Landbou

Me. Jean Budler by een van haar ponies, Llandilo Squire.
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Ponies - van tydverdryf tot besigheid
Deur THEUNS BOTHA

Sy is passievol oor haar Walliese Bergponies. En met goeie rede. Want met die inkomste uit dié stoetery het sy nie net verseker dat haar kinders die beste moontlike opleiding kon ontvang nie, maar dit het ook al menige keer gehelp om die boerderyinkomste - veral tydens erge droogtes - aan te vul.

Volgens historici is daar reeds in 55 v.C. na Walliese Ponies verwys toe Julius Caesar 'n aantekening gemaak het oor die krag en gewilligheid van dié perdjies om sy soldate se strydwaens oor die ruwe terrein waar hy oorlog gevoer het, te trek.

Wanneer mev. Jean Budler van Tarkastad haar jongste aanwins, 'n tien jaar oue, donkerbruin, ingevoerde Walliese Cob, Llanarth British Lion, wat twee maande gelede op die plaas aangekom het, aanmoedig om 'n paar passies in die ring uit te voer, begryp jy waarom dié diere vandag steeds die trots van menige eienaar is. Vors, en met die kop omlaag, snel hy teen 'n verbysterende spoed verby. Net om die volgende oomblik met wuiwende maanhare in sy vier spore vas te steek - 'n simfonie in beweging.

Op die heerlike wintersdag waar ons in die stylvolle sitkamer van die koloniale woning op Gracelands met sy uitsig oor die Winterberge kuier, rol adellike perdename en gesogte bloedlyne oor Jean se lippe.

Sy vertel dat sy ná haar universiteitstudies op Stellenbosch en Grahamstad (sy het 'n graad in staatsleer) Europa vir 'n jaar lank op 'n werksvakansie deurreis het. In dié tyd het sy onder meer aan die befaamde Crabbet Park in Engeland 'n kursus in ruiterkuns voltooi.

Terug in Suid-Afrika het sy haar man, P.J., op 'n krieketdans ontmoet. Ná 'n bedrywige sosiale lewe was sy gereed vir die relatiewe stilte van die plaas. Van kindsbeen af was sy versot op perde.

"Die dag toe ek egter vir my pa sê dat ek eerder sou verkies om aan 'n landboukollege te studeer, het hy net gefrons en aangebied dat ek dan maar eerder my eie perd op universiteit kon aanhou," lag sy.

Met P.J. junior se eerste verjaardag was 'n ryperdjie as geskenk 'n logiese keuse. Sy het oral navraag gedoen en verneem dat mnr. Myburg Streicher van Albertinia as een van die land se voorste telers van Walliese Bergponies gereken word. Die ponie wat hy aan haar verkoop het, sou die begin van 'n lang vriendskaps- en sakeverbintenis word.

Die verskillende bloedlyne het haar gefassineer en sy het saam met Steicher na Wallis gereis waar hulle as Suid-Afrikaanse afgevaardigdes 'n Internasionale Walliese Ponie-konferensie in Hay-on-Wye bygewoon het.

Haar man het haar laat begaan. As dorpskind was sy in haar element om haar eie telingsbesluite op die plaas te neem. Sy wou dadelik begin skou, maar P.J., wat baie ervaring in die verband gehad het, se raad was om eers die nodige kennis op te doen en minstens drie jaar te wag.

"Dit was die moeite werd, want my hings, Cheeky Midnight, is op die eerste skou waaraan ek deelgeneem het as die SA opperste kampioen aangewys," vertel Jean.

Sy sal Streicher ewig dankbaar wees vir die voorreg dat hy, toe hy in 1991 besluit het om hom op Walliese Cobs toe te spits, aan haar die eerste keuse gebied het om uit die room van sy stoettery te kies om haar eie afdeling A-ponies te begin teel. Haar pa het die R30 000 aan haar voorgeskiet om die ses beste merries en hings, Bukkenburg Vintage, aan te koop.

"Wat aanvanklik 'n aangename tydverdryf was en baie deur my kinders geniet is, het oornag 'n besigheid geword. Ek moes die sente versigtig omdraai. Om te skou is nie net duur nie - daar is ook die voer en veeartsenykoste wat betaal moes word.

