
Kraakvars groente. Gister nog op die lande. Vandag afgeskil en in die spens van kieskeurige sjefs. Dit, in 'n neutedop, is die wenresep waarmee 'n boervrou van Gamtoos in die Oos-Kaap en haar vennoot binne sewe jaar 'n sake-onderneming van 'n multimiljoen rand opgebou het. Dit het egter nie alles op 'n goue skinkbord gekom nie.
Atleties gebou en sonder grimering is dit 'n borrelende Laetitia Ferreira (40) wat my kort voor agtuur by Loerie Processed Veg op die dorp verwelkom. Die telefoon lui onophoudelik met groentebestellings wat instroom.
Me. Kowie Botes, die sekretaresse, moet bontstaan om alles op 'n wit bord neer te pen. Buite hou 'n vragmotor met aartappels, pampoene, wortels, patats en broccoli stil. In een van die kamers wat deur die glaspaneel aan 'n kliniese hospitaalteater herinner, is drie vroue in blou uniforms en kappies behendig besig om aartappels te skil. Nóg een druk dit in 'n masjien wat die groente in eweredige, langwerpige skyfies uitspoeg. Langsaan staan twee ander werkers wat elke bestelling noukeurig weeg en in die koelkamer se rakke onder bekende name, soos Volkswagen, Telkom en Vodacom, stapel.
"Ja, lag Laetitia, "eintlik het ons dag al om 04:00 begin toe die geskilde groente in die afleweringsvoertuie gelaai is om die bestellings teen 05:00 en 08:00 in die Baai en Uitenhage by die kliënte te besorg. En gewoonlik kom ek of my vennoot eers ná 19:00 saans weer tuis."
Dié oud-handelsonderwyseres en ma van twee weet nie van stilsit nie. Gebore entrepreneur, het sy ná haar huwelik met Denro, die oudste van vier broers, 'n ruk aangehou onderwys gee. Eers by Framesby in die Baai en later by die Hoërskool Nico Malan in Humansdorp.
Ná die geboorte van haar eersteling, Lara, het sy 'n paar maande huisvrou gespeel. Toe die onrustigheid haar beetpak, word sy 'n konsultant vir 'n onderneming wat opvoedkundige speelgoed bemark.
"Buitendien het my huishulp, Victoria, 'n baie beter ingesteldheid gehad om vir Denro, sy pa en drie broers, wat gereeld by ons kom eet het, kos te kook," skerts sy.
Vandat Laetitia plaasvrou geword het, het sy gemeen die familie kon meer doen om waarde by hul groenteboerdery te voeg en só minder aan 'n wisselvallige varsproduktemark uitgelewer te wees. Een moont-likheid was om die groente op die plaas te verwerk en dan te bemark. Vrese dat die afvalwater moontlik plantsiektes kon veroorsaak, het haar van dié planne laat afsien.
Toe gebeur daar iets wat haar lewe ingrypend verander het. Hulle het agtergekom dat klein Lara nie soos ander kinders van haar ouderdom wou praat nie. Dit is as Aprixia, 'n leergestremdheid, gediagnoseer. Die verskillende soorte terapie wat sy moes ontvang, was duur. Min of meer in dieselfde tyd het 'n familievriend, mnr. Stanley Smith (46), te hore gekom van 'n voedselverwerkingsonderneming in die Baai wat sy deure gaan sluit.
"Dit was die geleentheid waarvoor ek al die jare gewag het. Ons moes binne 'n naweek besluit of ons al die toerusting van die onderneming wat sou sluit, wou koop. Ter wille van finansiële onafhanklikheid het ek my aanvangskapitaal van R50 000 by die bank geleen. Ons het oë toegeknyp en die tweedehandse toerusting aangeskaf. 'n Beslote korporasie is gestig waarin elkeen 'n aandeel van 50% hou."
Die enigste geskikte gebou op Loerie is ontruim om plek vir die groente-aanleg te maak. Meer as 'n honderd mense van die omgewing het vir werk kom aanklop. Agt van hulle is aangestel.
Hul eerste prioriteit was om met die besighede waarmee die vorige onderneming sake gedoen het, kontak te maak en 'n voortgesette diens te verseker. Met die groot kapitaalbesteding, maar min ervaring, en die bestellings op hande, moes sy en haar vennoot die eerste paar weke sélf met die skilwerk en aflewering help. 'n Egpaar van Loerie het later aangebied om met die aflewering te help. Die eerste maand se omset was R52 000.
Nou, sewe jaar later, beloop dit meer as R400 000 per maand. Onder hulle 60 gereelde kliënte tel van die grootste ondernemings in die Baai, fabrieke, koshuise, ouetehuise en al die staatshospitale in Port Elizabeth, Jeffreysbaai en Uitenhage.
