Landbou
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Onekonomiese landbougrond in goudmyn omskep
Deur MARITHA SWART

'n Gastehuis en padstal langs die N1- nasionale pad het boervrou se landbougrond in 'n goudmyn verander.

Om albei jou ouers én jou man binne 'n jaar aan die dood af te staan, is 'n tragedie. Om daarná boonop 'n lewe te probeer maak uit 'n erfplaas wat weens 'n nabygeleë informele nedersetting, 'n hoofspoorlyn en 'n provinsiale én nasionale pad in 'n onekonomiese eenheid verander is, kan enige mens se moed breek.

Dit was ook nie die einde van Sandra Staples van Springfontein se probleme nie. Sy het, vóór haar man, Jeremy, se dood in 2004, sy plaas Staplehurst - wat langs die onekonomiese erfplaas Kuilfontein geleë is - se boeke gedoen, maar self nie veel van boerdery geweet nie.

Sandra het op Kuilfontein grootgeword. In 1979 is sy met hul buurman, Jeremy Staples, getroud. Kuilfontein was destyds 'n bekende Jersey-stoetery. Haar pa het- soos sy en Jeremy later - ook met rasegte Merino's en vleisbeeste geboer.

"Toe my ouers kort na mekaar oorlede is, was dit vir my 'n geweldige terugslag. Toe my man boonop 'n paar maande later in 'n motorongeluk sterf, het ek gedink dat dit beswaarlik erger met my kan gaan."

Ná haar man en ouers se dood, moes Sandra albei boerderye oorneem.

"Dis was ontsettend moeilik, maar ter wille van my drie kinders kon ek nie gaan lê nie," vertel sy.

"Een van my seuns, Jean-Pierre, was met 'n kursus as diesel-en-petroltegnikus in Bloemfontein besig met die oog daarop om later saam met sy pa te kom boer.

"Ons ander seun, Shelton, was besig om in Kaapstad as sjef opgelei te word. Hy is later Londen toe waar hy 18 maande lank as sjef gewerk het. Ons dogter was maar in standerd agt."

Gelukkig het haar man se broer, Duke, wat nie ver daarvandaan boer nie, kom help om haar en Jean-Pierre touwys te maak.

"Ons is gedwing om letterlik oornag te leer hoe om met Merino', kruisras-vleis-beeste en wild te boer," vertel sy.

Sandra het die boerdery hoofsaaklik in Jean-Pierre se hande gelaat en ál haar aandag op die gastehuis, wat sy en haar ma in 1995 op Kuilfontein begin het, toegespits.

"Dit was juis 'n poging om as teenvoeter te dien vir die paaie wat die regering op die plaas gebou het, asook die nabygeleë informele nedersetting wat die plaas in 'n onekonomiese landbou-eenheid verander het.

"Dié nedersetting het ál nader aan die plaas begin kruip en verliese weens veediefstal ondraaglik gemaak. Die Departement van Paaie en Spoorvervoer het sake verder bemoeilik. Hulle het goedsmoeds besluit om die N1 én die provinsiale pad van Springfontein na Bethulie oor die plaas te bou en om ook hoofspoorlyn - die Oos-Londen-Port Elizabeth-trajek - deur die plaas aan te lê. Afgesien van die hoofpaaie wat die plaas in twee verdeel het, het die spoorlyn elkeen van die 15 kampe verder onderverdeel. Kuilfontein is maar 1 400 ha groot en die verkleinde kampe het boerderymoontlikhede erg in die wiele gery."

Volgens Sandra het die staat nie toestemming nodig wanneer hulle 'n pad of 'n spoorlyn oor jou grond wil bou nie. Hulle lig jou bloot in dat hulle dit gaan doen. "Ons is die somtotaal van R1 000 vir dié ongerief aangebied."

Haar pa moes noodgedwonge sy boerdery afskaal. Hy het die melkbeesstoetery tot niet gemaak en op heelwat kleiner skaal met sy bees- (kruisras-vleisbeeste) en Merino-boerdery voortgegaan.

Die gastehuis het 'n belangrike bron van inkomste geword. Dit sou vergoed vir die verlies aan inkomste uit die plaas.

"Ons kon niks doen aan die feit dat die N1 deur ons plaas loop nie, maar ons kon aan nuwe maniere dink om die terugslag in 'n geleentheid te omskep.

"Die N1 is maar 'n halwe kilometer van die opstal af geleë en het die ideale ligging vir 'n gastehuis gebied."

'n Gastehuis langs die N1 sou ook 'n gerieflike oplossing bied vir reisigers tussen Johannesburg en Kaapstad. Die gastehuis is ongeveer in die middel van dié twee stede geleë. Dit lê ook sowat 140 kilometer van Bloemfontein af en sowat 350 kilometer van die Drie Susters naby Beaufort-Wes.

Kuilfontein se twee woonhuise is elk in twee gaste-eenhede verdeel. In Maart vanjaar het Sandra haar pa se ou skuur ook in drie gaste-eenhede omgeskep. Elke eenheid bestaan uit 'n slaapkamer, 'n klein ontspanningsarea, 'n kombuisie en 'n badkamer.

Die bekostigbare pryse wat sy bied, is 'n verdere trekpleister, meen sy. Sy vra maar R260 per mens per nag. Dié prys sluit aand-ete en onbyt in.

Die gastehuis was dadelik 'n sukses.

Die padstal-idee het verlede jaar by Sandra posgevat. "Jean-Pierre was geholpe. Hy boer heeltyds en geniet sy werk, maar Shelton sou die een of ander tyd van Londen af terugkeer en werk is skaars in die land.

