
Ondanks geldsake wat nie wou klop nie en 'n skeptiese bankbestuurder en rekenmeester wat gemeen het dié boervrou van Britstown se onderneming is gedoem, het sy deurgedruk. Nou het sy 'n onderneming met 'n vaste inkomste en tien voorheen werklose mense in diens.
'n P adstal met spesiale produkte van uitstaande gehalte uit die omgewing het al 'n bekende gesig op die pad tussen Britstown en Strydenburg in die Noord-Kaap geword. Met netjiese chalets daarby, is dit deesdae 'n gewilde stilhou- en oornagplek vir reisigers en die enigste in sy soort in die streek.
Mev. Wilma Strauss, 'n oud-onderwyseres, het haar beroep laat vaar toe sy en haar man, Gerhard, met 'n gesin wou begin. Sy was toe heeltyds op die plaas Brakdam, die eiendom van mnr. Attie Jooste, 'n destydse parlementslid vir wie Gerhard die plaas bestuur het.
Die Strausse het besef dat hulle nie net met Gerhard se salaris oor die weg sou kon kom nie en het 'n uitweg begin soek. Omdat baie motoriste by bome naby die plaashuis op die N12 stilgehou het, het die idee van 'n padstal posgevat. 'n Bietjie navorsing het gewys dat daar geen ander padstal op die roete was nie. Mnr. Jooste het vir Wilma 'n geleentheid geskep deur 'n gebou teenaan die pad te laat bou waarin sy 'n padstal vir haar eie sak kon bedryf.
Die eerste struikelblok wat Wilma egter moes oorkom, was om haarself te motiveer om aan haarself te glo. Finansiering was haar volgende uitdaging. Sonder enige bates of eiendom, het Jooste haar weer gehelp om geld by die destydse Kleinsake-ontwikkelingskorporasie (KSOK) te leen.
"My bankbestuurder se senuwees was só gedaan oor dié malligheid wat ek wou aanpak, dat hy my 'n pos in die bank aangebied het," lag sy.
Maar sy moes spoedig voorraad bekom, en aangesien sy graag handgemaakte produkte uit die Karoo wou aanhou, wou sy graag die talle knap boervroue van die omgewing hiervoor inspan. Dit sou terselfdertyd ook sorg dat hulle 'n inkomste verdien en dus eintlik 'n gemeenskaps-projek wees.
Omdat 'n padstal vir almal 'n onbekende begrip was, het haar plan om ander boervroue te betrek, nie gewerk nie. "Hulle was nie gemotiveer om voortdurend genoeg te produseer sodat daar altyd voorraad op die rakke is nie," vertel Wilma. Dit het beteken dat sy eenvoudig sélf moes inspring om die meeste van die produkte te maak.
Op 7 Maart 1992 het die Kambro-padstal sy deure oopgestoot met konfyt en ander produkte uit die omgewing op sy rakke en 'n gestopte, gemarineerde springbokboud in die vrieskas.
Toe 'n kliënt later bel en vertel hoe lekker dié boud was, het dit 'n hele bedryf in die kleine aan die gang gesit. Tans word 'n hele verskeidenheid vleisprodukte in die padstal verkoop. Springbokke word verwerk totdat net die bene oorbly.
Plaasprodukte, soos verskeie kweperprodukte en gedroogde vye, word onder meer in die padstal verkoop. Die produkte het nou al só bekend geword dat van Wilma se konfyt aan ander padstalle gelewer word.
Een van die spesialis-produkte wat ál meer in gewildheid toeneem en waarvoor die padstal bekend is, is vleispasteie van skaap-, springbok- en hoendervleis wat Wilma sélf bak.
Die handgemaakte produkte wat ook in die padstal verkoop word, is meestal ook Wilma se eie werk. Sy soek egter voortdurend na mense wat artikels kan maak én dit op 'n konstante basis kan lewer.
Al hoe meer ligte etes is later voorberei sodat die natuurlike volgende stap 'n restaurant - Die Voëlnes - was waar verál Karoolam en gestoofde kwepers 'n groot trekpleister vir besoekers is. Die Voëlnes is ook baie geskik vir geleenthede soos verjaardae, jaareindgesellighede en lekker kuieraande.
Omdat soveel van die verwerking en maak van die produkte self gedoen word, moes Wilma geld leen om 'n goeie stoof, oonde en 'n koelkamer aan te skaf.
In 1994 is twee chalets gebou nadat toeriste verskeie kere navraag gedoen het. Wilma het aanvanklik die gaste in haar huis ontvang, maar later die chalets gebou. Geld vir dié geboue is deur die boerdery voorsien en Wilma behartig alles - van die binneversiering tot die bestuur. Nóg chalets is intussen opgerig sodat daar tans nege is, asook ses woonwa-eenhede met ablusiegeriewe.
In 2005 het mnr. Jooste die maatskappy Kambro Akkommodasie en Padstal Edms. Bpk. gestig. Wilma huur die padstal by die maat-skappy en bestuur die akkommodasie vir 'n salaris. Haar man en Jooste, wat verlede jaar oorlede is, se vier dogters besit aandele in dié maatskappy.
Haar huishulp was haar eerste assistent wat van die begin af moes leer om alleen met die kliënte en geld te werk. Tien mense, nege vroue en een man, is tans in die padstal se diens. Hulle was almal voorheen werkloses uit die plaaslike gemeenskap.
Dié mense is opgelei en bemagtig met verskeie vaardighede - soos die bak en vervaardiging van produkte vir die padstal. Elke werknemer kan iets van alles doen - van chalets skoonmaak tot gaste ontvang.
"Die werkers het 'n trots in hul werk ontwikkel en is lojaal en getrou. Dit is wonderlik om te sien hoe hulle stelselmatig ontluik en ontwikkel. Ekself het ook baie gegroei," meen Wilma.
Buiten die feit dat sy moes begin bak, produkte moes vervaardig én haar kunstalent beoefen, het sy ook nóg 'n nuwe vaardigheid aangeleer toe sy die padstal se boeke self moes behartig. Intussen het sy begin om boonop na die boerdery s'n om te sien. Daarby ontwerp en druk sy al die etikette, plakkers en spyskaarte wat in die onderneming gebruik word.
Toeriste geniet die plaasatmosfeer, meen Wilma. 'n Wandelpad is aangelê waar bossies en grassoorte geïdentifiseer is. Voet-slaners kry 'n pamflet met die nommers en name van die plante. "Ons hele gesin word by die onderneming betrek. Gerhard behartig onder meer die bouwerk van die chalets, het die restaurant se dak opgesit en doen ook instandhouding. Die kinders verdien sakgeld deur by die kasregister te werk en artikels en produkte van springbokvleis te maak. "Ná 15 jaar is die onderneming goed gevestig. Dit groei jaarliks."
Sy sê een van die grootste voordele van die padstal is om 'n inkomste te hê wat nie so afhanklik van die natuur is soos die boerdery nie. In droë tye dra die padstal die boerdery. Die gemeenskap baat ook by die padstal, want ander mense kan hul produkte daar verkoop teen kommissie - mits die produkte se gehalte op standaard is.
Haar kop is nog vol planne, soos om 'n groter kombuis vir 'n groter verskeidenheid etes in te rig. Sy wil ook graag meer van haar eie produkte vervaardig.
Dié voorslag sakevrou se leuse is: "Blom daar waar God jou geplant het."
Landbouweekblad, 7 September 2007