Hoewel hulle tans maandeliks sowat 15 000 km aflê om die aflewering te doen, blyk die plasing van die aanleg langs die teerpad, in die hart van die Gamtoosvallei, 'n baie goeie besluit te wees aangesien die produkte wat verwerk word nie ver aangery hoef te word nie. Waar moontlik, koop hulle uitsluitlik groente, vrugte en sitrus van boere, insluitend opkomende boere in die vallei. Sowat 780 ton verwerkte produkte word tans per jaar bemark.
Laetitia meen die feit dat hulle ná ses jaar steeds 95% van hul oorspronklike klante behou het, 'n getuigskrif is dat hulle woord gehou het om ses dae per week vars produkte op tyd in hul klante se kombuise te verseker. Ook die boere by wie hulle produkte koop, en wat binne sewe dae betaal word, is gelukkig met die bedeling.
Historiese gegewens word gebruik om projeksies te maak oor die verwagte groentepryse waarvolgens die pryslyste saamgestel word. "Ons probeer om dit so min moontlik te verander, al beteken dit soms dat ons, soos dié week waarin geen plaaslik verboude skorsies beskikbaar is nie, dié groente ten duurste op die varsproduktemark in die Baai moet koop."
Die ondernemings wat in groot maat aankope doen, vind dit baie meer kostedoeltreffend om die verwerkte, vars produkte te koop eerder as om self op die markte te gaan rondsnuffel. Boonop beteken dit minder vermorsing wat met die skil gepaardgaan.
"Die vars geskilde groente is nie net baie goedkoper as bevrore en geblikte produkte nie, maar ook gesonder omdat dit as ?t ware van die land op die bord kom."
Laetitia kan nie uitgepraat raak oor die sinergie tussen haar en Stanley nie. "Ek is die emosionele een wat op die boekhouding, die kliëntbehoeftes en die opleiding van die werkers fokus. Hy is rustig, behartig die voorrade, hou kontak met die boere en sorg dat al die toerusting en voertuie altyd in 'n goeie werkende toestand is."
Ondanks die feit dat dié onderneming in die kleinhandel-kategorie val waar die afsnypunt vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) vir klein- en mediumbesighede R5 miljoen per jaar beloop, het hulle nogtans besluit om op 'n vrywillige grondslag daaraan deel te neem. Hulle telkaart staan op 76%. Hulle is ook lid van Foodbev, die gesagsliggaam vir onderwys en opleiding vir die kos- en drankvervaardigingsbedryf. Die werkers word gereeld op opleidingskursusse gestuur.
Die onderneming is onlangs opgegradeer om aan die hoogste higiëniese standaarde en naspeurbaarheid te voldoen. Selfs die afvalwater word in 'n put gestort en later uitgepomp.
Laetitia sien die hand van die Vader in elke aspek van die onderneming. Toe haar man op 34 'n ernstige hartprobleem gekry het, kon sy help om al die bykomende mediese uitgawes te dra. Toe hulle die gebou wat hulle gehuur het wou koop, het die eienaar dit teen 'n baie bekostigbare prys aangebied. Ondanks duisende kilometers wat afgelê is, was nie een van die afleweringsvoertuie nog in 'n ongeluk betrokke nie.
Vandag kan Lara (14) private onderrig ontvang.
As kind het Laetitia haar pa al van graad 8 af in die koôperasie gehelp. Sy meen dit het haar gehelp om oordeelkundig met geld te werk. Selfs haar seun, Frank (12), plant reeds sy eie kool wat hy aan haar lewer. "Lara het op my pad gekom om te leer wat geduld in die lewe is. Ek het mense in die verlede volgens hul prestasie getakseer. Vandag weet ek daar is ook ander lewenswaardes.
"Die wêreld om ons is vol geleenthede. As ek as onderwyser 'n sukses van 'n onderneming soos dié kan maak, is daar honderde ander plaasvroue wat dieselfde kan doen. Geluk kan nooit in terme van geld gemeet word nie, maar eerder aan die verskil wat 'n mens daarmee in die lewe van andere om jou kan maak. Hoewel dit 'n fyn balanseertoertjie is en baie energie verg om 'n goeie ma én sakevrou te wees, is dit moontlik as jy geseënd is met 'n man en ondersteuningsnetwerk soos ek het," sê Laetitia wanneer sy met die groetslag seker maak dat ek nie met leë hande weggaan nie.
Navrae: Loerie Processed Veg, tel. 042 287 0625. E-pos: loerieveg@lantic.net.