"Maar as jy gelukkig is en jaarliks genoeg vullens bykry, kan dit ook baie lonend wees om met dié ponies te teel. Daar is 'n ongekende oplewing in die vraag na kinder-ryperde. Die prys waarteen Walliese Bergponies verkoop word, beloop enigiets van R5 000 tot R25 000 stuk. Die ryperde wat op skoue presteer, kan van R30 000 tot R70 000 behaal. As teling vir jou 'n passie begin word en jy perde wil invoer, moet jy egter ook rekening hou daarmee dat dit jou teen die huidige wisselkoers minstens R150 000 uit die sak kan jaag om byvoorbeeld 'n perd uit Wallis na Suid-Afrika in te voer," waarsku sy.

Jean meen haar sukses met haar Llandilo-stoetery die afgelope 19 jaar deur 14 keer die SA opperste kampioenskapstitel in te palm, is te danke aan die feit dat sy net die beste plaaslike en ingevoerde teelmateriaal wat sy kon bekostig, aangeskaf het en daarna lynteling toegepas het. Sy fokus hoofsaaklik op die Coed Coch- en Revel-bloedlyn met 'n latere infusie van Uyzel Smart.

Omdat daar oor die afgelope 103 jaar net 27 Cobs na Suid-Afrika ingevoer is, het sy in April verlede jaar die driejarige hings, Fronarth Desert King, ingevoer. Hy is gekies vir sy besonderse bloubloedstamboom, uitstaande konformasie en goeie temperament. Sy ma het verskeie top Walliese kampioenskapstitels verower. Jean is net so trots op haar stalkneg, Zakuthini Gaga. Hy was maar net 12 jaar oud toe hy al met die ponies begin werk het.

"Sonder sy bystand sou ek nooit kon vorder tot waar ek vandag is nie. Oor die jare is hy al by verskeie geleenthede as die beste hanteerder aangewys. Boonop is hy 'n uitmuntende ruiter, afrigter en hoefsmid."

Haar stoetery bestaan uit 60 ponies. (Die afdeling A Walliese Bergponies en Walliese Cobs is dieselfde ras, maar val onder ver-skillende afdelings in die Walliese stoetregister. Afdeling A-ponies mag nie hoër as 12 hand wees nie terwyl die hoogte van Cobs op 13,2 hand begin en daar geen beperking op hul hoogte is nie.) Teelmateriaal komende van Gracelands word oor die hele land, insluitende die buurlande Zimbabwe en Namibië aangetref. Die Walliese Cob kan glo ook baie suksesvol met verskeie ander perderasse, soos die Arabier en Volbloed, gekruis word.

Omdat hul perdestoetery as 'n familiebesigheid bedryf word, word alle inkomste in die boerderyrekening inbetaal.

"Dit beteken egter nie dat ek myself nie af en toe kan bederf met 'n swembad of 'n oorsese reis nie," knipoog sy, maar voeg in dieselfde asem by dat die inkomste uit dié gedeelte van die boerdery bygedra het om vir haar drie kinders, wat aan duur private skole en later universiteite gestudeer het, se studies te help betaal.

Jean sê sy kan met die grootste vrymoedigheid aanbeveel dat enige boervrou met 'n liefde vir diere wat na 'n eie inkomste streef, gerus perdeteling kan oorweeg. Haar raad is egter dat hulle eers goeie navorsing doen met watter ras hulle wil boer en vooraf by kenners gaan kers opsteek. 'n Goeie vertrekpunt is om eers skoue by te woon en te sien watter tipe perde beskikbaar is en watter doelwitte nagestreef behoort te word.

"Onthou, teling is 'n langtermyn-verbintenis wat baie persoonlike aandag verg. As jy egter bereid is om te volhard, is die beloning soet.

"Daar is 'n groot vraag na goeie kinderperde. Ek ontvang ook gereeld oproepe van ouers wat sê hul kinders wil nou 'n groter perd hê. Omdat die Cobs so veelsydig en baie intelligent is, kan hulle in feitlik alle ry-dissiplines aangewend word. Boonop het ponies oor die wêreld heen 'n enorme bydrae gelewer om gestremdes gelukkig te maak of hulle op die weg na genesing te neem. Elkeen met 'n passie vir perde en die nodige geriewe sal nie verkeerd gaan as hulle daarmee wil boer nie," verseker dié sjarmante vrou wat ook in die Raad van die Walliese en Cob-vereniging dien.

  • Navrae: Jean Budler, tel. 045 847 0204, e-pos: pjbudler@telkomsa.net. Webblad: www.bonhaven.co.za