
Landbouweekblad se vrouewynmaker van die jaar is 'n spontane mens met groot geesdrif vir haar beroep wat elke geleentheid aangryp om meer van wyn en wynbereiding te leer.
Die wyn-en-gasteplaas Vrede en Lust lê tussen die eertydse heenkome vir die Franse Hugenote en die hartland van die Afrikaanse taalstryd. Met paartjies uit alle uithoeke van die wêreld wat daar kom trou, én 'n Vrystater in die kelder kan jy jou kwalik 'n meer kosmopolitiese plek voorstel.
Maar dis nie sommer enige Vrystater wat sake in Vrede en Lust se kelder bestuur nie; dis Susan Wessels wat pas as die Landbouweekblad se vrouewynmaker van die jaar aangewys is.
Met Landbouweekblad se besoek vroeg in Augustus het die werklikheid van die toekenning nog nie behoorlik by Wessels ingesink nie. Sy't nooit kon dink sy sou op so 'n jong ouderdom so 'n toekenning ontvang nie. Sy meen dis besonder gepas dat Landbouweekblad die kompetisie borg."Dit beteken die prys kom van die wortels van die landbou af. Dis die tipe prys wat jy nie regtig in rand en sent kan omskakel nie. Dis 'n mooi gebaar as mense jou 'n prys gee wat help om jou kennis te verbreed."
As iemand wat weet hoe moeilik dit is om 'n geleentheid te kry om by die voorste Franse kelders wyn te proe, beskou sy die prys - 'n week van wyn proe en wynmakers ontmoet in Bordeaux - as 'n groot voorreg."Dit voel nog so onwerklik. Ek dink ek gaan dit vreeslik geniet."
Dis egter nie net die Bordeaux-toer waarna sy uitsien nie; ook die geleentheid om haar deeltjie te doen om Suid-Afrikaanse wyn te bevorder."Die toekenning is ook goed vir Vrede en Lust en vir die gebied waarin ons plaas is."
Wessels het in 2003 die graad B.Sc.Agric. in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal. In Augustus en September 2004 het sy by Chateau le Fleur de Bonard in Frankryk se Pomerol-streek gewerk. Sy het die twee maande op die Franse platteland geniet, veral die kos en wyn, maar ook die gesellige manier waarop die Franse hul werkers betrek. Sy sou langer wou bly, maar het reeds 'n werk by Neethlingshof gehad as De Wet Viljoen se assistent. Sy het besef dit sou nie wys wees om in die mededingende Suid-Afrikaanse wynbedryf 'n goeie werkgeleentheid deur haar vingers te laat glip nie.
Viljoen was boonop as rolmodel en leermeester enige jong wynmaker se droom en 'n besliste invloed in haar beroep as wynmaker."Ek het by hom meer van wyn maak geleer, maar ook bestuursvernuf."
Van tyd tot tyd sal sy 'n paar bottels wyn wat sy gemaak het, na Viljoen neem vir kommentaar. As assistent-wynmaker by Neethlingshof het sy saam met Viljoen verskillende geleenthede vir wynmakers bygewoon. Só kon sy reeds vroeg in haar loopbaan gevestigde wynmakers soos Pieter Ferreira en Charles Hopkins leer ken."Dis lekker om die vrymoedigheid te hê om van hulle te leer."
Die noodsaaklikheid van meer leer en meer ondervinding opdoen, maar ook sosiale verkeer met wynmakers en -gebruikers, loop soos 'n goue draad deur haar gesprekke. Daarom is hulle 'n groep van 12 klasmaats van 2003 wat nog elke maand saamkom om plaaslike en oorsese wyn te proe en te kuier. Sy bly op die hoogte van die wyne van haar omgewing deur gereeld op 'n Vrydagmiddag ander kelders vir proeë te besoek.
Nog goeie leergeleenthede is die werksessies wat die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynbouvereniging (SAWWV) aanbied."Dis altyd 'n goeie geleentheid om op die hoogte van sake te bly en ander wynmakers te sien." Kort nadat sy as vrouewynmaker van die jaar aangewys is, het Wessels vir 'n paar dae 'n ander stoel warm gesit, naamlik dié van beoordelaar by die Suid-Afrikaanse nasionale jongwynskou. Vanjaar was die tweede jaar dat sy in die Cabernet-paneel geproe het. Vir haar is die jongwynskou 'n terugblik op die afgelope parstyd in alle distrikte. Dit lê 'n maatstaf neer en gee 'n idee van die potensiaal van die oes.
Wessels sê sy het groot respek vir vrouewynmakers in Suid-Afrika en haar voorgangers Debbie Burden en Eleonor Visser. Boonop was dit vir haar 'n eer om saam met 'n formidabele wynmaker soos Rianie Strydom van Haskell Vineyards in 'n groep finaliste te wees.
Die vrouewynmaker van die jaar word allerweë as 'n rolmodel vir ander jong vroue beskou, maar Wessels sê sy het nog nie juis só daaroor gedink nie."As 'n mens eerlik en hardwerkend is en alle geleenthede aangryp wat oor jou pad kom, word deure vir jou oopgemaak. As dit wat ek al bereik het, as inspirasie vir ander vroue kan dien, is dit wonderlik."
