Boere kan die risiko van veeverliese weens weerlig verlaag deur die geologie te verstaan en sodoende met 'n mate van sekerheid te voorspel waar weerlig die waarskynlikste sal slaan. Hulle kan dan hul vee van daardie dele weghou.
Veeverliese weens weerlig veroorsaak jaarliks groot finansiële verliese vir boere. Dit kom gewoonlik in die binneland van Suid-Afrika voor, veral op hoogliggende of heuwelagtige gebiede weens weer- en lugsirkulasiepatrone. Hierdie soort verliese is moeilik om te bestuur, want weerpatrone is moeilik voorspelbaar en kom dikwels onverwags voor.
'n Elektriese ontlading of vonk ontstaan wanneer 'n spanningsverskil tussen twee elemente bestaan, onder meer tussen die mens se liggaam en 'n staalvoorwerp (statiese elektrisiteit).
Weerlig geskied volgens dieselfde beginsel. Gewoonlik het wolke 'n negatiewe lading weens die waterdruppels wat onder in 'n donderweerwolk voorkom. 'n Teenoorgestelde lading as dié van die onderste deel van die wolk, dit wil sê 'n positiewe lading, ontstaan op die grondoppervlak en in die boonste deel van die wolk. Die vloei van elektrisiteit tussen die wolk en die grond word bemoeilik deurdat lug 'n swak geleier of isolator is.
Die positiewe lading op die grondoppervlak word verder in 'n mikro-elektriese veld verdeel weens die verskillende samestellings van gesteentes. Stollingsgesteentes bestaan uit 'n verskeidenheid minerale en verweringsvorme. Ysteratome kom dikwels in mineralogiese samestellings voor. Yster is 'n geleier van elektrisiteit en sal daarom meer vatbaar vir elektriese ladings deur middel van elektro-magnetiese induksie wees.
Sedimentêre gesteentes, soos sandsteen, bestaan hoofsaaklik uit sanddeeltjies of grotendeels silika. Hierdie sanddeeltjies is 'n swak geleier van elektrisiteit en sal dus nie maklik met 'n hoë elektriese lading geassosieer wees nie. Wanneer 'n elektro-magnetiese profiel oor diabaas (ysterhoudende gesteente) en sandsteen (relatiewe ysterarm gesteente) gevoer word, tree die diabaas as 'n geleier van elektrisiteit op (hoë elektriese geleidingsvermoë) en die sandsteen as 'n isolator (lae elektriese geleidingsvermoë). Die begrip word in meegaande grafiek uitgebeeld.
Die verskil tussen die twee gesteentes se geleidingsvermoë word ook in geofisiese grondwatereksplorasie gebruik. Die verweerde kontak tussen albei gesteentes kan 'n waterdraende sone wees. Die vloei van grondwater skep ook 'n klein elektro-magnetiese veld as gevolg van die teenwoordigheid van verskillende atome in 'n wrywingsveld tussen klip, klei en ander materiaal. Sekere stokkiewysers beweer dat hulle hierdie elektro-magnetiese veld kan aanvoel en so die boorposisies in die veld merk.
Dit is belangrik om daarop te let dat twee elektriese geleiers voorkom, naamlik gesteentes en sones waar grondwater voorkom. Tydens die opbou van 'n donderstorm, veral laat op 'n somermiddag, sal die geleidende soort gesteentes en sones 'n elektriese lading opbou wat teenoorgesteld in lading as dié van die oorskaduende donderwolk is. Gevolglik sal hierdie twee gebiede ook meer ontvanklik vir elektriese ontlading of weerlig wees. Indien vee in so 'n gebied oornag of wei, kan hulle deur weerlig neergevel word.
Topografiese verskille in daardie betrokke gebied kan daartoe lei dat vee wat op 'n hoogte staan, soos 'n kontoerwal of termietnes, 'n groter kans het om deur weerlig raakgeslaan te word.
Indien die boer daarvan bewus is dat hierdie gesteentes op sy plaas voorkom, kan hy sy weidingstelsel en ligging van die krale daarvolgens aanpas as dit moontlik is. voorkom. Elektriese weerstandmetings of elektro-magnetiese opnames sal 'n akkurater weergawe van elke gesteente in 'n gebied gee. Dit is opvallend dat verweerde gesteentes dikwels as geleiers optree. Dit is veral te wyte aan 'n hoër voginhoud.
Die volgende gebiede is voorbeelde van hoërisikogebiede vanweë die voorkoms van geleidende gesteentes, grondwater en topografiese hoogteverskille: Die platorand in Mpumalanga, die Drakensberge in KwaZulu-Natal en die Oos-Vrystaat, die Springbokvlakte, die laagliggende gebiede en klowe in die Waterberge en Bankenveld, die Mootgebied van Pretoria, die turfgronde van Brits-Rustenburg en die ysterklipplate in die Karoo.
Indien die boer kennis dra van die gesteentes en grondwater op sy plaas, kan hy dus stappe doen om die risiko van veeverliese weens weerlig te verlaag deur sy skape, bokke of beeste te laat oornag of te laat wei in gunstiger geologiese gebiede tydens donderstorms, soos op sandsteen bedekte gebiede in 'n hoërisiko-gebied. Omdat die aardkors heterogeen is, kan verskillende geleidende en isolerende sones soms op 'n plaas voorkom.
20 Februarie 2004