Die wêreldklimaat is snel aan 't verander en Hoewel mense kan leer om by hitte en droogte aan te pas, sal volhoubare ontwikkeling en die vermindering van faktore wat klimaatsverandering bevorder, op die duur beter oplossings bied.
Aardverwarming is geen vreemde verskynsel nie. Die aarde het immers die afgelope halfmiljoen jaar sowat 20 keer opeenvolgend verwarm en afgekoel, met stygings en dalings in seevlak as gevolg van gletsers wat kleiner en groter word.
Wat hierdie keer anders is, is dat die klimaatsverandering mensgemaak is. Mnr. Peter Johnston, 'n navorser van die Klimaatstelselsontledingsgroep by die Universiteit van Kaapstad (UK), sê navorsing toon dat temperature sedert die nywerheidsrevolusie vinniger en hoër styg as wat deur natuurlike verskynsels verklaar kan word.
Dit wil ook lyk asof temperatuurstygings 'n weerspieëling van toenames in die konsentrasie kweekhuisgasse en 'n verhoogde kweekhuis-effek is.
"Hittegolwe is meer algemeen in die somer en die winters is nie meer so koud nie. Die winterreënvalgebiede word kleiner en 'n groter deel van die winterreën val nou op enkele dae. Daarbenewens is die see se vlak gemiddeld 10 cm hoër as in 1900," het Johnston in 'n onlangse lesing by dié universiteit se jaarlikse somerskool gesê.
Die veranderinge hou verreikende gevolge vir die landbou in, veral ten opsigte van:
By graangewasse kan verliese R0,2 miljard tot R1,2 miljard wees. Johnston sê hoewel Suid-Afrika se afhanklikheid van die landbou daal, word bestaansboere, wat selfs moeiliker by die veranderinge kan aanpas, meer.
Weens hoër temperature en groter verdamping word opvanggebiede kleiner en is afloop minder. Die insypeling van soutwater in riviermondings as gevolg van die stygende seevlak kan die gehalte van water knou. Daar kan verwag word dat die sneeubedekking op berge 'n belangrike voedingsbron vir Suid-Afrikaanse riviere weens die hoër temperatuur kleiner sal wees.
Met soveel faktore wat landbouproduksie kan laat daal, kan klimaatsverandering voedselsekuriteit in Suid-Afrika bedreig en is die moontlikheid van hongersnood nie vergesog nie.
Skade aan die omgewing deur jare lange oorbeweiding, ontbossing en gronduitputting sal die natuur boonop meer kwesbaar vir klimaatsveranderinge maak. Johnston sê klimaatsverandering het in die verlede ook plaasgevind, maar so stadig dat die natuur ruimte en tyd gehad het om aan te pas.
Benewens die uitwerking op die landbou, kan klimaatsveranderinge ook lei tot die grootskaalse uitsterwing van voël-, dier- en plantsoorte en die verlies aan gebiede wat ekologies belangrik en sensitief is. Dié veranderinge kan 'n verwoestende uitwerking op die Suid-Afrikaanse toerismebedryf hê, skryf me. Jane Turpie en ander in 'n verslag oor die ekonomiese impak van klimaatsverandering in Suid-Afrika.
Die beste maniere om die gevolge van klimaatsverandering die hoof te bied, is deur 'n verlaging in die vrystelling van gasse wat die verhoogde kweekhuis-effek veroorsaak, aanpassing by klimaatsverandering en volhoubare ontwikkeling.
'n Verlaging in die vrystelling van kweekhuisgasse kan teweeg gebring word deur die doeltreffender gebruik van olie en steenkool in nywerhede en vir die opwekking van elektrisiteit, die benutting van son- en windkrag en die uitbreiding van woude om groter hoeveelhede koolstofdioksied uit die atmosfeer te verwyder. Maar tot tyd en wyl die konsentrasies van kweekhuisgasse verlaag is, sal gemeenskappe en ekostelsels moet leer om aan te pas by veranderde klimaatstoestande, sê dr. Gina Ziervogel, 'n navorser by die sentrum vir energie-navorsing aan die UK.
"Ongelukkig is die gemeenskappe en ekostelsels wat die swaarste deur klimaatsverandering getref word, dikwels dié wat net nie die vermoë het om aan te pas nie. Daarom behoort die gemeenskappe se kwesbaarheid verlaag te word deur vroeë waarskuwingstelsels en gewasse of diere wat beter by hitte en droogte aangepas is," sê Ziervogel.
Mnr. Harald Winkler, 'n senior navorser by die sentrum vir energienavorsing, sê aardverwarming is nie juis regverdig nie. "Hoewel die nywerheidslande van Noord-Amerika en Europa asook Japan verantwoordelik is vir die vrystelling van die meeste koolstofdioksied in die atmosfeer (tabel 2), is dit ontwikkelende lande wat meestal aan die ontvangkant van die skadelike uitwerking van klimaatsverandering is. Vanweë hul beperkte vermoë om by klimaatsverandering aan te pas, is hulle besonder kwesbaar."

Om ontwikkelde lande te dwing om hul vrystelling van kweekhuisgasse te verminder en só die uitwerking van klimaatsverandering te versag, sal nie genoeg wees nie. Ontwikkelende lande moet op 'n manier by versagtende maatreëls betrek word. Omdat ekonomiese ontwikkeling en die gepaardgaande verhoogde industrialisasie en vrystelling van kweekhuisgasse egter by hulle voorrang geniet, is volhoubare ontwikkeling 'n beter maatreël.
