
Geïnspireer deur die werke van Mexikaans-Indiaanse kunstenaar Maria Martinez is mev. Mandy Levey, 'n opgeleide kunstenaar van die plaas Fair View, Tarkastad, reeds jare besig om mense van die omgewing in verskeie kunsvorms, wat van lapverfwerk tot pottebakkery strek, te skool.
Toe sy drie jaar gelede besluit het om Thobelani (dit beteken "respek" in Xhosa) op die plaas te open om vroue van die distrik Tsolwana te bemagtig, het sy nie kon droom dat hul handewerk sulke blitsverkopers sou word nie. Buitelandse besoekers, meestal jagters, wat na die omgewing kom, is gaande daaroor. Ook binnehuisversierders. Toe sy onlangs in Johannesburg aan Decorex deelgeneem het, het die bestellings ingestroom. Hulle sal tot in Desember volstoom moet werk om dit afgelewer te kry.
Mandy, die ma van vier dogters, sê sy het die projek ontwikkel om 'n beter lewe vir die vroue te verseker.
"Hulle het nie aalmoese gesoek nie, maar 'n manier om hul individuele kreatiwiteit en talente te ontwikkel in die soeke na selfrespek en om in hul basiese behoeftes, soos kos, klere en skoolgeld, te voorsien."
Ofskoon die vroue 'n verskeidenheid kunswerke maak wat van geverfde tafeldoeke, tafelmatjies tot muurbehangsels, lopers en kralewerk strek, is dit die kleipotte, borde en vase wat asembenemend is. Met die ryk, donkerbruin tot swart aardse kleure wat verkry word deur dit in 'n put in die grond te vuur, weerkaats die lig daarop tot diep binne in jou siel en tower beelde van Eugène Marais se Mabalêl op.
Om dié besonderse glans te verkry (geen glasuur of verf word gebruik nie) word die kleipotte en borde, nadat dit vir 'n dag in 'n oond gebak is, met halfedelstene glad geskuur. 'n Tydrowende proses. Hierna word dit in 'n put in die grond geplaas, strooi, blare en koerantpapier aan die brand gesteek en 'n deksel daaroor gesit om die vuur te smoor. Wanneer die stukke die volgende dag uitgehaal word, het dit 'n gebrande voorkoms. Iets wat dit uitsonderlik maak.
Thobelani is 'n koöperasie waarvan die 15 kunstenaars almal lede is. Mandy doen die aankope, gee raad met die ontwerpe en behartig die bemarking. Die kunstenaars is dus nie in haar diens nie, maar werk vir hulleself. Daar word gesamentlik oor die groothandelpryse van die verskillende kunswerke besluit. Een derde van die geld gaan regstreeks na die betrokke kunstenaar wie se werk verkoop is. Die res word gespaar om nuwe voorraad aan te skaf en te sorg dat elkeen maandeliks 'n basiese loon kry.
Hoewel daar voorsiening vir huur en elektrisiteit gemaak word, verhaal Mandy dit nie in die stadium van die koöperasie nie. "Dit is vir my belangriker dat daar eers genoeg geld in die bank sal wees as om persoonlik voordeel uit die besigheid te trek.
"Ons leef in 'n land waar 'n mens nie net alles vir jouself kan toeëien nie. As ons nie heengaan en iets van onsself vir andere gee nie, sal daar ook nie vir ons kinders 'n toekoms wees nie."
Mandy is dankbaar vir die goeie raad wat hulle van die ECMAC (East Cape Manufacturers Advisory Council) gekry het wat ook die onderneming geregistreer het. Hulle het ook gehelp met die opstel en gedeeltelike finansiering van die brosjures en deelname aan Decorex.
Die Oos-Kaap se Departement van Kuns en Kultuur het die eerste jaar 'n klein toekenning gemaak waarmee van die toerusting wat in die ateljee gebruik word, aangeskaf kon word.
Thobelani ondersteun ander handwerk-ondernemings in die land. "Ons koop handgemaakte seep van ander tuisnywerhede om in die seepbakkies te sit wat hier gemaak word.
"Die geheim is om 'n uitsonderlike styl en karakter aan kunswerke te gee en voortdurend met nuwe ontwerpe en artikels vorendag te kom wat kopers se verbeelding sal aangryp. Bloot die feit dat ons so afgesonder is, gee ons produkte 'n eiesoortige karakter en bring mee dat ons nie te veel deur ander style beïnvloed word nie."
Sy plaas 'n groot premie op eksklusiwiteit en sien Thobelani nie as 'n plek waar kunswerke bloot in massa gedupliseer word nie. Sy glo ook nie daaraan om dieselfde produk aan meer as een binneversierder en kunswinkel beskikbaar te stel nie.
"Ons pryse is baie billik. Daar moet in gedagte gehou word dat diegene wat van ons koop, ook 'n wins moet maak."
Mandy en haar man, Guy, bedryf ook 'n gastehuis en het nog groot planne vir die toekoms. Daar is verskeie geboue op die plaas wat sy in 'n toevlugsoord vir ander kunstenaars wil omskep. Daar was onlangs 'n beeldhouer uit Amerika wat aangebied het om haar kennis aan die mense te kom oordra.
Haar droom is om die besigheid tot so mate uit te brei dat die vroue gevorderde kursusse sal kan bywoon en op hul beurt weer andere oplei.
"Dit is so 'n inspirasie om te sien hoe dit lankal nie meer vir die kunstenaars nét om geld nie, maar eerder selfrespek, gaan. Om iets te kan skep wat vir andere genot gee.
"Ook dat van hulle reeds in eie reg volwaardige kunstenaars is wat selfs hul eie besighede sal kan begin."
Landbouweekblad, 19 Oktober 2007