Landbou
Weerverskynsel steek kop uit
JAN CILLIERS

Daar is 'n kans van 90 % dat die El Niño-verskynsel weer in die somer van vanjaar sy opwagting kan maak en die weer in Suid-Afrika kan beïnvloed, waarsku mnr. Johan van den Berg van EnviroVision in Bloemfontein.

Hy het op die konferensie gesê die suidelike ossilasie-indeks in die Stille Oseaan is tans soortgelyk aan dié van 1997/98 en die kans dat 'n El Niño weer sy opwagting gaan maak, is dus goed.

Volgens hom beteken dit dat die kans vir midsomerreën in die westelike graanproduksiegebied van Suid-Afrika minder as die normale kan wees met gepaardgaande warm temperature. Die laaste deel van die somer kan toestande egter weer na die gewone reënpatroon terugkeer.

In teenstelling hiermee kan die oostelike produksiegebied weer die gewone midsomerreënpatroon verwag met die laaste deel van die somer minder as die gewone reën.

Die goeie nuus is dat mielies onder besproeiing al só uitgebrei het, dat dit 'n belangrike rol in voedselsekuriteit speel met 'n "gewaarborgde" opbrengs van sowat drie miljoen ton, het Van den Berg gesê.

Sou droëlandproduksie dus ook net drie miljoen ton in droogtetoestande lewer, sal daar dus 'n totale oes van ses miljoen ton mielies wees. As die toestande van 1991/92 hulle dus weer sou herhaal, sal Suid-Afrika steeds 'n mielie-oes van tot 6,5 miljoen ton lewer en nie net 2,5 miljoen ton soos in daardie seisoen nie, het Van den Berg bygevoeg.

17 September 2004