
Anneliese is 'n gedissiplineerde, gedrewe sakevrou wat nie geskroom het om die globale mark sonder geldelike rugsteun te takel en 'n skitterende sukses te maak nie. Hoewel sy met Maranki's - haar onderneming wat babaprodukte vervaardig - regstreeks die reuse-Chinese babaklerebedryf die stryd aangesê het, het dit haar nie afgeskrik nie. Dit het haar juis gemotiveer om nie net beter nie, maar ook goedkoper produkte te lewer. Dié getuigskrif van die beoordelaars het Anneliese Carstens van die plaas Gelukshoop buite Bonnievale in die Wes-Kaap die titel van Landbouweekblad/Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur vir 2007/'08 besorg. As derde entrepreneur wat dié titel inpalm, wen Anneliese R60 000 en 'n jaar se subskripsie op Landbouweekblad.
Anneliese het dertien jaar gelede begin om op 'n ou naaimasjien haar eerste babaprodukte te maak omdat sy graag haar eersteling self tuis wou versorg. Nadat sy 'n kinderspeelmat by iemand se huis gesien het, het sy besluit om haar hand aan 'n soortgelyke mat te waag. Haar man, Tertius, het dit bemark en aan babawinkels, soos Mother's Love in Kaapstad, verkoop. Wanneer die baba saans na sewe geslaap het, het Anneliese tot twaalfuur gewerk. Omdat sy geen geld gehad het om haar onderneming mee te begin nie, het sy die R6 000 se aandelegeld wat haar pa vir haar kinders gegee het, geleen om aan die gang te kom terwyl sy ook nog twee jaar by Parmalat gewerk het.
Ná 'n jaar het sy vier produkte op die mark gehad: 'n Speelmat, 'n driehoekkussinkie sodat die baba nie op sy rug of maag kan draai nie, 'n borsvoedingkussinkie en 'n speelgoedmandjie. Later het sy haar produkte, wat frokkies, speelpakkies, mussies en lapskoentjies ingesluit het, tot in Gauteng versprei. Verskeie ander produkte het gevolg.
Anneliese spits haar egter hoofsaaklik op beddegoed, soos lakens en duvet-oortreksels, toe en maak ook speelgoed, karstoeloortreksels, handdoeke, waslappe, speelmatte en slaapsakke. Haar naaldwerkkamer was gou te klein en sy moes na die motorhuis verskuif vanwaar sy eindelik na die ou plaasskuur - wat intussen tot 'n fabriek opgegradeer is - beweeg het. Waar sy aanvanklik deur haar huishulp en 'n afgetrede naaldwerkonderwyseres bygestaan is, het sy gou werkers - net vroue - uit Bonnievale gekry en hulle eiehandig opgelei. Later kon die werkers mekaar ook oplei sodat hulle mekaar met verskillende take kan aflos. Die meeste van die 23 vroue wat vir haar werk, is enkelma's wat voorheen werkloos was.
Maranki's lewer tans produkte aan oor 'n honderd winkels, onder meer Baby Boom en Baby City, wat landwyd takke het.
Anneliese glo haar sukses kan toegeskryf word aan goeie produkte, eerlikheid met kliënte, harde werk en 'n vaste vertroue in God.
"Ek glo daaraan om iets voluit en deeglik te doen. My raad aan ander vroue wat 'n eie onderneming wil begin, is om vas te byt. Ek wens hulle ook 'n ondersteunende eggenoot - soos my eie - toe wanneer hulle voel na tou opgooi."
Anneliese sê:"As ek alles sou kon oordoen, sou ek beslis meer tyd aan personeelopleiding bestee eerder as om opgeleide mense te soek om die werk te doen. Opgee was nooit eintlik iets wat by my opgekom het nie, aangesien die onderneming 'n uitdaging was wat ek aan myself gestel het. Met die ondersteuning van my man, Tertius, kon ek dit heelhartig uitleef."
Waarom dié kompetisie?
Landbouweekblad /Sanlam se Landbouvroue-entrepreneurskompetisie wil erkenning gee aan
vroue wat daarin geslaag het om 'n suksesvolle onderneming op die plaas tot stand te bring.
Dié ondernemings is dikwels uit nood gebore wanneer die boerderyinkomste alleen nie genoeg was om die mas op te kom nie. Ook die gemeenskap word deur dié vroue se ondernemingsgees bevoordeel deurdat hul besighede werk skep waar voorheen geen geleenthede was nie.
Soos in die verlede spreek vanjaar se inskrywings van vroue met deursettingsvermoë, ondernemingsgees en sakevernuf. Ons hoop dat dié kompetisie daarin sal slaag om vir elkeen van dié vroue - indien nie 'n wenplek nie - 'n mate van blootstelling en erkenning te gee vir hul onmiskenbare bydrae tot hul onderskeie gemeenskappe en die landbou-omgewing in die breë.
4 April 2008