
Sy skrik nie vir buitelandse kontrakte van derduisende rande nie. Dit motiveer haar eerder, sê mev. Hermy Delport van die plaas Ertjiesdamby Helderstroom.
Dié deelnemer aan Landbouweekblad /Sanlam se Landbouvroue-entrepreneurskompetisie is nie een vir "gewone vroueondernemings", soos padstalle, handwork en fyngebak, nie.
Sy begeef haar eerder op die manne se terrein met haar helderkleurige plastiek-plaatjies waarmee skape en beeste aan die oor gemerk word. Haar onderneming, Lucret, ('n afleiding van haar tweede naam) se gewilde produkteword regoor Suid-Afrika - en selfs in die buiteland - verkoop.
"Dis iets heeltemal anders," sê sy. Maar om in 'n manswêreld te beding, is nie altyd maklik nie. Sy sal nooit vergeet hoe sy aanvanklik by verskillende koöperasies moes gaan aanklop om haar produk te bemark nie.
"Party van die takbestuurders was aan die begin maar baie skepties. Dit het soms gelyk of hulle dink ek praat die grootste nonsens. Asof hulle wou sê: Jy nie weet waarvan jy praat nie.
"Nou werk ek en daardie selfde manne alte lekker saam!"
Sy het hulle omgeboul met haar kennis van warmfoelie-drukwerk en só die skeptici aan haar kant gekry.
In 1995 kon sy en haar man, Thys, ('n skaap-, bees-, en graanboer en ook "tegniese adviseur" by Lucret) nie verstaan waarom dit bykans drie maande duur voordat die enigste maatskappy wat destyds drukwerk gedoen het, plaatjies kon voorsien nie.
"Ons het gevoel daarmoet 'n ander manier wees om self die drukwerk te doen," vertel sy. Dié einste maatskappy het Hermy verlede jaar genader om van hul drukwerk oor te neem.
"Daar was nie 'n geskikte masjien in die handel te koop nie. Ons het aanvanklik 'n masjien gekoop, maar dit moes heeltemal verander word om op die oorplate te druk.
Die ander twee masjiene het my man self ontwerp en die passer en draaier by die kooperasie het gehelp."
Sommige van die onderdele het hulle in die Kaap gekoop en 'n numeringskop ("numbering head") is van Engeland af ingevoer.
"Ons wou nie al die stukke op dieselfde plek koop nie, want ons wou nie hê dit moet nagemaak word nie," vertel sy.
Mettertyd het hulle die masjien afgerond, kompleet met temperatuurmeters - die syfers en letters word teen sowat 353°C ingesmelt.
Twaalf jaar later beskik Hermy oor die kapasiteit om ongeveer 3 500 skaapplaatjies per dag te druk. Dit kom neer op 'n 100 plaatjies per kwartier. Sy en haar twee werkers, Elmien enHenriette January,maak tot 800 beesplaatjies per dag, oftewel 25 000 per maand.
Die plaatjies is aanvanklik plaaslik aan landbou-besighede en boere verskaf, maar kleinerige advertensies in landbou-tydskrifte en die riemtelegram het sy ding gedoen. 'n Platevervaardiger het die advertensie raakgesien en haar gevra om hul plate te druk.
"Soos hul besigheid gegroei het, het myne saam gegroei. En nou werk ons steeds lekker saam."
Haar kreatiewe seun, Pieter (15), het met haar logo gehelp en sit ook soms hand by met advertensies. Op die pas afgelope Megaweek in Bredasdorp het sy 'n slim bemarkingsveldtog van stapel gestuur en vir mense sleutelhouers uitgedeel. Dié sleutelhouers was van plaatjies gemaak en haar besonderhede was daarop gedruk.
Sy is gelukkig dat haar gesin haar ondersteun - soos oor Paasnaweek, toe die personeel verlof gehad het. Toe het almal moue opgerol en ingespring om 'n groot bestelling te voltooi.
