Landbou

Surona en Jana Miggels, wat die etikette op die konfytbottels aanbring, in die pakkamer.
Soortgelyk
LBW en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneur 2007:
Konfytkokery red plaas
Deur DEONETTE DE KOCK

Een vyeboom voor die agterdeur. Dís hoe Surona de Kock van die plaas Harmonie by Montagu se konfytbesigheid, Lekkerbek, wat vandag landwyd bekend is, twintig jaar gelede begin het.

'n Boer van die omgewing wat trekkerritte aan besoekers bied, het haar destyds genader om vyekontyt vir 'n winkel te maak wat hulle vir besoekers wou oopstel.

"Ek het begin deur op 'n klein skaal in my kombuis konfyt te kook met die produkte wat op die plaas tot my beskikking was, " vertel sy. "My man, en later ook die huishulp, het hand bygesit en ons het begin om groenvye-, perske-, appelkoos- en waatlemoenkonfyt vir dié winkeltjie te maak. Ek het telkens uit die wins weer bestanddele gekoop. "

Die lug is kraakvars en die wolke hang laag oor die Keisie-vallei toe ek voor die De Kocks se plaasopstal stilhou. 'n Plaas wat reeds vier geslagte lank aan dié familie behoort. Die appelkoosboord is in sagtepienk bloeisels getooi en die Langeberge troon statig agter die opstal uit.

Surona en haar man, Kowie, is gasvrye, nederige boeremense wat 'n mens gul ontvang. Hul enigste seun, Ian (30), wat ná skool landbou gestudeer het, boer saam met sy pa op die plaas. Hul oudste dogter is 21 jaar gelede op 13-jarige ouderdom in 'n motorongeluk dood.

Die rol van boervrou pas Surona, wat op 'n plaas naby Barrydale grootgeword het, soos 'n handskoen. Op skool was sy immers die enigste meisie wat landbou as vak geneem het. Kowie het reeds in haar skooldae begin vlerksleep.

Op Harmonie word met druiwe, perskes en appelkose, asook lusern, geboer. Aanplantings vir Surona se konfytprodukte word ook op die plaas gedoen.

Haar kundigheid agter die konfytpotte het sy reeds as kind by haar ma geleer. Die boekie Die Consol Leidraad het sy reeds as jong boervrou ingespan as riglyn vir die konfytkokery.

"Aanvanklik maak 'n mens baie foute, maar soos jy ondervinding opdoen leer jy telkens iets by en eindelik kom jy reg, " vertel Surona glimlaggend.

Nadat die winkeltjie waarvoor sy aanvanklik konfyt gekook het sy deure gesluit het, moes sy 'n nuwe mark vir haar produkte soek. Sy het 'n bakkievrag produkte gelaai, Boland toe gery en oral langs pad met haar konfyt gesmous. Voordat sy die Kaap bereik het, was alles uitverkoop. Boonop het sy 'n lang lys bestellings gehad.

Aanvanklik het Surona net 'n klein wit-en-swart-etiket op haar konfytbottels gebruik. Sy het egter later op die handelsnaam Lekkerbek besluit nadat sy dié naam op die radio gehoor het. 'n Kleurvolle etiket het gevolg.

Surona moes hard werk aan bemarking, maar mettertyd was haar produkte in groot aanvraag. Later het sy ook begin om haar konfytprodukte saam met die boerdery se droëvrugte te bemark en te verkoop.

Haar werkers kom almal van die plaas af. Sy het ook die ses plaasvroue - wat heeltyds in haar diens is - eiehandig opgelei. Die hoofkoker, Rina Martin, help haar om die ander vroue in die kuns van konfytkook in te lyf. Jana Miggels, 'n plaasvrou wat Surona se etikettering doen, was al op 'n finansiële kursus wat haar toegerus het om haar werk met meer insig te doen.

As die werk te veel raak, kry sy ekstra hulp van die plaas af om met die skilwerk te help. Dié werkskepping beteken baie vir die gemeenskap, meen Surona.

Omdat haar sakebelange haar dikwels van die plaas af wegneem, los sy alles in die bekwame hande van die hoofkoker en haar span.

Die konfytwerkery het boonop 'n oplossing gebied vir die plaaswerkers wat gewoonlik buite seisoentye sonder werk gesit het. Almal is nou op 'n heeltydse basis in diens.

Alles het egter nie altyd só vlot verloop nie.

Elf jaar gelede het die De Kocks 'n buurplaas bygekoop wat erg verwaarloos was en baie insetkoste gevra het. Hulle het tamaties aangeplant, maar dit het ryp gekry en 'n baie swak prys behaal.

Hul ou plaas, wat baie kleiner was, moes die nuwe een dra. Boonop het die rentekoerse geweldig begin styg en die wynbedryf het in duie gestort. Die konfytbesigheid het egter ál meer uitgebrei en die geldelike druk gehelp temper. Ekstra werkers moes aangestel en meer flesse aangekoop word.

