Landbou
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Plaas se oggendstond bied goud in mond
Deur JOHAN NORVAL (jnorval@landbou.com)

'n Boervrou van die Venterstad-omgewing se gastehuis en produkte van Nguni-vel maak hul plaas 'n gewilde besoekpunt vir stedelinge en buitelanders.

Die vrypostigheid van 'n gas en haar liefde vir plante het aanleiding gegee tot die naam wat Christa van der Walt, 'n Suid-Vrystaatse boervrou, vir haar gastehuis gekies het. Dié onderneming, Morning Glory Cottage, beloof om sy gaste met gemak te bederf op die gasteplaas Gelykfontein, net suid van die Gariepdam, op die R58-roete digby Venterstad.

Gelykfontein is bykans sentraal geleë tussen Johannesburg en die kusstede Kaapstad, Port Elizabeth en Oos-Londen.

Christa vertel dat 'n stuitige gas eenkeer navraag gedoen het of hy in sy Adamsgewaad op die plaas mag paradeer. Dié kwinkslag en die feit dat sy haar liefde vir plante op dié tydstip in 'n kwekery op die plaas uitgeleef het, het haar laat besluit om haar nuwe gastehuis na dié blom te vernoem.

Morning Glory is op die ou familieplaas Gelykfontein, bekend vir die teel van resiesperde, Nguni-beeste, Letelle- en Damara-skape en deesdae ook inheemse bokke, ingerig. Die perdestoetery is in die jare dertig gestig en die vierde geslag Van der Walts is aan die roer van sake op die plaas.

Christa, ook 'n nooi Van der Walt, het as plaaskind op Burgersdorp skoolgegaan voordat sy saam met haar ouers Natal toe verhuis het waar hulle 'n melkery bedryf het. Dit was met haar terugkeer na die Karoo in 1966 dat sy haar man, Schalk, ontmoet het. Ná die troue in 1971 het die paartjie hulle op Gelykfontein gevestig.

Benewens die werk en bedrywighede wat met 'n groot boerdery gepaardgaan, het sy nóg iets nodig gehad om haar, soos sy dit stel, besig te hou. Haar eerste groot projek ? sowat 'n dekade later ? was 'n kwekery op die plaas wat tot een van die grootste in die omgewing uitgebou is.

Sy erken 'n bymotief vir die kwekery was om besoekers na haar toe op die plaas te lok.

"Vanweë ons boerderyverpligtinge het ons nie dikwels van die plaas af weggekom nie. Dit was nogal erg om sekere tye van die jaar die motors met vakansiegangers by ons plaashuis te sien verby ry," vertel sy.

Die plaas is reg langs die R58-teerpad tussen Colesberg en Venterstad geleë.

Christa het die kwekery-projek met oorgawe benader. Sy was onder meer vier jaar lank die voorsitter van die Venterstadse tuinbouklub, het praatjies gehou, tuine in die omgewing uitgelê en 'n jaarlikse rosedag in Oktober aangebied.

Van haar "aftree"-planne het ook niks gekom toe sy die kwekery in 1996 laat ophou sake doen nie.

Ná twee maande se leeglê, is die volgende groot projek begin: Die gastehuis in die plaas se tweede opstal wat in dié stadium beskikbaar geraak het. In die bedryf van die gastehuis het sy immers twee van haar voorliefdes bevredig: Sosiale samesyn met besoekers en ook onthaal en kosmaak. Die tradisionele Karoo-geregte wat vir aand-ete bedien word, is veral gewild onder die oorsese besoekers. Die gaste is ook gaande oor die besonderse smaak van die gebied se Karoo-lamsvleis en wildsgeregte is gereeld in die winter op die spyskaart.

"Ons kry heelwat gaste wat die afgelope elf jaar gereeld hier op die plaas kom oornag op pad na en van hul bestemmings langs die Oos-Kaapse sonskynkus. Die meeste van hulle verkies 'n aansit-ete vir die gesellige samesyn voordat hulle gaan inkruip."

Buitengewone funksies wat op die plaas aangebied word, behels onder meer die vier van verjaarsdae, goue bruilofte en vonkelwyn-ontbyte. Dan word daar ook perderitte gehou, wild- en voëlkyk-uitstappies gereël, wandelroetes deur die veld gedoen, asook 'n 4x4-roete aangebied.

"Plaasbesoeke is redelik gewild onder veral die stedelinge en buitelanders. Ek ondervind 'n toename in navrae oor besoeke van dié aard en ons gaste gaan graag saam met Schalk veld toe om meer van die beeste, skape en bokke te leer."

Dit is juis Schalk se Nguni-beeste waarmee hy al 24 jaar lank boer wat vir nóg 'n projek sorg wat terselfdertyd saam met die gastehuis bedryf word.

Christa sê sy vind die verskillende kleurpatrone van die Nguni-velle betowerend en om gebruiksartikels daaruit te maak, dra by tot die waardetoevoeging van hul plaasprodukte. Sy het twee jaar gelede haar eerste Nguni-artikels onder die handelsnaam Khalipe-leerprodukte begin maak met velle van die plaas af wat sy in Krugersdorp laat looi het.

Sy het die leer aanvanklik met 'n gewone naaimasjien bewerk, maar moes later 'n nywerheidsnaaimasjien aanskaf.

Haar leerprodukte behels onder meer voetstoeltjies (ottomans) wat met leer oorgetrek is, kussings, handsakke, onderbaadjies en plekmatjies. Volle Nguni-velle kan ook as vloermatte of muurbehangsels gebruik word.

Medewerkers verskaf die nodige onderdele wat sy nodig het vir haar reeks. Mnr. Braam Bester, 'n oud-houtwerkonderwyser van Fauresmith, doen die houtwerk vir die ottomans. 'n Verskaffer op Colesberg help ook hiermee.

Christa span ook haar buurvroue, mevv. Anna Louw en Marietjie le Roux, in met die maak van die onderbaadjies en die kussings. Mev. Engela Kruger van Middelburg help met die handsakke.

Die meeste van die leerprodukte verkoop sy deur die gastehuis, waar hulle uitgestal word. Produkte word ook op bestelling gemaak.

  • Navrae: Christa van der Walt, tel. 051 6540 150 of 051 6540 302. E-pos: gfontein@kingsley.co.za of gelykfontein@telkomsa.net.

    Landbouweekblad, 21 September 2007.