Die eienaars van Vrede en Lust is Dana en Etienne Buys, en die eerste oesjaar was 2002. Nou is hulle besig met bemarking om die naam in wyndrinkers se gedagtes te vestig."Dit sal lekker wees as mense deur verskillende ervarings op Vrede en Lust ons wyn uitsoek."
Wessels het in Bloemfontein as middelkind in 'n musikale gesin grootgeword. Sy speel klavier en het as sesjarige begin viool speel. In haar skooldae was sy lid van die Vrystaatse Jeugsimfonie-orkes, maar ná skool was dit eerder haar belangstelling in natuurwetenskappe wat haar loopbaankeuse gerig het."My suster Mia is 'n ingenieur, maar ek wou my besig hou met natuurwetenskappe. Ek is nie goed met stilsit nie. My kursus en werk moes stimulerend én 'n uitdaging wees. Elke dag moes iets nuuts inhou. Dis hoe ek by wyn maak uitgekom het. Nou het ek ruimte om skeppend te wees en my eie stempel af te druk."
Wessels meen dis noodsaaklik dat 'n wynmaker georganiseerd is en meetbare stelsels toepas."Wyn maak is skeppende werk, maar dit bly steeds 'n besigheid en jy moet jou vordering kan meet." Sy glo in spanwerk en beskou haar senior kelderwerker, Henry Skermand, as haar regterhand. Skermand is besig met SKOP3 (senior kelderwerker-opleidingsprogram) en gaan eersdaags deelneem aan die Pinotage-vereniging se proekompetisie vir kelderwerkers.
Sy' lief vir lees, wyn en kos maak, en hoewel die wyn-kos-lewenstyl haar groot liefde is, hardloop sy elke jaar drie halfmarathons en skubaduik sy saam met vriende. Duik is 'n ontvlugting."As jy eers jou kop onder die water ingedruk het, is jy in 'n ander wêreld." Vrede en Lust het 'n bemarkingspan, maar daar is vir Wessels min lekkerder dinge as om haar wyn bekend te stel tydens fynproewer-etes of besoekers by Vrede en Lust te verwelkom nie.
"Dis lekker as mense kan plaas toe kom en herinneringe of 'n verbintenis opbou. Met sy wingerde, wynkelder, restaurant, konferensie- en bruilofgeriewe en verblyf is Vrede en Lust 'n baie lekker kuierplaas."
Maar kom voorbereid. Ons nuwe vrouewynmaker hou van kuier om die etenstafel. Sy's boonop lief vir kos maak en wyn, én sy't 'n sak vol stamina en stories.
Wessels wys hulle met wittes
Vanjaar se vrouewynmaker van die jaar, Susan Wessels, wynmaker van Vrede en Lust, het die beoordelaars met twee witwyne - die 2007 Vrede en Lust Viognier en die 2007 Vrede en Lust Sauvignon Blanc - beíndruk.
Die Viognier, wat in vate gegis en vir vier maande in Franse en Hongaarse eikehoutvate verouder is, het geure van perske en appelkoos. Die hout kompleteer die wyn se romerige smaak.
Druiwe vir die wyn kom uit die Simonsberg-Paarl-omgewing. Druiwe vir die Sauvignon Blanc kom van Sir Lowryspas en Durbanville. Die druiwe is teen verskillende suikervlakke geoes, die sap vir elke suikervlak is afsonderlik gegis en ná gisting versny. Dié ryk, komplekse wyn het geure van groen vye, 'n bietjie gesnyde gras en appelliefie, en kan vir 'n hele paar jaar gehou word.
In hierdie stadium koop Vrede en Lust druiwe vir sy Sauvignon Blanc in, maar Wessels sien daarna uit om druiwe van Casey' Ridge, die eienaars en werkers van Vrede en Lust se bemagtigingsplaas by Elgin, te gebruik. Die Vrede en Lust Chardonnay word gemaak van druiwe van die Simonsbergplaas. Wessels het groot rooiwynplanne vir die toekoms en sien veral uit daarna om 'n goeie Shiraz te maak. Vrede en Lust se eerste enkelkultivar-Shiraz het ryp geure en peper-aromas en is vol vrugtegeure. Dit is in die bottel en sal teen die einde van die jaar beskikbaar wees.
"Ek hou daarvan om wyne te versny. Ek wil goeie versnitte maak. En ek wil elke jaar 'n lekker Sauvignon blanc maak aangesien dit my persoonlike maatstaf vir wynbereiding is."
By Vrede en Lust kry sy goeie ondervinding in versnyding met die twee Bordeaux-versnitte, die Classic en die Reserve, wat sy maak. Van die reserwe-versnit word nooit meer as 1 000 kiste gemaak nie, wat beteken sy kan elke jaar die 40 vate met die beste wyn kies.
Sy beskryf haar styl as 'n klassieke Nuwewêreldstyl: Ernstige, dog vriendelike wyne."Ek wil hê mense moet nie net 'n glas van ons wyn drink nie, maar 'n hele bottel geniet, en in die proses lief raak vir Vrede en Lust."
Landbouweekblad, 7 September 2007.