Landbou

Die Karoo Moon-kokke: Judi en Lisa
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Karoo Moon wil plaasgevoel behou
Deur SIMONA SHARP (ssharp@landbou.com)

Vir twee boervroue van die Karoo vorm hul uiteenlopende persoonlikhede en heilsame produkte die basis vir 'n wenresep sodat hul jong onderneming jaarliks met 'n verdubbelde omset spog en hulle nou die vrug op hul arbeid kan geniet.

Toe Judi Sheard en Lisa Watermeyer van Karoo Moon 'n paar jaar gelede begin het om op klein skaal spyseniering te doen, het hulle nooit kon dink dat dit die voorloper vir 'n gesamentlike onderneming met groot moontlikhede sou wees nie.

Hoewel hulle onderskeidelik 17 en agt jaar in die Karoo woon, kom albei van buite dié omgewing. Judi, oorspronklik van Oos-Londen, woon saam met haar man, Howard, op die plaas Weltevreden by Graaff-Reinet, terwyl Lisa, 'n oud-Durbaniet, en haar man, Kevin, op die buurplaas, Zuurplaats, bly.

"Ons mans en familie was vriende en ons is albei lief vir kosmaak. Die spyseniering het amper vanself gebeur, " vertel Judi.

Hoewel die vroue se persoonlikhede baie verskil - Lisa is perfeksionisties terwyl Judi weer sterk ondernemingsgees aan die dag lê - werk hulle goed saam. "Ek het jare lank met 'n resep van my skoonma in my agterkop rondgeloop vir 'n soet-suur-piekel wat jy saam met kaas op 'n toebroodjie eet, " vertel Judi. "Ek wou ook bitter graag 'n slaaisous bottel. Toe ek eendag vir Lisa van my planne vertel, was sy vuur en vlam.

"Ons het dadelik begin koppe bymekaarsit. Ek het die piekel-resep gehad en Lisa het met 'n sjokoladesous vorendag gekom. 'n Resep vir beetkonfyt het ons uit 'n tydskrif gekry en aangepas. "

Karoo Moon, wat hulle om die helfte besit, het stadig begin, maar die twee vroue het uit die staanspoor besluit dat hulle dit minstens vier jaar sou gee om behoorlik momentum te kry.

"Ons was nuwelinge in die sake-omgewing en moes in gedagte hou dat ons op plase in die Karoo woon waar ons dinge moeilik in die hande kry, " vertel Lisa. "Die verkryging van produkte en middele, soos bottels, en die verspreiding van ons produkte was uit die staanspoor 'n groot hindernis. Maar ons het besluit om dit sáám aan te pak en net vanuit ons kombuise te werk. "

Vir albei vroue was dit belangrik dat die "plaasgevoel" in hul produkte behoue moes bly. Om dié rede koester hulle nie in dié stadium drome van 'n fabriek nie.

"Ons het reeds 'n gevestigde reeks van produkte uit ons omgewing, soos die brood-en-botter-piekel, kweperjellie en kruisementsous wat ons saam met Karoo-lam verkoop.

"Maar ons wil ook graag ander produkte in die bestaande reeks opneem sonder dat die onderneming te groot raak om te behartig. As laasgenoemde gebeur, boet 'n mens gehalte in en verloor jy beheer oor jou hele besigheid, " meen Judi.

Hoewel hul "boeke" in die stadium wys dat hulle elkeen net een heeltydse werker in diens het, maak hulle van 'n hele paar vroue op 'n deeltydse basis gebruik, sê Lisa.

"Dis moeilik om te sê hoeveel vroue tans vir ons werk omdat ons al die vroue inspan wat op die plaas tot ons beskikking is. Judi kan drie vroue gebruik, maar sy het hulle nie noodwendig almal gelyk nodig nie, terwyl ek twee het wat heeltyds werk, maar soms ook ekstra hande nodig kry. Dan kan ek weer van Judi se werkers gaan "leen". Tydens druk tye help 'n hele klomp vroue gelyk. " Die werkers het hul eie trots in die produkte ontwikkel, meen sy. Waar hulle aanvanklik die produkte sou bottel sonder om aan die gehalte van die inhoud aandag te gee, huiwer hulle nie meer om te kom sê as iets skort nie, sê Lisa.

