Landbou
Wat gaan aan met klimaat?


Die weer bly maar 'n lekker onderwerp om oor te praat en verskeie e-posse op Landbouweekblad se elektroniese gespeksforum getuig van dié geselsery.

Anton Schutte (dagbreek@xsinet.co.za) het 'n interessante debat aan die gang gesit:
In die jare 70 het die reën in die Oos-Vrystaat gekom, ná drie dae se oostewind, wat dan wes gedraai het. Dit was gewoonlik laatmiddag en jy was redelik sekere van 'n bui reën as jy nie die son kon sien wanneer dit ondergaan nie. Daar was ook so teen 15:00 'n lekker donderbui waana die son geskyn en ons, as kinders, op ons fietse deur die plasse water kon ry. Die gronddamme was toe nog gereeld vol en die spruite se walle skoongespoel waar nou net fluitjiesriet groei.
Dit gebeur nie meer nie en tog bly die totale neerslag vir 'n jaar nie veel anders as in daardie tyd nie. Hoekom het die reënvalpatroon verander? Ons sien nie meer die geelperskereën, wat tog so eie aan die land was nie.

Eric Prinsloo (eprinsloo@csir.co.za) skryf:
'n Baie goeie boek hieroor is "The Weather and Climate of Southern Africa" deur proff. P.D. Tyson en R.A. Preston-Whyte (ISBN 0 19 571806 2). Hulle bespreek onder andere veranderende weerpatrone en siklusse, wat waarskynlik ook die reënvalpatrone beïnvloed. My eie waarneming is dat reënstorms korter, maar meer intensief geraak het. Ons kry eintlik ook nie meer daardie dae lange motreëntjies wat alles en almal laat muf nie!
Maar 'n mens moet ook die dinamika van alle natuurlike prosesse op aarde in gedagte hou, en dat alles geduring aan 't verander is. Sommiges neem net langer, ander korter.

Koos Coetzee(koos.coetzee@mpo.co.za) skryf:
Kan die kundiges ook asseblief sê of globale verhitting werklik 'n bedreiging is. Daar is sekere onkonsekwenthede in die stories oor die "gat in die osoonlaag" en in globale verhitting wat my pla, soos:

  • Besoedeling en CFK's in die noordelike halfrond — hoekom lê die gat oor die suidpool?
  • Is daar regtig 'n gat, of sien 'n mens net rekenaaranimasies?
  • Hoe meet 'n mens die aarde se gemiddelde temperatuur? Hoe het hulle dit 100 jaar terug gemeet?
  • Hoe lank is lank in klimaatsterme? Soos ek prof. Tyson se boek probeer verstaan, moet daar oor baie lang tydperke na klimaatsveranderinge gekyk word en soos Keynes gesê het "In the long run we are all dead".

    Johan van den Berg (jvandenberg@xzinet.co.za) skryf:
    Ek is 'nlandbouweerkundige wat redelik te doen het met klimaat, weer, en die effek daarvan op landbou. Ek het met groot belangstelling die gesprekke op die forum dopgehou en voordat ek iets kon antwoord was daar alweer nuwe vrae. Aangesien ek reeds lankal met die goed te doen het is ek uiters versigtig om regtig uitsprake oor klimaatsverandering te doen.

    Ons het so 4 jaar gelede 'n studie vir die destydse Langeberg in die Wes-Kaap gedoen oor klimaatsverandering in dié provinsie. Die langste rekords beskikbaar is geselekteer en daar was datastelle (met temperatuur) tot ongeveer 70 jaar terug vir plekke soos Elgin, Stellenbosch en Langgewens. Ons het na maksimum en minimum temperature gekyk, reën, hitte- en koue-eenhede, en so aan.

    Daar was nogal betekenisvolle aanduidings van veral minimumtemperature wat verhoog het in veral Februarie tot Mei asook September en Desember. Maksimum temperature het ook 'n verhoogde neiging getoon vir Februarie, Mei, Augustus en September. Wat veral kommerwekkend was, was die afname in koue eenhede in die appelgebied van Elgin en Caledon. Die neiging oor tyd vir jaarlikse totale reën het 'n interessante patroon gevolg met die grootste gedeelte van die gebied vanaf Malmesbury suidooswaarts tot by George wat 'n afnemende neiging oor tyd getoon het. Die Weskusgebiede noordwaarts van Clanwilliam het egter 'n positiewe sein getoon.

