Landbou

Elzette de Klerk by kuikens van twee weke oud.
Foto: Maritha Swart

Soortgelyk
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Boerdery gedy ondanks probleme
Deur MARITHA SWART

Toe Elzette de Klerk van die plaas Winnaarsbaken in die distrik Burgersdorp 'n paar jaar gelede deur die insinking in die volstruisbedryf gekniehalter is, was handdoek ingooi nie 'n opsie nie.

"Ek moes bloot aanhou en uithou," verduidelik sy na aanleiding van die Europese Unie se verbod op uitvoer as gevolg van die voëlgriep-epidemie.

"Omdat grond in ons omgewing skaars is, is uitbreiding - ook wat skaapgetalle betref- nie 'n opsie om die algemene skommelinge in die skaapbedryf (hul hoofboerdery) te troef nie.

"Ons plaas laat dit ook nie toe om na willekeur - soos wat sommige volstruisboere ná die insinking kon doen - van die een tipe boerdery na 'n ander oor te skakel nie."

Sy glo indien 'n mens op 'n volgehoue basis van enige boerdery 'n sukses wil maak, jy (soos in die geval van enige sakeonderneming) moet aanvaar dat die mark sikliese neigings gaan toon.

"Jy kán slaag as jy volhard wanneer die mark afwaarts neig. Enige afwaartse siklus pas na 'n tyd weer opwaarts aan."

Nie dat sy ontken dat die verbod op uitvoer haar swaar getref het nie. In die distrik Gariep waar sy boer, was daar wel nie voëlgriep nie, maar soos enige ander Suid-Afrikaanse volstruisboer is sy gedwing om net binnelands te bemark.

"Ons moes tevrede wees met 'n lae prys weens die skielike ooraanbod van volstruisvleis op die binnelandse mark.

"Ek het egter doelbewus besluit om nie paniekerig nie raak nie, maar uit te hou tot die verbod opgehef is en die uitvoermark se deureweer oopgegaan het."

Elzette se man,Wienie, het sy eie mening oor sy vrou se vermoë omdie probleme suksesvol te troef.

"Ons skaapboere is gewoond aan skommelinge in dié bedryf. Jy maak die een jaar goed geld net om die volgende jaar nie te weet hoe jy gaan oorleef nie," skerts hy.

"Ons is gevolglik nie die skrik op die lyf gejaag toe die volstruisbedryf onverwags dieselfde pad gevolg het nie."

Nóg 'n voordeel van boerdery-tipes waar prysskommelings voorkom, is dat dit boere verplig om bykomende metodes van inkomste te vind,meen die De Klerks.

Soos Wienie,wat as elektrisiën by Eskom opgelei is, sê Elzette.

"Hy het altyd iets anders as boerdery gehad om op terug te val," vertel sy.

"Afgesien van sy skaapboerdery (Dorpers en Dohnes) bedryf hy 'n elektrisiteitsonderneming van die plaas af wat groot projekte vir boere, groot sake-ondernemings en geboue in die distrik behartig. "

Elzette wou egter ook 'n bydrae lewer en was gefassineer deur 'n familielid wat volstruise op kontrakbasis grootgemaak het.

Sy het ses jaar geledemet 30 volstruiskuikens begin. Deesdae koop enmaak sy ongeveer 3 500 kuikens per jaar groot (dagoud tot slagouderdom). Sy bemark die hele dier (vleis en vel as 'n eenheid) vir die uitvoermark en verkoop aan abattoirs op Graaff- Reinet, Grahamstad en Mosselbaai.

Dit was nie 'n maklike pad om te kom waar sy vandag is nie, vertel Elzette. Sy het haar kwota foute gemaak en op die harde manier geleer dat dit nie 'n grap is om volstruiskuikens groot te maak nie. Trouens, daar is geen gewaarborgde resep nie.

"Dit begin en eindig by intensiewe hoësorg. Omdat dit so 'n hoë risiko- en kapitaalintensiewe boerdery is, kan jy nie op jou louere rus nie.

"As jy nie alles insit nie - tyd, aandag én liefde - moet jy liefs nie probeer nie," is haar raad aanmense wat in dié tipe boerdery belang stel.

Dié bedryf leer jou gereeld iets nuuts. "Nes jy dink jy het dit onder die knie of jy te gerus raak en effe laat slaplê, komjy terug aarde toe wanneer jy vrektes kry as gevolg van die een of ander onbenullige fout."

Danksy heelwat bestaande strukture op die plaas (ou skure en 'n ekstra ou plaasopstal) was haar aanvanklike kapitaalbesteding nie so hoog soos iemand anders s'n wat van meet af moet begin nie. Haar enigste uitgawe was die 30 kuikens wat sy gekoop en grootgemaak het.

In haar tweede en derde seisoen het sy op eksperimentele basis kuikens tot 'n gewig van 50kg op kontrak grootgemaak.

"Ek wou kyk of dit meer winsgewend sou wees om sélf groot te maak en te verkoop of om vir iemand anders groot temaak.

"Ek het ook gemeen dat ek meer oor die bedryf sou leer deur eers vir iemand anders kuikens groot temaak voordat ek dit op my eie aanpak."

Hoewel sy kuikens verloor het (weens koue en beginners-onkundigheid), het sy teen die derde seisoen genoeg selfvertoue gehad omop haar eie voort te gaan.

"Ek het toe al heelwat omtrent die bedryf uitgevind en dit sou vir my meer winsgewend wees," vertel sy.

