
In teenstelling met ander Karoodorpe waar die historiese argitektuur jou lok om langer te vertoef, was Jansenville vir my bloot 'n deurpad tussen Port Elizabeth en Graaff-Reinet. Dis ook hier waar ek al meermale in spoedlokvalle betrap is.
Maar dit was voordat ek Elna van den Bergh (41) ontmoet het. Ná 'n oggend in dié veelsydige entrepreneur - en haar voortreflike koedoepasteitjies - se geselskap, sal Jansenville nooit weer dieselfde wees nie.
Elna is 'nboorling van die distrik en het ná skool by die Silwood-kombuis in Rondebosch, Kaapstad, 'n diploma in kookkuns verwerf. Soos vir haar ouers, is lekker kos en onthaal vir dié vrou tweede natuur. In Port Elizabeth het sy by 'nindustriële spysenieringsonderneming gewerk en later 'n pos aanvaar om studente in die gasvryheidsbedryf te skool.
Toe haar man, Aubrey, in 1992 na Stellenbosch verplaas is, het Elna vanuit die huis spyseniering gedoen en onder meer vir Oom Sami se Winkel koekies gebak. In 1995 het hulle die uitnodiging aanvaar om saam met haar pa op Jansenville te boer. Hulle het aanvanklik volstruisies grootgemaak. Aubrey, 'n stadsklong, het niks van boerdery geweet nie, maar haar pa het hom onder sy vlerk geneem en al die fyner kunsies geleer.
In 1996 het hulle dorp toe getrek waar sy en haar ma 'n koffiewinkel en later 'n restaurant geopen het. Weens haar pa se langdurige siekte het hulle egter die besigheid afgeskaal en het Elna die dorp se eerste bed-en-ontbyt-gastehuis begin.
Ná haar pa se dood in 2005, het Elna en haar broer, Boertjie Oelofse, die grond om die hefte geërf.
"Ek was skielik aan die diep kant ingegooi. Hoewel Aubrey teen dié tyd genoeg van boerdery geweet het, het ons besluit om met Boertjie in vennootskap te gaan en - soos in my pa se tyd - die 13 000ha as een besigheid te bestuur. As familie kom ons ongelooflik goed oor die weg. Boertjie fokus op die bemarking en ek neemverantwoordelikheid vir die administrasie."
Op die vyf plase wat oor die distrik versprei is, boer hulle met sowat 3 000 Angoras, 1 000 Dorpers, 300 Merino's en beeste.
"Soos my sterreteken, die boogskutter, aandui, floreer ek op uitdagings. My lewensuitdaging is om elke dag iets nuuts te leer, al is dit net 'n enkele woord in 'nvreemde taal. Hoewel ek my tans net in 'n ondersteunende rol in die boerdery sien, wil ek baie meer by die dagtake betrokke raak. Vroue dink mos anders as mans,"knipoog Elna.
Die inkomste uit die gastehuis wat tans aan driemensewerk verskaf,word gebruik om vir haar enigste dogter se opvoeding te help betaal.
"Werkskepping en die bemagtiging van mense is vir my só belangrik. Van die dertien gesinne op die plase en dié wat met die bouwerk in die dorp help, is daar baie wie se vroue ook na 'n inkomste smag. Ek wil graag vir hulle werksgeleenthede skep, soos ombokhaar te klasseer."
Boertjie is baie trots op sy suster. "Ek is elke dag verstom oor hoeveel energie sy het. Sy en Aubrey is wonderlike vennote wat help om die boerdery klopdisselboom te laat loop. Daar is geen spanning tussen ons nie, waarskynlik omdat ons pa en sy broer ook vir jare saamgeboer, talle plase bygekoop en skuld afbetaal het."
Elna, wat een van net 'n handjievol vroue-afgevaardigdes op Agri Oos-Kaap en die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging se jaarkongresse is, sê sy word steeds vreemd aangekyk wanneer sy ramveilings en kongresse bywoon. "Ek houmy maar dikvellig omdat ek besef dat dit die plekke is waar ek noodsaaklike boerderyinligting bekom. Hoewel ek tot nou toe net 'n luisteraar was, brand ek om voortaan ook aan die besprekings deel te neem.
" 'n Mens staan met teetyd op kongresse tussen diemanne en niemand kom stel hulleself aan jou voor nie Daar word gans te min erkenning gegee aan die rol wat vroue in die boerdery speel. Miskien is ons sélf te blameer omdat ons nie bereid is om landbouverenigingvergaderings by te woon en op die besture verkies te word nie. Ek dink dit is tyd dat vroue wakker skrik en hul stemlaat hoor."
Sy is passievol oor agritoerisme en gaan haar beywer om die voorgestelde sybokhaarroete in die Oos-Kaap 'n werklikheid te maak.
"Dit is nie nodig dat 'n mens oor vyfstergeriewe beskik net om buitelandse toeriste te huisves nie. Daar is baie stedelinge wat smag na die oop ruimtes en nie reusebedrae wil betaal vir oornagverblyf nie. Ek het reeds 'ngebou op Jansenville geïdentifiseer wat in 'n eksposentrum vir sybokhaar, soortgelyk aan dieAgridome in Nieu-Seeland, ingerig kan word waar besoekers met elke aspek van die bedryf kan kennis maak."
Elna, wat ook op die bestuursraad van die ouetehuis op die dorp dien, is reeds in die proses omverskeie vervalle huisies wat in tipiese Karoostyl gebou is, op te koop en te restoureer.
"Daar is geen rede waarom Jansenville nie ook, net soos Cradock,met sy dorpshuise kan spog nie. Ongelukkig is hier 'n groot tekort aan water en is ons ook in 'n verbete stryd met die munisipaliteit gewikkel om die dorp netjies te hou," vertel sy.
Sy en Aubrey vertrek binnekort saam met 'n paar ander sybokhaarboere na Italië nadat hulle as een van die finaliste in die Ermenegildo Zegna-kompetisie vir die beste baal somer kleinbokkiehaar aangewys is. Hulle was vroeër ook 'n finalis in die Japanse Daidoh-kompetisie vir die hoogste gemiddelde sybokhaarprys.
Elna sien verál uit na 'n private besoek aan die Franse platteland. "Ek wil gaan proe of al daardie goed waarvan ek geleer het, regtig so lekker smaak."
Met die groetslag word ek 'n yslike Dorperskaapboud in die hand gestop. Word daar oor dié vrygewigheid geprotesteer, skryf sy dit toe aan die noorsboom se melk wat deur haar are vloei. Dít laat nie toe dat 'n besoeker met leë handewegstap nie - sodat hy wéér na die Karoo sal terugkeer.
Landbouweekblad, 28 September 2007