Landbou
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
'n Bok vir besigheid
Deur LUCILLE BOTHA (lbotha@landbou.com)

'n Bok vir besigheid Die storie van Tantinki se bokmelkprodukte is 'n aangrypende verhaal - die merkwaardige vrou daaragter ken van op haar tande byt, deurdruk en aanhou.

Die streng voorskrifte waarvolgens koekeweeknaweek vir die plaaslike tuisnywerheid gebak moes word, het haar "spoed gebreek", maar mev. Sonja Ferreira van Oudtshoorn het geweet sy móét iets doen om die pot aan die kook te help hou.

Toe die Ferreira's hul plaas naby Rietbron verloor het, het Sonja se man as plaasbestuurder op Oudtshoorn begin werk. "Die dag toe ons alles verloor het, was traumaties. Maar ek het my voorgeneem dat ek hard sal werk en weer vir hulle (die egpaar se vier kinders) sal bymekaar maak wat hulle verloor het," vertel sy.

Só het sy begin om produkte vir 'n tuisnywerheid op die dorp te bak. Een Donderdagaand het sy tot omstreeks 02:00 gebak net om 04:00 weer op te staan. Dié Vrydag was dit haar diensbeurt by die tuisnywerheid, maar hoewel die naweek om die draai was, kon dit net sowel 'n donkerblou Maandag gewees het. Op pad dorp toe, het die warm soutterte in haar kattebak uit hul verpakkings geskud en by die tuisnywerheid aangekom was "die kaasdrade wat aan die spaarwiel gekleef het" die enigste oorblyfsels van haar week se wins.

"Ekwas so hartseer,maar het geweet dit is 'n teken," vertel Sonja. Dié middag het sy by die huis gekom en in haar kussing gaan huil sodat haar kinders nie moet sien nie. "Ek het gehuil en gebid: 'Here, asseblief, stuur iets oor my pad. Ek sal dag en nag werk, maar ek besef ek is nie 'n tuisnywerheid-tannie nie. '

"Miskien moes ek nie die laaste stukkie bygesit het nie, want as ek my kon doodwerk, sou ek," vertel Sonja. Sy glo die Here het haar desperaatheid verstaan, want skaars twee dae later lees haar man in Landbouweekblad van melkbokke en die klein kampies wat vir dié boerdery nodig is. Om hul huis was daar klein kampies waarin die volstruiskuikens grootgemaak is,maar haarman se werkgewer, mnr. Koos Potgieter, het ingestem dat haar bokke daar kan loop. Potgieter het ook later vir Sonja 'n oumelkmasjien gegee wat sy kon herstel.

Met R12 000 wat Sonja by haar ma geleen het, het sy haar eerste tien bokke gekoop en marknavorsing begin doen. Sy wou só graag 'n kaaskursus volg, maar die uitgawes daaraan verbonde was te hoog.

Die dag toe sy haar eerste melk kon lewer, het al die kliënte wat voor die tyd belowe het om melk te koop, soos mis voor die son verdwyn en Sonja het met haar hande in haar hare gesit.

Sy het besluit om haar op swart verbruikers toe te spits en het dag in en dag uit alleen in die swart buurte bemarking gedoen. Eindelik het sy een klein huiswinkeltjie gekry wat bereid was om haar te help, maar op 'n dag het 'n swart vrou haar toegesnou: "Kom weg hier! Hier gaan hulle jou nog doodmaak!"

Sy het 'n ander kliënt gewerf,maar op 'n dag was alles ook nie pluis by sy huis nie. Die volgende dag moes sy in die plaaslike koerant sien dié man word vir moord gesoek.

Daar was ook ander uitdagings, soos die dag toe sy 'n motoroppasser gevra het om pamflette op voertuie se ruite te los. Maar soos die ongeluk dit wou hê, plaas hy toe ook 'n pamflet onder die gesondheidsinspekteur - wat nog nie van 'n bokmelkboerdery op Oudtshoorn bewus was nie - se ruit.

Sonja het gehoor van "'n tannie op die dorp wat vroeër jare sulke lekker kaas gemaak het" en het by mev. Ann le Roux van Doornkraal gaan kers opsteek.

Van daardie dag af het die wiel vir Sonja begin draai. Haar eerste klient was die bekende wêreldburger en sjef Annette le Roux. Daarna het 'n uitstalplekkie op die bekende Sedgefield-mark en verskeie afsetpunte by padstalle en deli's regoor die land gevolg. Deesdae lewer sy ook aan Checkers in die Oos-Kaap.

