Wat het van geelperske-reën geword? Reën dit minder of op ander tye as vroeër? Het die gat in die osoonlaag al temperature begin opjaag? 'n Bekende landbouweerkundige probeer dié en ander vrae van boere beantwoord.
Doemprofesieë oor klimaatsverandering laat 'n mens dikwels dink aan die draaiboek van 'n wetenskapfiksie-riller. Voorspellings strek van matige veranderings tot rampspoedige gevolge: Woestyne kan oorneem waar nou nog produktiewe landbougebiede is, digbewoonde kusstede kan weens stygende seevlakke oorstroom word, plant- en diersoorte kan weens verhitting uitsterf, en hoëreënvalstreke kan vernietigende vloede verwag.
Hollywood het inderdaad reeds die potensiële drama raakgesien. In die rolprent The Day After Tomorrow wat onlangs uitgereik is, sorg eensklapse klimaatsverandering vir 'n wêreldwye katastrofe. Dié fliek is in wetenskaplike kringe wyd gekritiseer vir die manier waarop selfs die wildste voorspellings oor klimaatsverandering 'n stap verder geneem is om vir nóg angswekkender aksie te sorg.
Naas al dié manewales sorg klimaatsverandering vir warm debatte onder boere, want van alle beroepe voel hulle waarskynlik die nukke en grille van die weer die duidelikste aan die sak.
Mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige van EnviroVision in Bloemfontein, stel landbouers gerus dat daar steeds min bewyse is van grootskaalse klimaatsverandering op kort tot mediumtermyn (of binne 'n geslag) wat 'n drastiese verandering in boerderymetodes kan meebring.
Dit sal boere meer bevoordeel om in hul beplanning nou eerder vir die normale klimaatwisseling van jaar tot jaar voorsiening te maak. Hy sê alle beskikbare wetenskaplike inligting dui daarop dat dié jaarwisselings 'n veel groter uitwerking op die landbou het as moontlike klimaatsveranderings.
"Daar ís klimaatsverandering, maar dit is baie moeilik om te kwantifiseer. Historiese data strek dikwels nie ver genoeg terug om patrone te staaf nie. Die vraag is ook: Wanneer is dit klimaatsverandering en wanneer is dit 'n normale klimaatsiklus binne die bestek van 2, 5, 100 of 300 jaar?
"Patrone kan wel geïdentifiseer word, maar dit kan bloot deel van 'n groter siklus wees," sê Van den Berg.
Voorts is dit nie seker of die tipe verandering noodwendig 'n invloed op die landbou het nie. Al reën dit byvoorbeeld minder, kan 'n boer steeds 'n goeie oes afhaal as die reën wat wél val, op die regte tyd kom. Geelperske-reën is doeltreffender vir die aanvul van grondvog, terwyl donderstorms weer gunstiger vir die aanvul van oppervlakwater is.
Dus: Klimaatsverandering mag wel plaasvind, maar dit is so onseker hoeveel en wat die uitwerking daarvan is, dat boere nie nou hul koppe daaroor hoef te breek nie. 'n Mens moet eerder jou energie aan ander faktore bestee, soos verbeterde tegnologie om doeltreffender te kan produseer, sê Van den Berg.
Een van die grootste struikelblokke in die wetenskaplike bepaling van klimaatspatrone is die feit dat die omgewing rondom weerstasies drasties verander het sedert die vestiging van die stasies. Weerstasies wat op kaal grond opgerig is, word nou deur geboue omring, of is in 'n deel waar landboupraktyke heelwat verander het, soos met besproeiing en groter bome.
Historiese en hedendaagse data van byvoorbeeld windsnelheid en rigting kan om dié rede nie altyd vergelyk word nie. Die wind waai waarskynlik nou minder op die weerstasie se meethoogte en die rigting kon verander het weens heinings en ander versperrings wat die lugvloei-patroon gewysig het.
Historiese en hedendaagse temperature kan ook nie met absolute akkuraatheid vergelyk word nie, want 'n toename in besproeiing maak die lug in baie dele veel vogtiger as vroeër. Dit bring mee dat veral minimum temperature vanweë 'n "kombers"-effek nie so laag soos vroeër daal nie.
Sonstraling by 'n weerstasie kan ook minder wees vanweë 'n "verhoogde" horison die gevolg van geboue, bome en struike wat intussen verrys het.
Reënvalsyfers is een van die data-stelle wat nie soveel deur hierdie mensgemaakte faktore geraak word nie. As die reënvalsyfers van Kaapstad se weerstasie sedert 1850 egter vergelyk word, kan geen betekenisvolle neiging uitgewys word nie, sê Van den Berg.
Hy kon wél enkele moontlike patrone identifiseer:

Hy vermoed dit is reeds die oorsaak van 'n afname in appel-opbrengste by Elgin, naby Caledon. Sy data-ontledings vir daardie gebied het betekenisvolle aanduidings gegee van veral minimum temperature wat in Februarie tot Mei, en weer in September en mettertyd verhoog het (grafiek 2). Maksimum temperature het ook 'n neiging van verhoging in Februarie, Mei, Augustus en September getoon.

Van den Berg se raad aan vrugteboere is om kultivars te plant wat 'n laer koue-behoefte het. Saaiboere wat steeds oor klimaatsverandering bekommerd is, kan konserwatiewer vir somerreën beplan deur byvoorbeeld meer water op te gaar voordat hulle plant. Dit is nogtans belangrik om nie klimaatsverandering en veral die faktore wat dit kan veroorsaak, uit die oog te verloor nie, sê hy.
" 'n Langdurige opbou van kweekhuisgasse kan byvoorbeeld sekere drumpelwaardes oorskry, wat groter veranderings in die klimaat tot gevolg kan hê. Dit is dus baie belangrik om die omgewing te bewaar sodat die ewewig herstel en gehandhaaf word," sê Van den Berg.
Wêreld verander ook
Die Interregeringspaneel oor Klimaatsveranderinge (IPKV), 'n gesaghebbende organisasie wat deur die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) en die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram (UNEP) tot stand gebring is, se jongste bevindings oor wêreldwye klimaatsverandering is soos volg:
17 September 2004