"Dié benadering fokus op beleidsmaatreëls wat tot volhoubare ontwikkeling lei, eerder as teikens vir die vrystelling van gasse," sê Winkler.
Hoewel Suid-Afrika vir die doeleindes van klimaatsverandering as 'n ontwikkelende land geklassifiseer word, en dus nie onder soveel druk as ontwikkelde lande is om sy vrystelling van kweekhuisgasse te verminder nie, is hy een van die wêreld se 20 grootste vrystellers van kweekhuisgasse.
Winkler sê Suid-Afrika se hoë vrystelling van koolstofdioksied is te wyte aan die land se afhanklikheid van steenkool vir elektrisiteitsvoorsiening steenkool-kragstasies voorsien 93 % van die elektrisiteit wat hier opgewek word die vervaardiging van brandstof uit steenkool, energie-intensiewe nywerhede en myne en die ondoeltreffende gebruik van elektrisiteit.
Om die risiko's van globale verwarming en klimaatsverandering te verklein, vereis egter die deelname van die hele wêreld. Sedert wetenskaplikes in 1979 ná die eerste wêreldklimaat-konferensie in Switserland regerings gewaarsku het dat hulle bedag moet wees op sekere mensgemaakte klimaatsveranderinge en dit moet probeer keer, is klimaatsverandering en sy impak op mense en ekostelsels op die globale politieke agenda geplaas.
Die Verenigde Nasies het betrokke geraak deur 'n raamwerk-ooreenkoms vir klimaatsverandering, die sogenaamde "United Nations Framework Convention for Climate Change". Die daaropvolgende jaarlikse onderhandelinge oor maniere om die potensieel vernietigende uitwerking van klimaatsverandering te beperk, het in 1997 in Japan uitgeloop op die Kioto-protokol waarvolgens die verminderde vrystelling van kweekhuisgasse deur nywerheidslande bindend sou word.
Bekragtiging van dié protokol sou net plaasvind as ten minste 55 lande, wat gesamentlik vir ten minste 55 % van die vrystelling van kweekhuisgasse verantwoordelik is, dit onderteken. Dié teiken is verlede November bereik toe Rusland dit onderteken het, en op 16 Februarie het dit van krag geword. Kragtens die Kioto-protokol moet ontwikkelde lande van 2008 tot 2012 hul gesamentlike vrystelling van die ses belangrikste kweekhuisgasse tot onder 1990 se vlakke verlaag.
Net vier nywerheidslande, Amerika, Australië, Monaco en Liechtenstein, het nie die protokol onderteken nie.
Die Kioto-protokol maak ook voorsiening vir meganismes wat die verminderde vrystelling van kweekhuisgasse deur ontwikkelde lande makliker en goedkoper maak deur 'n "mark" vir die verhandeling van kweekhuisgasse tot stand te bring. Deur die meganismes vir skoon ontwikkeling ("Clean Development Mechanism"), die verhandeling van vrystellings en gesamentlike implementering kan ontwikkelde lande help om skoon nywerhede in ontwikkelende lande te vestig en deur verminderde vrystelling van kweekhuisgasse daar hul verpligtinge nakom.
Balans is gevoelig
Klimaatsverandering kan toegeskryf word aan aardverwarming weens 'n mensgemaakte toename in kweekhuisgasse en 'n verhoogde kweekhuis-effek.
Die sogenaamde kweekhuis-effek is 'n natuurlike verskynsel wat as dit in ewewig is verseker dat leefbare temperature op die aarde gehandhaaf word. Die son is die aarde se belangrikste eksterne bron van energie. As kweekhuisgasse (koolstofdioksied, metaan, distikstofoksied en chloro-fluoro-koolstowwe, hidro-fluoro-koolstowwe en perfluoro-koolstowwe) nie 'n laag wat hitte behou (soos die glas- of plastiekdak van 'n kweekhuis) om die aarde gevorm het nie, sou die aarde sowat 30 °C kouer wees.
Mnr. Peter Johnston, 'n navorser by die Universiteit van Kaapstad se ontledingsgroep vir klimaatstelsels, sê die aarde se temperatuur is die gevolg van 'n fyn balans in son- en aarduitstralings. "Sonder kweekhuisgasse sou die aarde se temperatuur sowat minus 20 °C wees, terwyl dit met kweekhuisgasse 'n leefbare gemiddelde 12 °C is."
Dié balans is egter gevoelig vir die kleinste versteurings, soos 'n toename in die konsentrasie van kweekhuisgasse. Daar is bewys dat die konsentrasie van koolstofdioksied die gas waaraan sowat 60 % van die verhoogde kweekhuis-effek toegeskryf word sedert 1750 met 31 % toegeneem het. Dit is hoofsaaklik die gevolg van menslike aktiwiteite, soos die verbranding van steenkool vir energie.
Metaan, wat vrygestel word tydens die verbranding van fossielbrandstowwe, rysverbouing en beesboerdery, het sedert 1750 met 151 % (1 060 dele per miljoen) toegeneem. Distikstofdioksied, ook 'n neweproduk van boerdery, het met 46 dele per miljoen (17 %) sedert 1750 toegeneem en neem steeds toe.
18 Februarie 2005