
Iemand wat 'n Jersey-kalf kan groot maak, verdien respek, sê dié wat weet. Mev. Ronelle Nel van die plaas Eenzaamheid, Swellendam, glo die geheime bestanddeel om dié bruin kalfies met die lang wimpers suksesvol groot te maak, is liefde.
In die twee en 'n half jaar wat sy Jerseykalwers versorg, het sy nog net drie uit 235 kalwers verloor - 'n rekord wat die boere in die omgewing stom van verbasing laat (en natuurlik nuuskierig oor hóé sy dit regkry).
Sowat drie jaar gelede moes haar man, Danie, jaarliks vervangingsverse inkoop om sy kudde aan die gang te hou. Dit het hom bykans R200 000 per jaar uit die sak gejaag. Hy skryf die hoë vrektes onder sy eie kalwers toe aan swak bestuur en "mansmense wat net nie 'n vrou se hand het nie". In daardie stadium het die jong kalwers in ysterhokkies gebly. "Ek wou nie eens daarnatoe (waar die kalfies op hok was) kyk nie," onthou Ronelle. Sy sê dit sou nie help om met Danie daaroor te praat nie. Sy antwoord sou net wees dat dit 'n boerdery is, nie troeteldiere nie.
Toe daar net drie kalfies oor was, het Ronelle gesê sy sal oorvat, maar op háár voorwaardes. Die eerste hiervan was om die kalfies uit die hokke te haal. Sy en Danie lag te lekker as hulle die petalje onthou toe Ronelle die eerste kalfies uit die ysterhokkie gehaal het. Danie se waarskuwings dat die kalwers wild is as hulle uit die hokkies kom en sommer drade sal stukkend hardloop, het op dowe ore geval.
Ronelle moes die kalf aan sy stert gryp en klou so al sywerdwas,want die diertjie het op loop gesit en haar agterna gesleep.
Ronelle is 'n borrelende vrou met 'n kop vir syfers en 'n opregte liefde vir haar diere - vier honde en sowat honderd stuks kalwers. Sy het altyd gedroom van veearts word, maar die lang studeerdery het haar afgesit.
Die eerste stap was om hokkies van strooibale te bou,met 'n "nessie" van strooi waarop elke kalf kan lê.
"Ek wou nie koste aangaan nie en het ook geen kapitaaluitgawes gedoen nie. Dit wat op die plaas was, het ek gebruik," vertel sy.
Bedryfsuitgawes kom uit die boerdery, want laasgenoemde trek ook die voordele en enige wins wat die kalfie-vertakking inbring.
Danie voeg by: "Die ou melkstal het net hier gestaan en was eintlik 'n verleentheid. Ronelle het dit stadig maar seker reggemaak."
Sy maak gemiddeld 96 kalwers per jaar groot. Die jong diere bly sowat sewe weke in die hokke enword op 50 dae gespeen van die biesmelk wat uit die stal kom (dit kan in elk geval nie verkoop word nie). Daarna vreet hulle pille en sodra hulle vir drie dae in 'n ry 1 kg pille vreet, word die kalwers op die weiding losgelaat. Ronelle poog om hulle so gou moontlik op die weiding te kry, want sy glo die natuur weet die beste.
Sy glo ook daarin om binne 'n paar uur ná geboorte vir die kalfies biesmelk te gee, want dit bevat kolostrum (teenliggaampies) wat die kalf nêrens anders as by haar ma kan kry nie.
Die koeie kalf gewoonlik op 2 jaar vir die eerste keer en tans is daar 27 van Ronelle se kalfskinders in die stal. Die koeie wat met haar liefdevolle hande grootgemaak is, dra rooi oorplaatjies en is dus onderskeibaar van die res van die kudde.
"Die rooi plaatjies is besig om die stal te infiltreer," spot Danie. Hy is egter gou om sy vrou se vernuf te prys: "Die rooi plaatjies wat in die melk kom, gee tussen 20%en 27% méér melk as die ander koeie. Ek dink dis die rustigheid waarmee hulle grootword. Dié ongelooflike rustigheid steek ook die ander koeie in die stal aan."
Ronelle volg haar beeste se prestasie noukeurig en dring ook aan daarop dat hulle op die beste weidings loop.
Die liefde vir die kalfies is wedersyds. Wanneer Ronelle tussen hulle loop, kom hulle nuuskierig nader, suig aan haar hand of lek haar arms. Sy gee ook nie om om sommer tussen hulle te gaan lê en gesels nie. Sy is oortuig daarvan dat elke Jersey 'n unieke persoonlikheid en geaardheid het. Soos Vier-en-twintig (hulle nommers is ook sommer hul name) wat besonders mak en rustig is.
