te verwyder.

Sy verduidelik dat die mengsel, voordat dit in die gietstukke gegooi word, eers getoets moet word. Dit kan gedoen word deur twee balletjies te maak en na mekaar toe te gooi. As dit spat, is dit té nat. Val dit uitmekaar, is die mengsel weer te droog en moet daar nóg water bygevoeg word. Behou die balletjies egter hulle vorm, is dit net reg.

Hierna word die betonmengsel in die matryse gegooi en vir 'n paar minute op die vibreerder geplaas om te kompakteer totdat daar water aan die bokant uitkom. Die binneste deel van die gietstuk word ná vyf uur uitgelig. Die buitenste deel word eers twee dae later verwyder. Hierná moet die potte vir 14 dae staan en al om die ander dag natgespuit word voordat dit geverf kan word. Dit moet vir 28 dae staan voordat dit vervoer kan word.

Judith maak tans sowat 14 potte per week wat teen tussen R150 en R250 stuk verkoop word. Die eerste pot is aan haar buurman verkoop.

"Ek was aanvanklik bang dat die gewig van die planthouers die mense sou afskrik. Tot my verbasing het hulle dit as 'n pluspunt gesien. Nie net omdat dit so duursaam is nie, maar ook omdat dit nie deur sterk rukwinde omgewaai en beslis nie maklik gesteel sal word nie."

Die betonpotte wat sy bemark, is sowat 15 % goedkoper as soortgelyke potte en kos ook minder as tradisionele asbespotte. Sy kon met die geld wat sy reeds gemaak het, 'n gedeelte van die koste van die matryse, wat R4 000 stuk gekos het, betaal.

"Bennie het vir die sement betaal en ek sal hom maar op 'n ander manier daarvoor vergoed. Solank hy my net nie vra om kos te maak nie," skerts Judith oor haar vaardighede in die kombuis.

Haar kreatiwiteit vind verál uiting in die verskillende verftegnieke wat sy toepas. Dit wissel van 'n antieke voorkoms tot potte wat lyk of dit in brons gegiet is. Daar is egter ook kliënte wat verkies om dit sélf te verf of die natuurlike sementvoorkoms wil behou. Die geverfde potte kos sowat 10 % meer.

Judith het intussen ook 'n pot ontwerp wat nie in 'n gietvorm nie, maar bo-op die grond gemaak en dan om die rant met ysterklippe uit die omgewing versier word. Sy meen dat indien van die balle wat sy maak in die potte gesit word, dit baie mooi by die trappe van 'n Toskaanse huis, of in die ontvangsportaal van 'n boetiekhotel behoort te vertoon.

Hoewel Judith se besigheid maar nog in sy kinderskoene staan, wil sy dit verder uitbrei namate sy 'n mark vir haar produkte vind.

"Ek weet min van bemarking en voel nog my weg in die sakewêreld oop. Maar vir die eerste keer kan ek werklik op 'n sinvolle wyse uiting aan my kreatiwiteit gee en is finansiële selfstandigheid ook binne my bereik.

"Bennie is 'n wonderlike inspirasie en het my nog nie eers gedruk om vir die sement te betaal nie. Hier op Pearston ken die gemeenskap my as iemand wat hulle enige tyd kan nader om 'n saal vir 'n funksie op te maak.

"Maar hulle besef ook dat hulle my nie naby die kombuis moet toelaat nie," beduie Judith terwyl sy haar skeppende kunstenaarshande gevoelvol in die lug gooi en aanbied om my te gaan wys hoe sy die potte maak.

  • Navrae: Judith du Rand, tel 042 2461216 of sel 082 321 0625.

    Landbouweekblad, 31 Augustus 2007.