"As my rug nie teen die muur was nie, sou ek seker nooit aangehou het nie," sê Sonja oor haar aangrypende verhaal. Vandag melk sy al sowat 120 Switserse Saanens. Haar produkreeks sluit 13 kase in 17 geure, jogurt, botter, fudge, roomys, sjokoladesous en selfs seep in.

Sy gee ook klas vir aspirant-sjefs aan George se kookskool. Haar kinders is almal op die een of ander wyse by die besigheid betrokke of gaan in die afsienbare toekoms daarby inskakel.

Sonja se ongelooflike daadkragtigheid is onlangs beloon toe sy as die Departement van Landbou se top-produsent vir nasionale markte bekroon is.

Sy het ook 'n nuwe wêreld vir Steven Pockpas (20) oopgemaak toe sy hom die kuns van kaasmaak geleer het. Hy het onlangs Frankryk besoek as deel van die Departement van Landbou se uitruilprogram en kan nou die kennis wat hy daar opgedoen het in Tantinki terugploeg. Hy is net een van die 25mense virwie Sonja al só deeglik leer kaasmaak het dat hulle enige dag in hul kombuise 'n onderneminkie aan die gang kan kry.

Tans werk daar nege fudgemakers by Tantinki en het Sonja se doelwit verskuif noudat sy daaraan geslaag het om iets vir haar kinders bymekaar te maak. Sy wil die vroue wat vir haar werk, help om 'n onderneming op die been te bring.

Tantinki se toekoms lyk ook blink. Die Ferreira's is besig om met die geld wat Sonja as top-produsent gewen het, 'n padstal in Oudtshoorn se besige Langenhovenweg te open. Die produkte sal hier gemaak en verkoop word.

En Tantinki - die klein bokkiewat haar aan 'n skaamdogtertjie herinner het, en later danksy 'n klok om die nek tóg te windmakerig geraak het - se graf sal ook hierheen geskuif word.

Haar kaas het 'n uitsonderlike geur wat eie is aan die Klein-Karoo - dit het te doen met die droë hitte wat soms genadeloos op Oudtshoorn kan neerdaal, verduidelik sy.

Intussen het Sonja nog nooit opgehou om oor haar produk te lees en te leer nie en knap sy gereeld haar kennis op. Sy het die kaasmakerskursus, waaroor sy so gedroomhet, ook voltooi al het sy in daardie stadium al bykans alles oor kaas geweet.

"Ek het die mark nie vreeslik aggressief binne gedring nie en was eerder skugter as arrogant. Só het ek die manne se simpatie, eerder as argwaan, gekry," sê sy oor haar plek as vrou in die taai sakewêreld.

"Ek hou my nie slim nie. Baie mense was voor my in die bedryf en ek luister eerder na hulle stories.

"Jy moet kan aanhou en uithou in dié bedryf. As jy daarvan hou om naweke laat te slaap en vakansie te hou, is dit nie vir jou nie."

Om'nmark te vind, was 'n groot struikelblok. "Bokmelk se mark is nie vanselfsprekend nie. Jy kan jou nie vasstaar teen bokmelk en -kaas nie. Dit is nie ál wat jy daarmee kan doen nie."

Haar plan om 'n verskeidenheid kase te produseer (in klein porsies, want nie almal eet bokmelkkaas nie) het gewerk. Só ook die roomys, jogurt en fudge, want die wilde boksmaak is effe getemper.

"Hou jou hand op jou bankstaat en wees elke dag op die hoogte van wat in jou rekening aangaan. As jy nie gaan tred hou nie, kan dit jou onkant vang," is haar raad aan voornemende sakevroue.

Oor vyf jaarmoet Tantinki se padstal al 'n paar jaar gevestig wees, die handelsnaammoet in die mark gevestig wees en al haar kinders moet in die besigheid betrokke wees.

"Hulle kan al my aandele kry, ek wil net die veto-reg uithou!" spot sy.

Dan wil sy ook nog vir 'n paar mense werk gee, 'n fyngebak-afdeling by die besigheid voeg en mense uit agtergeblewe gemeenskappe help om produkte onder Tantinki se naam te bemark tot hulle 'n voet in die mark kry en ... en ... en ... hou dié vrou se planne net nie op nie.

Landbouweekblad, 26 Oktober 2007