Ronelle het nog nooit kalwers verkoop nie en sien ook nie uit na Desember wanneer haar eerste 50 kalwers moet verkoop word nie. Danie koop glad nie meer vervangingsverse in nie, en hoewel hul kudde nou effens groter is (die Nels se seun, Sakkie, kom ook eersdaags boer), moet hulle begin briek aandraai, want die melktenk gaan te klein raak. Hulle stel in elk geval nie belang daarin om die grootste melkkudde in die land te hê nie, want dan is daar nie tyd vir mekaar nie.
Ronelle sê hoewel sy altyd geweet het haar besigheidse syfers is gesond, het sy nie geweet hóé gesond totdat sy 'n paar somme vir Landbouweekblad gedoen het nie.
Nie net spaar hulle nou sowat R200 000 per jaar deur nie meer vervangingsverse te koop nie, maar as sy al haar kalwers verkoop, kan sy R384 000 per jaar wins maak.
Vir elke koei wat ekstra gemelk word, dra dit sowat R1 040 per maand tot die melktjek by.
Ronelle is egter nie die enigste een met 'n passie vir haar diere nie. Haar regterhand, Ricardo Philander (20), het voor sy met die kalwers begin het, twee dae per week in haar tuin gewerk.
Sy oë blink terwyl hy gretig van die kalwers vertel. Nog 'n plaaswerker, Boeta Smith, help ook naweke en vakansies met die kalfies uit. Dis duidelik dat die besigheid hul trots is. Vir Boeta en Ricardo het die kalfies al baie meer as net 'n werksgeleentheid beteken.
"Dit is sy menswaardigheid, sy job, sy toekoms," sê Ronelle oor Ricardo.
Ronelle het 'n stelsel geskep daarmee van elke kalf rekord gehou word - dit sluit in voer, medisyne en ouderdom. Danksy dié stelsel kan enigeen enige tyd sien wat die stand van sake met elke kalf is. Dit het ook vir Boeta gedwing om te leer lees en skryf - iets waaroor hy vandag baie bly is.
Vir Ricardo is die spesiale band tussen mens en kalf die besonderste van sy werk. "Die liefde wat jy van hulle kry en die dít wat jy weer moet teruggee, is wonderlik. Hulle vra respek en aandag en 'n mens kan sien hulle wil dit graag hê," sê hy.
Boeta sê: "Dit is 'n plesier. Jy kan sommer in die stal sien die koeie is mooi grootgemaak. Hulle blink sommer."
Ricardo en Boeta se betroubaarheid en kennis stel Ronelle in staat om soms weg te breek, soos toe sy onlangs vir drie weke die Inka-roete gaan stap het.
Nóg Ricardo nóg Ronelle het veel van kalwers geweet toe hulle met die onderneming begin het.
"Man, ek dink 'n vrou het die instink om met diere te werk. Daai moedersinstink kom sterk na vore," sê sy.
"As ek by die hek inkom, kan ek ruik as een siek is.Hulle noemdit stockmanship. Ricardo het dit ook. Hy kom net so gou agter as een van hulle siek is."
Sy het egter by al haar buurmanne gaan kers opsteek en selfs al ry hulle Kaap of Weskus toe, hou Ronelle eers stil om te gesels as daar 'n melkery langs die pad is. Só het sy al goeie vriende gemaak en baie raad gekry.
Die plaaslike veearts, dr. Jacques Malan, gee ook nie om omte help nie - selfs al loop Ronelle hom op die gholfbaan raak en vra advies.
Benewens haar instink en passie vir diere, is daar drie beginsels waaraan Ronelle vashou: Basiese waarneming, higiëne en bies sodra die kalf gebore word.
As 'n vroue-boer het Ronelle baie ondersteuning van haar manlike eweknieë gekry.
"Hulle sê ook reguit 'n vrou het 'n hand met kalwers," vertel sy. Sy vermoed 'n paar van hulle glo nie dat haar kalwers so 'n hoë oorlewingskoers het nie, maar een of twee het al gevra of sy nie hul "kalfiemanne" wil touwysmaak nie.
Sy sê die grootste uitdagingwas om haar werknemers op te lei sodat hulle onafhanklik van haar kan optree en dan natuurlik om haar eie kennis te verbeter.
Danie meen die Jersey-ras gaan in die toekoms baie kompetisie van kruisrasbeeste hê. Daarom is dit belangrik om goeie teelmateriaal te verseker.
Ronelle se sukses stel hulle in staat om die beste beeste te selekteer en hulle beywer hulle daarvoor om oor vyf jaar 'n topkudde Jerseys te hê wat 'n uitstekende stalgemiddelde lewer en 'n hoër winsgrens verseker, sê sy.
Dat Ronelle haar gewig in goud werd is, is gewis.
"As sy nie hier was nie, het ons moeilikheid gehad. Ons kudde het stadig maar seker agteruitgegaan. Hier lê 'n wonderlike tyd vir ons voor en ons is so opgewonde," sê Danie met die oog op die verkoop van kalwers.
"Ek moet mooi na haar kyk," glimlag hy trots.
Landbouweekblad, 9 November 2007