"Ek het besluit dat 'n padstal die gastehuis goed sou aanvul. Shelton se kookvernuf en Martinette se restaurant-bestuursvaardighede sou ingespan kon word om vir hulleself 'n inkomste te verdien. Die padstal - wat tans die karakter van 'n restaurant-en-geskenkwinkel het - kan later uitgebrei word om Shelton en Martinette se talente selfs beter te benut."

Om dié padstal te begin, was egter geen maklike taak nie. Sandra moes by die nasionale en provinsiale padowerhede toestemming kry omdat die padstal langs 'n snelweg geleë is. Dit is boonop langs 'n kruising - die N1 kruis hier met die Springfontein-Bethulie-pad.

"Die owerhede is ontsettend streng hieroor," vertel sy. "Dit maak nie saak of die N1 deur jou eie plaas loop nie, die owerheid behou die reg om te weier dat jy 'n padstal oopmaak."

"Ek dink my padstal is juis goedgekeur omdat dit langs 'n kruising lê en gevolglik nie die hoofstroom-verkeer te erg ontwrig as voertuie hier sou indraai en stilhou nie."

Sy moes ook 'n besigheids- en gesondheidslisensie by Springfontein se Kopanong-munisipaliteit kry.

Dit het deeglike navorsing gekos voordat die padstal in Mei vanjaar geopen het. Sy het vir 'n jaar lank by padstalle oor die land heen gaan kers opsteek.

Sandra het lening van R600 000 bekom wat die padstal se staalstruktuur, bouwerk en aankoop van toerusting en voorraad sou dek. Die padstal kan sowat 55 mense - 20 buite op die stoep en 35 binne - huisves. Om geld te spaar en 'n uitsonderlike karakter aan die winkel te verleen, het sy afvalmateriaal ingespan vir onder meer die toonbank en plekmatjies. Die toonbank is van 'n ou wolpers geprakseer en die plekmatjies van ou Farmer' Weekly' wat deur Sandra se skoonsuster, Melanie Joubert, op stukke bordpapier geglasuur is.

Ten einde Shelton se kreatiwiteit ten volle te benut, maak fynproewersdisse 'n groot deel van die spyskaart uit. Hy spesialiseer verál in pasteie, soos lam-en-ment-, wilds- en hoenderpastei - om maar enkeles te noem. Ander eetgoed sluit in skons, muffins, 'n verskeidenheid koeke, konfyt, verskillende soorte koffie, tee en koeldrank. Sandra kry wildsvleis van Staplehurst met sy volop springbokke en ribbokke. Skaapvleis word deur albei plase voorsien. Net hoendervleis word aangekoop.

Shelton se kookvernuf is al só gesog dat Sandra met 'n bykomende diens begin het. Sondae word volledig gekookte etes in die padstal bedien. Gaste moet egter vooraf bespreek. Sondagkliënte is nie tot mense van die omgewing beperk nie. Bloemfonteiners doen ook dikwels hier aan.

Afgesien van die spyskaart, word letterlik enige denkbare produk in dié padstal aangebied. Dit wissel van gebak, droëvrugte en lekkers, droë wors en biltong tot handvervaardigde speelgoed, 'n groot verskeidenheid naaldwerk- en leerprodukte, skilderwerk, ysterware en draadwerk.

Bykans ál die produkte word deur mense uit die omgewing verskaf. Sommige verskaffers is boervroue wat 'n ekstratjie wil verdien, terwyl ander lede is van werkskeppings- en opheffingsprojekte in die omgewing. Op dié manier voorsien sy 'n inkomste aan talle mense.

Die padstal was 'n oornagsukses. Sowat 1 400 voertuie ry daaglik by die padstal verby. Wildjagters vorm ook deel van haar mark. Springfontein is jagwêreld en jagplase is volop. Veral buitelanders is gaande oor die geskenke in die padstal. Die naaste snuisterywinkel is in Bloemfontein.

Sy bemark deur in die buitelewe-tyd-skrifte Getaway en Country Life te adverteer.

Die enigste probleem waarmee sy te kampe het, is dat sy verplig is om die padstal Maandae te sluit. Sy besef dat sy kliënte hierdeur verloor omdat mense wat voor 'n toe padstal te staan kom, nie noodwendig gretig gaan wees om 'n volgende keer weer daar aan te doen nie.

"Ek het in dié stadium ongelukkig nie 'n ander keuse nie. Ons werk ses dae 'n week en moet 'n dag neem om ons boeke op datum te kry en voorraad te gaan koop."

Die probleem is 'n gebrek aan ekstra, vaardige hande om die padstal te bedryf. Daar is darem ook nog twee kelnerinne, 'n skoonmaker en 'n sweiser wat vir Sandra ysterware maak. By die gastehuis werk nóg twee mense.

"Shelton het intussen 'n assistent begin oplei wat hopelik vorentoe namens hom op 'n Maandag kan instaan."

Sekuriteit is nog nie 'n probleem nie. Sandra skryf dit toe aan die besige snelweg op haar voorstoep. Sy het ook 'n professionele sekuriteitstelsel geïnstalleer.

Aan een ding twyfel sy egter nie. Sonder haar geloof in die Here en Sy hulp sou sy nie dié sukses kon behaal nie.

  • Navrae: Sandra Staples, tel. 051 783 0157 of sel 083 283 7522.

    Landbouweekblad, 14 September 2007.