Die ses finaliste vir Landbouweekblad en Sanlam se Landbouvroue-entrepreneurskompetisie vir 2007/'08 is bekend. Vanjaar se finaliste is mee. Sandra Staples van Springfontein, Leatitia Ferreira van Loerie in Gamtoos, Surona de Kock van Montagu, Sonja Ferreira van Oudtshoorn, Hermy Delport van Helderstroom en Anneliese Carstens van Bonnievale.
Dié vroue gaan meeding om die aanloklike prysgeld van R60 000. Die wenner word op 28 Maart in Durbanville bekend gemaak.
Landbouweekblad en Sanlam gee met dié kompetisie erkenning aan vroue wat met hul eie ondernemings tot die welvaart van hul boerderye en dié van die plaaslike gemeenskap asook tot die bemagtiging van plaaswerkers in die algemeen bydra.
Staples het 'n bestaan probeer maak op 'n erfplaas wat onwinsgewend geraak het nadat sy haar man én haar ouers binne 'n jaar verloor het. Die plaas is geleë naby 'n informele nedersetting, 'n hoofspoorlyn en 'n provinsiale én nasionale pad. Sy moes oornag leer hoe om met Merino's, kruisras-vleisbeeste en wild te boer. Sy het die hoofboerdery hoofsaaklik in een van haar seuns se hande gelaat en ál haar aandag op 'n gastehuis, wat sy en haar ma op die plaas begin het, toegespits. Later het sy ook 'n padstal begin om die gastehuis se inkomste aan te vul.
Leatitia Ferreira het gesien die familie kon meer doen om waarde tot hul groenteboerdery te voeg en só minder aan 'n wisselvallige varsproduktemark uitgelewer wees. Sy het 'n geleentheid aangegryp wat 'n familievriend gebied het. As 'n gelyke vennoot van dié vriend, Stanley Smith, is 'n onderneming begin wat vars groete verwerk. Die eerste maand se omset was R52 000 en ná sewe jaar beloop dit meer as R400 000 per maand.
De Kock se konfytonderneming het begin nadat 'n boer van die omgewing haar genader het om vyekonfyt vir 'n nuwe winkel te kook. Nadat dié winkel sy deure gesluit het, moes sy 'n nuwe mark vir haar produkte soek. Sy het 'n bakkievrag produkte gelaai, Boland toe gery en oral langs die pad met haar konfyt gesmous. Nie alleen is alles uitverkoop voordat sy die Kaap bereik het nie, maar sy het boonop met 'n lang lys bestellings teruggekeer plaas toe. Intussen het haar konfytonderneming só gegroei dat dit die plaas se kontantvloei kon dra nadat hulle weens ekonomiese omstandighede en die las van 'n ekstra plaas gelikwideer is.
Sonja Ferreira se storie is een van vasbyt en deurdruk. Nadat die gesin hul plaas by Rietbron verloor het, het haar man as plaasbestuurder op Oudtshoorn begin werk. Sonja het aanvanklik produkte vir die tuisnywerheid op die dorp gebak, maar spoedig gesien dat dit nie sou werk nie. Nadat haar man gelees het van melkbokke en die klein kampies waarin hulle aangehou kon word, het Sonja die geleentheid aangegryp. Met R12 000 wat sy by haar ma geleen het, het sy haar eerste tien bokke gekoop. Vandag melk sy sowat 120 Switserse Saanens en haar produktreeks sluit 13 kase in 17 geure, jogurt, fudge, roomys, sjokoladesous en selfs seep in.
Delport en haar man kon nie verstaan waarom dit bykans drie maande duur voordat die enigste maatskappy wat destyds die plastiekplaatjies verskaf het waarmee skape en beeste aan die oor gemerk word, dit kon lewer nie. Sy wou 'n ander manier vind om dit te doen en nadat die masjien wat hulle aanvanklik hiervoor gekoop het, verander is om die drukwerk te doen, het haar man ook self twee nuwe masjiene ontwerp. Twaalf jaar later het hulle die vermoë om ongeveer 3 500 skaapplaatjies per dag te druk. Sy en haar twee werkers maak tot 800 beesplaatjies per dag, oftewel 25 000 per maand.
Carstens se babaprodukte-onderneming het 13 jaar gelede sy beslag gekry toe haar oudste as eenjarige sleg by die dagmoeder aangepas het. Toe sy eendag 'n kinderspeelmat by iemand se huis sien, het sy besluit om self een te maak. Sy het R6 000 se aandele wat haar pa vir die kinders gegee het, geleen om die onderneming aan die gang te kry. Sy meen die feit dat ál die wins wat gemaak word in die onderneming terug geploeg word, daartoe bygedra het dat dit van 'n eenmansaak tot 'n gevestigde onderneming uitgebrei het wat produkte landwyd en tot in Windhoek versprei.
Dié ses finaliste wen elkeen R5 000 van Sanlam asook ses maande se intekening op Landbouweekblad. Vir die wenner is R60 000 en 'n jaar se intekening op Landbouweekblad in die vooruitsig.
Landbouweekblad, 18 Januarie 2008