.jpg)
Die donkie is 'n wonderlike ding. Of daar altyd so wonderlik na hulle omgesien word, betwyfel Annemarie van Zijl, 'n donkie barmhartige en "ma" van agtien "afgetrede" donkies.
Toe twee donkies sewe jaar gelede op versoek van die Dierebeskermingsvereniging by die hek van Annemarie en haar man, Johan, se groot dorpserf op McGregor inkom, het dié twee langore net een pad gekies: reguit in die Van Zijls se harte in. Nooit sou hulle kon raai dat dít die begin van 'n volwaardige donkie toevlugsoord met internasionale belangstelling was nie.
Vaal en Japie was twee lewensmoeë donkies met 'n klompie harde jare agter die rug by die baksteenmeule net buite die dorp. Volgens Annemarie was die twee nie soseer maer nie, maar baie teneergedruk. "Hulle het floreer op die nuutgevonde aandag," sê sy. En kort voor lank was Vaal en Japie 'n toeristeaantreklikheid vir talle stadsjapies. "Eers was dit net vriende se kleinkinders wat na hulle wou kom kyk. Later was dit sommer enige naweekganger op die dorp." Toe Annemarie begin oproepe kry van mense wat 'n veilige tuiste vir oorwerkte, verwaarloosde of bloot ou donkies gesoek het, het sy besef daar is 'n behoefte aan iets soos 'n reservaat vir hierdie spesiale diere.
Op 'n stadium moes sy huise kry vir agt donkies. Dié moelike taak het haar laat besef dat die tyd ryp was om vir 'n stukkie grond vir die beplande "donkie reservaat" te soek. Die grondsoekery blyk toe makliker te wees as om huise vir die donkies te kry nadat 'n boer van die omgewing, Botha en sy vrou, Ina Naudé, ingestem het om 'n stuk van hul grond vir die donkies af te staan.
Toe begin die voorbereidingswerk. Johan het drie werklose mans van die dorp gehuur om hom te help om doringbome uit te haal. Daar moes ook draad gespan word, want oor een ding was hulle van die begin af seker: goeie buurmanskap is belangrik. En vir dít was drie kilometer se donkie-bestande draad nodig. "Die voorbereidingswerk het sowat ses maande geduur, "sê Annemarie. En die drie mans wat aanvanklik gehelp het, help nog steeds met die nimmereindigende taak van mis optel en onkruid-uittrek.
Die Van Zijls se donkie toevlugsoord is een van twee in die Wes-Kaap (die ander een is die Barnyard Donkey Sanctuary buite George) en bied vandag 'n tuiste vir 18 donkies. "Ons is nou besig om hierdie donkies te stabiliseer. Hulle het almal baie aandag nodig. Hulle is erg verwaarloos, veral hul hoewe," sê Annemarie.
Eseltjiesrus, soos die toevlugsoord skaars twee kilometer buite McGregor bekend staan, is 'n nie-winsgewende organisasie en is afhanklik van donasies. Hulle maak ook self geld bymekaar met die verkoop van spesiale donkie-kaartjies wat deur 'n plaaslike kunstenaar gemaak word en die "Neem-'n-donkie-aan" projek. "Op ons webtuiste nooi ons mense van regoor die wêreld om 'n donkie vir 'n jaar aan te neem." Só het drie van hul donkies al aanneemouers in Australië, Engeland en Switserland gekry! Hoeveel dit jou gaan kos, sal afhang van die soort ondersteuning wat jy vir jou donkie in gedagte het, verduidelik Annemarie. Daar is drie opsies: As jy wil bydra tot die voer van 'n donkie vir 'n jaar lank, sal dit jou R50 per maand (R600 per jaar) uit die sak jaag; teen R90 per maand (R1 080 per jaar) sal jy vir al die maaltye van een donkie pa staan; en teen R150 (R1 800 per jaar) sal 'n donkie danksy jou goed versorg én gevoer word.
"Sodra jy jou donkie aangeneem het, kry jy 'n foto van hom of haar én 'n aannemingsertifikaat." Annemarie-hulle beloof ook twee vorderingsverslae per jaar vir die aanneemouer. Sy sê hulle bemark die donkie-annemery - wat net 'n papiertransaksie is! - as die ideale verjaarsdag- of Kersgeskenk."
Eseltjiesrus spog ook met sy eie restaurant waar middagetes onder die doringbome en tussen eienaars Jimmy en Debbie Hall-Reece se ganse en kapokhoendertjies bedien word.
Besoekers by die donkie toevlugsoord kan die donkies borsel en met hulle praat. "Dit is ongelooflik hoe goed die donkies reageer op aandag en liefde. Hier by ons kry hulle waarskynlik vir die eerste keer in hul lewens 'n wortel sonder om iets in ruil daarvoor te doen. Hulle is eintlik maar soos groot honde," sê Annemarie.