"Sowat agt jaar gelede het die druk van die ekstra plaas ons 'n groot finansiële insinking laat beleef en ons is gelikwideer. Ek en Ian het by instansies gaan aanklop en hulp gevra. Omdat ons 'n seun met soveel liefde vir die grond het, wou ons die grond tot elke prys behou.

"Die feit dat ons daarin kon slaag om die kurators twee jaar lank aan die gang te hou sonder dat ons van die grond verwyder is en die feit dat daar nooit 'n veiling gehou is nie, is 'n wonderwerk. Op die dag wat die veiling sou plaasvind, het net een mens daarvoor opgedaag en kon ons hom met dankbaarheid meedeel dat daar nie 'n veiling gaan plaasvind nie.

"Boonop het my konfytgeld my in staat gestel om die kurator geld aan te bied vir die droëvrugte in die pakkamer wat ons toe sélf van die hand kon sit, " vertel Surona aangedaan.

"Ernstige gebed en 'n vaste geloof het ons deur dié tyd gedra. Ons omstandighede het stelselmatig begin verander nadat een van my man se swaers die grond van die kurator gekoop het. Ons huur dit die afgelope vyf jaar by hom en is nou besig om die plase as 'n geheel terug te koop, " vertel dié moedige vrou.

Volgens Surona het die konfytonderneming ook die plaas se kontantvloei dra. Haar mark het intussen só uitgebrei dat 'n agent in die Kaap aangestel kon word.

Sy meen daar is in haar omgewing - en ook landwyd - steeds 'n behoefte aan haar konfytprodukte.

"Daar is nie meer 'n groot verskeidenheid fabriekgeblikte konfyt op winkelrakke nie. Mense is meer daarop ingestel om eerder tuisvervaardigde produkte te koop omdat dié produkte gewoonlik so natuurlik moontlik gehou word.

"Maar dit is belangrik dat jou produk altyd van die allerbeste gehalte moet wees. En jy moet dit só hou. Suid-Afrikaners koop met hul oë. Daarom is gehalte en higiëne ononderhandelbaar. "

Hoewel sy heelwat las van bye het wanneer die konfyt gekook word, skep sy nou vir dié insekte stroop in die veld uit en hou sy hulle só van haar kastrolle weg.

Haar werksdag begin reeds met hanekraai. "Daar is nie genoeg ure in my dag nie. Ek bly snags tot laat aan die gang. Die boekhouding word oor naweke bygewerk. "

In dié stadium is sy nie sélf meer so nou betrokke by die konfytkokery nie. Daarvoor sorg haar hoofkoker en heeltydse werkers.

Sy spog tans met 27 verskillende konfytprodukte waarvan die groenvyekonserf die gewildste is. Ander goeie verkopers is waatlemoen-, druiwe-, perske-, appelliefie- en appelkooskonfyt. Lekkerbek vervaardig ook appelkoosblatjang en twee ingelegde vrugtesoorte, perske en kweper.

Die vrugte wat hulle nie self op die plaas produseer nie, word aangekoop. Boonop word appelliefies ook vir buiteverkope geproduseer. Maandae is plukdag vir dié vrugte.

Die konfyt word op 'n lang stoep teen die kombuis gekook en in die kombuis gebottel. Die voltooide produkte word in 'n pakkamer geberg. Van daar af word die keuringswerk gedoen en word dit na kliënte versprei.

Surona glo dat haar produkte oor 'n paar jaar steeds in groot aanvraag sal wees.

Volgens haar skaal die konfytbedryf nooit af nie. Een keer 'n jaar vat sy en haar man egter die pad om 'n bietjie te ontspan en laat sy die onderneming in die bekwame hande van die hoofkoker en haar span.

Haar raad aan voornemende entrepreneurs? "Glo in dít wat jy doen. 'n Sterk geloof en harde werk is 'n wenkombinasie. Maar dit moet vir jou lekker wees.

"As jy jou onderneming vanuit jou huis gaan bedryf, is dit ook belangrik dat jou gesin jou ondersteun. Daarsonder kan jy nie 'n onderneming suksesvol bedryf nie. "

Wat die toekoms betref, sou Surona graag wil sien dat haar besigheid landwyd groei. En dat sy eendag 'n volwaardige kookhuis sal kan bou.

Ondanks harde werk, geniet sy wat sy doen.

"Dit bly lekker, want ek hou daarvan om met mense te werk. Die seël op my werk is wanneer ek briewe van vreemdes ontvang waarin hulle my konfytprodukte prys. Dit maak alles die moeite werd. "

Dié boervrou het deur deursettingsvermoë en harde werk daarin geslaag om die respek van almal wat haar ken, te wen. Haar man spog trots: "Dis in Surona se aard om van enigiets wat sy aanpak, 'n sukses te maak. Die plaas is net 'n bewys daarvan. "

  • Navrae: Surona de Kock, tel. 023 614 2342, sel: 082 674 4398. E-pos: lekkerbek@breede.co.za.

    Landbouweekblad, 05 Oktober 2007