    Die interessantste bevinding was dat hoewel daar 'n veranderde temperatuurpatroon was, ons dit nie net kon toeskryf aan klimaatsverandering nie. Die gebied waar die weerstasies in die vroeë jare opgerig is, is waarskynlik daar geplaas toe landbou-ontwikkeling begin plaasvind het. Die grofheidslengte van die gebied (bv. die hoogte van bome) was baie klein in vergelyking met wat dit nou is, besproeiing beslaan nou baie groot oppervlaktes (meer water), permanente gewasse beslaan ook baie duisende hektare. Hierdie faktore kan 'n totale verandering in die mikro/meso klimaat van die gebied rondom die weerstasie tot gevolg hê. Na regte moet die weerstasie op 'n standaard hoogte/posisie wees maar as gevolg van die gebied se ontwikkeling is hierdie standaardhoogte/plasing nou nie meer standaard nie omdat die "fetch" van die weerstasie nou hemelsbreed verskil van 'n paar dekades gelede. Meer vog in die lug kan maak dat veral minumum temperature nie so laag daal nie as gevolg van 'n komberseffek. Wind waai minder op 'n weerstasie se meethoogte, sonstraling is minder omdat die horison nou "verhoog" het, bv. met hoër obstruksies.

    Wat reënval betref wil dit oor die algemeen voorkom asof die suidelike en oostelike dele van die land 'n afnemende neiging oor tyd het en die sentrale tot westelike gedeeltes 'n toenemende neiging. Wat die binneland betref lyk dit asof Oktober ietwat natter word maar Februarie droër.

    Ek het 'n stel weerdata van die oudste weerstasie in die land, naamli dié van Kaapstad. Dit het reënvaldata sedert 1850. Indien die 150+ jare ontleed word, is daar egter geen neiging nie. Indien korter tydperke ontleed word vir die Wes-Kaap (bv. vanaf 1900) lyk dit egter asof daar 'n afnemende neiging is. Dit bring ons by die groot vraag: Wat is die minimum tydperk om klimaatsverandering te ontleed? Is dit nie nog steeds deel van natuurlike siklusse van 2, 7, 18 en 35 jare nie?

    Die groot vraag is of boere en besluitnemers hulle daaroor moet ekommer. Is die jaar-tot-jaar variasie nie 10 keer meer verantwoordelik vir wat in die landbou aangaan nie? Op politieke vlak kan gepoog word om moontlike oorsake vas te stel en aan bande te lê.

    Klimaatsverandering is waarskynlik die maklikste onderwerp om mense mee op hol te jaag en navorsingsgeld te kry sonder dat hulle 'n maatstaf het om reg of verkeerd bewys te word. Ons moet nie blind wees vir klimaatsverandering nie maar dit is waarskynlik meer belangrik om jaar tot jaar variasie te probeer voorspel. Boere kan dalk ietwat meer konserwatief wees, bv. sorg vir meer aanvangsvog voor plant en om laer kouebehoefte kultivars te plant om voorsiening te maak vir klimaatsverandering.

    Die aspek van veranderde reënvalpatrone wat meer of minder effektiewe reën tot gevolg het kan egter gevolge op produksie hê. Die vraag is weer eens: Is dit permanent of net deel van 'n siklus? Dit sou egter interessant wees om navorsing te doen oor die doeltreffendheid van reënval. Geelperskereën is baie meer doeltreffendheid vir grondvogaanvulling, maar donderstorms is meer nuttig vir die aanvulling van oppervlaktewater.

    Die vooruitsigte vir volgende seisoen is baie deurmekaar. Die grootste skommeling in die SOI (wat 'n aanduiding is van seetemperature in die Ekwatoriale Stille Oseaan) vanaf Desember tot nou, het voorgekom sedert die eerste metings in 1876 (klimaatsverandering?). Dit lyk of El Niño swakker is as wat ons gedink het. Die implikasie: Swakker reën vir die Wes-Kaap vir die volgende maande (veral Augustus), swakker lentereën vir die binneland, maar beter vooruitsigte vir Oktober en November. Dit kan wees dat die eerste deel van die somer (Oktober/November) beter is as die middelste tot tweede deel. Dit kan verantwoordelik wees vir goeie planttoestande.

    Interessant: Wat sou u dink sou die mielie-oes se grootte in 2003/04 gewees het indien ons die reën van 1991/92 gekry het? Neem in ag dat die besproeiingsoppervlakte baie groter is, kultivars is baie verbeter en boere gebruik 'n oorlêstelsel waar hulle vog opgaar, marginale gronde is uitgeskakel, en so aan. Dus: Wat kan ons oes wees by 2,645 miljoen hektaar met die swakste reënval scenario in die vorige eeu?

    14 Julie 2004

    Kommentaar
    As jy graag kommentaar hierop wil lewer, stuur 'n e-pos aan: webred@landbou.com, of klik hier.