Dié eerste swart vrou met 'n perdestoetery in die land, is net so tuis agter die kospotte van haar avontuurplaas op Sunland as op die renbane van Gosforth Park by Germiston. Sy moes egter hard werk aan haar Droom om vroueboer te wees.
Komende van die Oos-Kaap, was sy van kleins af bewus van die vryheidstryd in die land. Die lewe sou 'n wye draai met me. Phindi Kema (35), eienaar van die Elandskraal-perdestoetery, loop voordat sy haar nis in die lewe sou vind.
Gebore op Komga in die Oos-Kaap, het sy ná haar studie (B.Juris) aan die Universiteit van Fort Hare, 'n betrekking in die kantoor van die Oos-Kaapse LUR vir Behuising en Plaaslike Regering in Bhisho aanvaar. As enkelouer van drie dogters het sy in 1998 na Johannesburg verhuis waar sy by Spescom 'n betrekking aanvaar het. Sy dien vandag steeds op dié maatskappy se direksie.
Dit was egter tydens 'n vlug na Kaapstad dat sy langs die eienaar van Spier, 'n bekende wynlandgoed by Stellenbosch, te lande gekom het. Dié gebeurtenis het haar lewe onomkeerbaar verander.
Hulle het dadelik by mekaar aanklank gevind en sy is aan die bestuurder van die landgoed bekend gestel wat haar 'n betrekking aangebied het om met die binnelandse ontwikkeling van die wynmark behulpsaam te wees.
"Ek was geseë nd om mense te ontmoet wat my visie verbreed het. Destyds was ek nie heeltemal seker waarheen die lewe my sou neem nie. Diep in my het ek egter geweet dat dit iets met landbou te make sou hê.
"Dit was dáár, tussen die wingerde, wat ek die antwoord gekry het."
Sy het die Departement Grondsake genader om te hoor of daar nie 'n plaas beskikbaar was nie.
"Wanneer die amptenary hoor jy het nie ervaring in landbou nie en dat jy boonop 'n vrou is, klap die deure in jou gesig toe. Vir meer as nege maande is ek van bakboord na stuurboord gestuur. Ek was bereid om alles wat ek in die lewe gehad het, op te offer om 'n plaas te huur. My maatskappymotor. Partytjies saam met die glitterati in die Goudstad.
"Die dag toe die antwoord kom dat ek die plaas wat die Departement van Grondsake by Sunland besit, kon huur, het my hart in my keel gebons. Skielik moes ek die verantwoordelikheid aanvaar om 'n plaas van 70 hektaar wat in produksie was en waarop 22 heeltydse en 18 deeltydse werkers hul brood verdien het, oor te neem.
"Soos met enige besigheid, het die werkers onseker gevoel toe ek in November 2006 daar aanland. Hulle het my egter wonderlik ondersteun. Daar moes egter enkeles ontslaan word omdat hulle nie hul kant gebring het nie," vertel 'n borrelende Phindi waar ons onder 'n wit sambreel op die groen grasperk van die avontuurplaas sit.
Vier maande ná haar aankoms op Sunland het sy met haar buurman en die eienaar van die Elandskraal- perdestoetery, mnr. Elwyn Phillips (73), kennis gemaak. Hy was in daardie stadium reeds uiters siek. Elwyn het haar soos 'n eie kind behandel en die wens uitgespreek dat sy die eienaar van sy stoetery sal word.
"Weer moes ek rondskarrel om geld in die hande te kry. Dié keer het dit makliker gegaan, want die amptenare het gesien dat ek my voete in die boerdery gevind het."
Die stoetery word nou onder die naam Iph'iNtombi bedryf. Hoewel sy beroemde telers van renperde op hul voorname ken, loop sy nie daarmee te koop nie.
Die avontuurplaas, met verblyf vir tot 200 skoolkinders, was uit die staanspoor 'n reuse-sukses. Toeriste doen gereeld daar aan.
Benewens die perdestoetery wat haar aandag verg, verbou Phindi sewe verskillende soorte sitrus op die plaas en lewer sy ook lusern en tef aan perdetelers in Port Elizabeth. Daar is ook 'n paar melkkoeie.
Raadgewers van die verskillende maatskappye staan haar by met die verbouing van die verskillende gewasse. Ook die bure gee raad. Sy het 'n opgeleide boekhouer en die Departement van Grondsake besoek die plaas kwartaalliks.
"Ek is bly dat die boerdery so gediversifiseer is en al my eiers nie in een mandjie is nie," sê die vrou wat snags net met vier uur slaap klaarkom.
Haar raad aan ander jong vrou in haar posisie?
"Die lewe is 'n reis en sukses nooit 'n eindbestemming nie. 'n Mens is nooit volleerd nie. Jy moet bereid wees om van ander mense te leer en baie hard te werk. Die sakewêreld is 'n ongenaakbare leermeester. Jy word gedwing om dinge vanuit 'n ander perspektief te benader en om voorheen onhaalbare doelwitte -omdat jou vel swart was - te verwesenlik."
Phindi sê hoewel groot uitdagings op haar wag, dit haar nie afskrik om 'n sukses van die onderneming temaak nie.
"Dit gaan egter nie vir my om wat ek eendag besit nie, maar eerder hoe ek as entrepreneur gaan slaag." Dan, effens driftig: "Ek glo nie aan stereotipes nie. Niemand moet my jammer kry net omdat ek swart en 'n vrou is nie."
Die halfuur wat vir die onderhoud ingeruim was, word 'n uur. Sy dring daarop aan dat daar eers ligte middagete geniet word. Die lemoensap waaraan ons teug, kom uit die boorde waaroor ons uitkyk.
Is sy 'n rolmodel in die gemeenskap? Sy skaterlag.
"Nee, ek weet nie. Solank ek vir my kinders 'n voorbeeld is, sal dit 'n wonderlike kompliment wees".
Buite hou 'n voertuig vol gaste stil. Haar sekretaresse herinner haar diplomaties aan nog 'n afspraak. Sy stap saam na die motor en gee 'n mandjie vol nawels saam. Later, wanneer adv. Amon Nyondo, die hoof van die departement van landbou in die Oos-Kaap, gevra word of hy Phindi ken, glimlag hy betekenisvol. "As ons méér sonskynvroue soos sy in landbou het, sal daar nooit hongersnood wees nie," kom die antwoord.
Landbouweekblad, 18 Januarie 2008