Hoewel donkie se kind al vir jare as 'n doeltreffende vervoermiddel ('n donkie kan 'n vrag van tot 700kg dra, maar behoort dit beslis nie elke dag te doen nie!) in veral afgeleë gebiede ingespan word, word hulle maklik opsy geskuif sodra die eienaar 'n enjin-gedrewe vervoermiddel kan bekositg. Dié diere, wat tot vyftig jaar oud kan word, bly egter 'n nuttige werkesel op enige plaas - sommige boere gebruik hulle selfs as skaapwagters.
En volgens Annemarie wink daar ook baie geleenthede vir donkies op "groen" plase. "Donkiemis is wonderlike mis en 'n donkie in plaas van 'n trekker voor die ploeg kan jou koolstofvoetafdruk aansienlik verklein," skerts sy.
Die donkie toevlugsoord gaan egter nie net oor donkies nie. "Die boodskap wat ons wil uitstuur is eintlik een van respek en liefde vir alles en almal wat lewe. Ek het een dag 'n plaaslike jong man wat verby die donkiekampie gestap het terwyl ek met een van die donkies gewerk het, hoor sê: 'As ons mense darem kan sien hoe mooi werk hulle met die donkies, sal hulle dalk ook so mooi met hulle diere en kinders werk'."
Hoewel die donkies by die toevlugsoord afgetree is, word hulle tóg nog ingespan om iets vir iemand te beteken. Die rol wat die donkies speel om pasiënte by 'n plaaslike post trauma-oord te help herstel is veral vir Johan, wat 'n geregistreerde sielkundige is, baie spesiaal. Hy sê die gebruik van diere in terapie is 'n erkende praktyk. Die donkie toevlugsoord word ook opvoedkundig ingespan. Hierdie astrante diere word so maklik misbruik en hul hardkoppigheid word dikwels verkeerd verstaan. "Dit gebeur hoofsaaklik omdat mense net nie van beter weet nie, sê Annemarie. Daarom is een van Eseltjiesrus se ander boodskappe dat 'n goeie werkesel 'n gesonde en sterk donkie is. "Ons wil hê die mense moet weet dit is ook tot hulle voordeel as hulle hul donkies mooi oppas."
Sedert die toevlugsoord vir die publiek oop is, nooi hulle skole in die omgewing vir daguitstappies en bied Annemarie ook opleiding vir donkie-eienaars aan. "Ons wil mense leer hoe om 'n tuig reg te gebruik, 'n donkiekar reg in te span en van die daaglikse versorging van donkies. Baie min donkie-eienaars besef byvoorbeeld dat donkies gereeld ontwurm moet word." Annemarie het ook in samewerking met 'n onderwyseres van 'n Kaapstadse laerskool 'n unieke donkie-projek vir graad 3-leerlinge ontwikkel. Die projek - wat allermins na donkiewerk klink - toets onder meer kinders se entrepreneurs- en leesvaardighede, leer hulle van biologie en help hulle met somme. Dit rol vanjaar na drie ander skole in die omgewing uit.
Annemarie sê hulle is baie trots op Eseltjiesrus. En sy kan inderdaad wees, sê inwoners en ander lede van die gemeenskap van die klein dorpie duskant Robertson. Die hele McGregor is omtrent betrokke by die toevlugsoord. Almal is genooi na die amptelike opening en almal is enige ander dag welkom op Eseltjiesrus.
"Ons koop net voer van boere in die omgewing en is baie dankbaar vir die plaaslike hoefsmid en 'n plaaslike veearts wat ons help om die donkies te versorg. Boonop kry die dorp 'n lekker ekonomiese inspuiting met al die aandag wat die donkies nou geniet."
Toe die donkie toevlugsoord in November 2007 amptelik geopen is, was die bekende kunstenaar en liedjieskrywer, David Kramer wat ook die beskermheer van die toevlugsoord is, daar. Hy moedig ander bekendes en toepaslike organisasies aan om ook die projek te ondersteun. Intussen is Vaal en Japie, die stigterslede van die toevlugsoord, steeds twee uiters bekwame skakelbeamptes.
Annemarie en Johan het nog baie planne vir die donkie toevlugsoord soos 'n sirkel-staproete in die omgewing, waar hulle poog om ten minste een boom per week te plant. Maar eers moet daar 'n skuiling vir die oues van dae, 'n drukgang en 'n klein hanteringskampie gebou word wat gebruik kan word as die veearts of hoefsmid kom besoek.
"As ek soms na die donkies kyk, kan ek sien hulle dink hulle is nou in die hemel," sê Annemarie wat nog altyd 'n groot perdeliefhebber was maar intussen - soos sy self sê - opgradeer het na donkies.
Besoek Eseltjiesrus se webtuiste by www.donkeysanctuary.co.za of skakel Annemarie van Zijl by 023 625 1593 vir meer inligting.
30 Januarie 2008