Die gehalte van haar produkte is sonder weerga. Ander drukkerye maak van inkspuitdrukkers gebruik, maar op Hermy se plaatjies word die nommers ingesmelt.
"Só hou dit beter. As die ink sou verdof, sit die nommer steeds daar," sê sy.
Die January-susters wat vir haar werk se ouers woon en werk op Ertjiesdam. As dit nie vir Lucret was nie, sou hulle van die plaas af moes weggaan om werk te soek. Een van die vaardighede wat hulle moes aanleer, was om die hantering van die masjiene onder die knie te kry.
"Ek kan hulle alleen laat en hulle kan aangaan. Ek was onlangs vir 'n week in Port Elizabeth en kon net die bestellings vir hulle SMS - hulle kon dit hanteer," vertel Hermy trots.
Sukses het egter ook sy porsie duur lesse gevra.
Aanvanklik het sy letters van aluminium gekoop vir die drukwerk. Dié letters kon net sowat 'n duisend plate druk voordat dit weggegooimoesword omdat die metaal so sag is. Gelukkig kon sy iemand in Johannesburg opspoor om vir haar staalletters te maak. Dit hoef net elke paar jaar vervang te word,maar is peperduur.
"Party dae voel ek gefrustreerd, maar dan kry ek bestellings, soos gister, en dit motiveer my weer." Sy het die vorige dag 'n uitvoerkontrak vir 120 000 plaatjies gekry. Dit is vir Rwanda bestem.
Haar goue reël is om altyd eerlik met haar kliënte te wees.
"As jy nie die plaatjies kan afgee op 'n gegewe tyd nie, bel jou kliënt. 'n Boer wil weet wanneer hy sy produk gaan kry."
Voor Hermy en Thys getroud is, en voor sy in 'n sakevrou van formaat ontpop het, het sy skoolgehou.
"Die besigheid hou my aan die gang. Ek kan nie stilsit nie."
Tyd vir tuinmaak het sy beslis nie. Sy moes ook haar ander stokperdjie, pottebakkery, laat vaar, aangesien die dag net te min ure het omby alles uit te kom.
Maar waar kom sy aan haar verstommende kennis oorwarmfoelie-drukwerk?
"Ondervinding! Een vervaardiger met hope kennis oor plastiek het my ook baie geleer.
"As ek geweet het waar ek vandag gaan wees, het ek dalk nie my ekonomie-klasse op universiteit so swak bygewoon nie nie!" spot sy oor haar sakevernuf.
Die masjiene het kapitaal geverg en Hermy moes maar met haar hoed in die hand by die bank gaan aanklop. "Gelukkig was hulle nie vol nonsens nie."
Ook toe sy die besigheid onlangs wou uitbrei, het die bank haar gehelp. Sy meen sy is bevoorreg dat sy die lenings so gou kon terugbetaal. 'n Goeie finansiële voorlegging is egter van kernbelang, maan sy.
Oor die toekoms is sy huiwerig.
"Ons kyk maar hoe die mark loop en fokus nog op Afrika suid van die Sahara en ander oorsese lande."
Haar bestellings word meesal gepos, maar groot besendings word met koerierdienste afgelewer. Sy roem daarop dat die bestelling altyd twee weke ná dit geplaas is, by die kliënt is. Elke man se gouigheid beloon hom ook as hy met Hermy sake doen. Sy is nougeset daarop dat niemand voorkeur kry bloot omdat sy die kliënt ken nie.
Hoewel die plaatjies van plastiek is, en dus nie bio-afbreekbaar nie, is haar drukwerk omgewingsvriendelik. Waar inkspuit- en laserdrukkers 'n tipe gas afgee wat nadelig is vir die atmosfeer, is warmfoelie-drukwerk vry van enige gasse. Die plastiek is ook duursaam en kan vir die skaap of bees se hele leeftyd gebruik word. Hermy sê boere kan ook die plaatjies afhaal as 'n dier gevrek het en dit weer gebruik om meer omgewingsvriendelik te wees.
Landbouweekblad, 2 November 2007