In haar vierde seisoen het sy 200 kuikens gekoop en die daaropvolgende jaar duisend. Deesdae koop sy dagoudkuikens - sowat 3 500 kuikens per jaar en 400 tot 600 op 'n slag. Die kuikens word vir twee weke in spesiale kampe naby die opstal gehou. Elke kamp het honderd kuikens sodat siektes vinnig geïdentifiseer kan word.

"Ek het vier heeltydse vroulike werkers en drie van Wienie se manlike werkers wat met die groot volstruise help.

"Elke vrou kry sowat 300 kuikens om te versorg. Elkeen is verantwoordelik vir deeglike rekordhouding van haar voëls en moet selfs nadoodse ondersoeke doen op voëls wat in haar sorg gevrek het."

Tot op twee weke slaap die kuikens snags in ingerigte "kuikenkamers" toegerus met termostate en warm ligte. Danksy geslotekringtelevisie in die nabygeleë hoofopstal, kan Elzette hulle snags self monitor.

"Ek staan dikwels snags op om op die monitor te gaan kyk of die kuikens nie te warm of te koud kry nie.

Sy sit ook nie die termostaat tussen die kuikens nie,maar hang dit teen die muur.

"Sit jy dit tussen hulle neer, lê sommige kuikens die termostaat toe wat meebring dat die termostaat die verkeerde temperatuurlesing gee en sodoende die verwarmers afskakel. Dit kan daartoe lei dat die res van die kuikens koud kry en mekaar vertrap."

Ná twee weke word die kuikens na beskutte krale geskuif. Hulle slaap snags in 'n ou wolskuur met sewe slaaphokkies. Op ses weke gaan hulle na oop kampies met 'n onderdak-area vir die nag. Van nege weke af word hulle na krale in die veld verskuif met spesiale onderdak-skuiling vir reënweer.

Wanneer kuikens 2,5 maande oud is, word hulle na oop kampe in die veld verskuif totdat hulle slaggewig van sowat 90 tot 95 kg (9 tot 10maande ouderdom) bereik.

Kuikens en volwasse volstruise kry mengsels van fyn mielies, lusern, soja enmelasse. Hulle kry ook 'n spesiale voorafmengsel van 'n voeronderneming in Oudtshoorn.

"Dr. Fanus Cilliers van dié onderneming maak nommerpas-mengsels en gee ook raad oor resepte met die grondstowwe wat ons op 'n gegewe tyd tot ons beskikking het."

Wienie, wat self Elzette se mengsels aanmaak, koop deur die jaar lusern en mielies aan en berg dit op in spesiale silo's wat hy vir dié doel gemaak het. Hy het ook vir haar die res van die infrastruktuur geskep (ekstra krale, kampe, voermengers en -karre) namate haar wins toegeneem het.

Sy bemark net lewende gewig (vleis en velle) en spits haar toe op die uitvoermark.

"Om self te slag en die velle en vleis self te bemark sal nie vir my koste-doeltreffend wees nie. "Ek woon te ver van my afsetpunte. Dit sal duur en tydrowend wees om elke keer wat daar geslag word af te ry na die naaste geskikte abattoir in Graaff-Reinet om kontrole te hou oor die gradering van vleis en dan weer Port Elizabeth toe te gaan vir die gradering van velle.

"Boonop is ek nie 'n bemarker nie. My sterk punt is die suksesvolle grootmaak van kuikens. Ek konsentreer liefs daarop en laat die bemarking aan kenners oor.

Sy het nie afsetprobleme nie. Die prys is tans ook goed - sowat R21 per kilogram.

Elzette gee toe dat sy in 'n hoërisiko bedryf is, maar reken dat fyn, allesomvattende bestuur dit die moeite werd maak.

Wienie stel geen manlike werker aan as sy vrou nie ook vir Elzette kan werk nie. "Só maak die hele huishouding ordentlik geld en is werkers meer lojaal. Ek betaal my werkers goed omdat hulle dikwels oortyd werk en groot verantwoordelikheid het."

Arbeid is nie beperk tot mense nie. Haar twee skaaphonde - Spottie en Coco - help met die aankeer en injaag van kuikens. "Hulle beseer nooit 'n kuiken nie, selfs al is die kuiken hoe halsstarrig," spog sy.

Omdat dit gemiddeld R1 000 kos om een volstruis groot te maak, is deeglike finansiële bestuur noodsaaklik.

"Dagoudkuikens is duur (sowat R250 per kuiken). Ek kan dit nie bekostig om selfs een te verloor nie. Om die ekstra sorg te dra met inentings en goeie arbeid, is eindelik die moeite werd," glo sy. Danksy dié maatreëls het vrektes oor die afgelope jare van 20% tot 8% afgeneem.

Elzette glo dat sy en die sowat sewe ander volstruisboere in die distrik 'n waardevolle ekonomiese inspuiting is vir die platteland en die ekonomie in die algemeen.

"Ons bring nuwe geld na die platteland. Die lusernbedryf in die omgewing floreer ook danksy die groot vraag daarna vir volstruismengsels."

Elzette hoop meer volstruisboere in haar omgewing begin self kuikens koop en grootmaak. Tot onlangs was sy die enigste een wat nie op kontrakbasis kuikens grootgemaak het nie, maar deesdae volg ál meer boere die voorbeeld.

"Ons kan dalk later ons eie abattoirs kry, ons prysbedingingsmag verbeter en dalk selfs hiervandaan uitvoer," droom sy.

  • Navrae: Elzette de Klerk, tel. 051 653 0099 of sel 082 565 5348.

    Landbouweekblad, 30 November 2007