Kommunikasie in dié tipe onderneming is van groot belang omdat hulle met bederfbare produkte werk. Sommige produkte verkoop so vinnig as wat dit gemaak word, terwyl hulle van ander 'n voorraad kan opbou sodat hulle genoeg het wanneer groot bestellings geplaas word. Die slaaisous is die enigste vars produk wat verkoel moet word. Om dié rede word dit net in Johannesburg - waar iemand dit vir hulle maak - en Kaapstad versprei.

"Ons werk soos 'n geoliede masjien, " sê Judi. "Dit verg goeie koördinering omdat produkte verlore gaan as alles wat nodig is om dit te bottel nie gelyk beskikbaar is nie. Boonop kan 'n mens nie net in jou motor klim en 60 km ry om iets te gaan koop wat jy nodig het nie.

"Ons topverkoper, die brood-en-botter-piekel, is Lisa se verantwoordelikheid. Sy weet al hoeveel sy daarvan moet maak om voor te bly, terwyl ek vir die sjokoladesous - die naasgewildste produk - en beetkonfyt verantwoordelik is.

"Ons het die werkers ook al tot so 'n mate opgelei dat hulle sélf van die produkte kan maak. "

Intussen het hulle 'n goeie gevoel ontwikkel sodat hulle produkte wat min raak, vroegtydig aanvul en weet wanneer groot hoeveelhede van 'n produk beskikbaar moet wees.

"Omdat ons nou 'n beter stelsel ontwikkel het, behoort ons teen die einde van die jaar te kan bepaal watter produkte die beste in sekere gebiede verkoop en watter op spesifieke tye van die jaar meer in aanvraag is, " meen Lisa.

"'n Mens moet goed beplan, want as jy die slag drie werkers beskikbaar het, moet jy sorg dat daar 'n hele paar dinge gelyk afgehandel word.

"Dit duur drie dae om komkommers te piekel. Terwyl dít gebeur, kan kruisementblare geoes word terwyl iemand beet in die kombuis kook.

"Intussen moet die administratiewe werk ook gedoen word. Dis moeilik om ons werksure vas te pen omdat ons soms vroeg in die oggend begin en ander tye weer tot laat in die aand besig is. "

Daarom het hulle uit die staanspoor besluit dat hul werk moet inpas by dít wat in hul lewens gebeur, vertel Judi. "Ons kan nie bekostig dat ons lewe tot stilstand kom omdat ons 'n besigheid bedryf nie. "

Hoewel bemarking aanvanklik hul grootste probleem was, het hulle intussen agente in Johannesburg, Durban en die Oos- en Wes-Kaap gevestig wat sorg dat hul produkte in van spa's tot tuisnywerhede en kaaswinkels verkoop word. Hulle het ook 'n vaste kliëntebasis opgebou. Ook hul plaaslike mark is baie lojaal, soos 'n man in Nieu-Bethesda wat bokmelkkaas maak en dan hul produkte saam met sy kaasborde verkoop.

Verlede jaar het hulle sowat 15 000 botteltjies van hul produkte van die hand gesit.

"Baie van die produkte wat ons gebruik, word in die omgewing verbou of aangekoop, " vertel Judi. "Die kruisement en beet probeer ons self voorsien terwyl ons uie op Nieu-Bethesda koop. Die oorspronklike komkommers wat my skoonma vir die brood-en-botter-piekels gebruik het, het sy self gekweek, maar dit was nog van die ou soort met die taai skil. Ons gebruik Engelse komkommers wat in tonnels gekweek word. Die produkte vir die slaaisous word ook deels plaaslik gekoop. "

Weens hul afgesonderde ligging is vervoerkoste baie duur en in dié stadium Karoo Moon se grootste oorhoofse uitgawe. Leë bottels moet van 'n fabriek in Port Elizabeth na hul plase gebring word waarna dit met produkte gevul en met behulp van 'n koerierdiens na hul kliënte gestuur word. "As ons 'n goedkoper manier kan vind om ons produkte te versprei, sal dit 'n groot invloed op die huidige prys van Karoo Moon se produkte hê, " meen Judi.

Hulle het 'n langtermyndroom om eendag 'n Karoo Moon-winkel te hê.

"Judi is soos 'n pakkie dinamiet, " meen Lisa. "Wat sy in 'n dag vermag kry, kan min mense haar nadoen. Saam met haar werk vir Karoo Moon, kleur sy haar eie wol vir kliënte in Johannesburg.

"Op die oomblik vervaardig Karoo Moon kosprodukte, maar dit kan net sowel in wolprodukte verander. Ons wil 'n agterdeur oophou sodat ons onderneming ook ander vertakkinge kan hê. "

Hulle moet hulle ook laat lei deur dít wat hul mans op die plaas doen, voeg Judi by. "Lisa se man boer met Nguni-beeste. Dalk kan ons oor 'n rukkie iets met dié diere se velle doen.

"Ons moet in staat wees om saam te werk met alles wat op ons onderskeie plase gedoen word. Alles op die plaas vorm 'n geheel - dít is hoe die plaasgemeenskap werk. Dit is ook belangrik dat ons met produkte van die Karoo werk soos ons naam impliseer. "

Omdat hulle so verskillend is, voel die een nie beledig as sy deur die ander een gekritiseer word nie, sê Judi.

"Ek weet Lisa is 'n perfeksionis en ek lag daaroor, want ek sal nooit dieselfde werk as sy kan lewer nie. Dis goed só, want daar is fyn afrondingswerk - soos die was van die bottels en die plak van die etikette - waar Lisa se fyn oog vinnig foute raaksien. Ek is weer die kalmer een. Daarom sal ek vinnig vir Lisa oor die telefoon vra om liefs met haar man te praat as die onderneming se finansies ter sprake kom, " lag sy.

"Die Karoo en kinders het 'n gelykmakende effek op 'n mens. Jy kan nie anders as om die krag van geduld aan te leer nie. "

Daarvan kan albei vroue getuig. Judi het 'n seun, James (13) en tweelingdogters, Kate en Jessica (11) en Lisa 'n seun, Peter (6), en dogtertjie, Hanna (3).

Om iets te vind waarmee jy vir jouself 'n inkomste kan genereer sonder om van die plaasinkomste te gebruik, is die moeilike deel van 'n boer se vrou wees, meen Judi.

"Hoewel ons nou, ná drie jaar, nog nie eintlik wins in ons sakke kon steek nie, glo ons dat ons nou 'n punt bereik het waar dinge kan begin verander, " sê Lisa.

"Enigiemand wat sê dat 'n mens net lekker op 'n plaas bly, het nie 'n benul wat regtig aangaan nie. Dis harde werk. Daarom bedryf ons Karoo Moon vir plesier, ja, maar ook vir wins. "

Hulle wil graag nóg 'n paar produkte tot hul bestaande reeks voeg. Hoewel hulle nie só wil uitbrei dat hulle die besigheid nie self kan hanteer nie, wil hulle begin om 'n inkomste te genereer waarmee hulle gemaklik voel.

"Ons moet 'n punt bereik waar dit duidelik word of dié groter inkomste deur meer produkte of 'n ander manier van werk bereik gaan word. "Vanuit 'n boekhoudingskant het Karoo Moon in drie jaar jaarliks sy omset verdubbel. Ons is dus gelukkig met ons groei.

"Maar ons het 'n klomp tyd, geld en beplanning ingestoot. Ons wil dinge nou meer vaartbelyn maak sodat ons die vrugte op ons harde werk kan pluk. "

Navrae:

  • Judi Sheard, tel. 049 841 1400; sel 082 781 6882, e-pos: weltevreden@wam.co.za.
  • Lisa Watermeyer, tel. 049 841 1452, e-pos: zuurplaats@telkomsa.net. Webwerf: www.karoomoon.co.za.