Landbou
Klimaat: Landbou moet nóú aanpas
JEAN-MARIE DE WAAL

Die landbou blyk een van die sektore te wees wat die ergste deur klimaatveranderinge getref gaan word, blyk uit 'n intensiewe studie oor dié verskynsel. Beplanning en deeglike navorsing is nou nodig om vir die nuwe spelreëls voor te berei.

Die vuurspuwende eilande van Hawaii, 'n klompie "mallerige wetenskaplikes" en die stelselmatige verdwyning van kokerbome (Aloe dichotoma) in die Karoo blyk op die oog af min verband met mekaar én die landbou in Suid-Afrika te hou. Só 'n afleiding sou egter verkeerd wees, want ál die genoemde verskynsels het klimaatsverandering in gemeen.

Wetenskaplikes meen nou dat die landbou geweldig swaar aan hierdie las gaan dra en dat verdere navorsing uiters belangrik is.

Prof. Brian Huntley, waarnemende hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (Sanbi), is 'n lid van die span wat hul bevindinge oor klimaatverandering onlangs aan die Kabinet voorgelê het. Hy meen dat die kommersiële landbou nuwe denkwyses sal moet aanneem om hierdie verskynsel te oorleef. Daarbenewens is dit kleinboere en opkomende boere wat die gevolge van klimaatverandering die ergste gaan voel.

Volgens Huntley wys sy studie dat mielie-oeste sal bly op dieselfde vlak as wat tans die geval is, of ietwat sal verminder na gelang van watter klimaatscenario gebruik word. Verskeie grensgeval-gebiede - waar mielies tans geproduseer word in die weste van die land - kan dalk ongeskik raak vir hierdie doel.

In teenstelling hiermee kan van die produksiegebiede in die oostelike deel van die land dalk 'n toename in produksievlakke beleef. Dit kan veral die geval wees in gebiede waar daar volgens temperatuurbeperkinge geproduseer word. Huntley sê produsente wat tans mielie-oeste met 'n hoë opbrengs lewer, sal beter by veranderinge in die klimaat kan aanpas as boere wat minder geld tot hul beskikking het.

Die netto produksie op Suid-Afrikaanse wei- en jagvelde sal min deur die verwagte klimaatveranderinge beïnvloed word. Hy sê dat die weiveld-ekologie egter moontlik meer vatbaar vir die groei van jong, houtagtige bome gaan wees en dat bosindringing die ekologie van gebiede moontlik kan verander. 'n Sekere gebied kan dus heeltemal oorgroei en ondeurdringbaar word. Dit kan gevolglik tot 'n vermindering in landbougrond en dus tot 'n verlaging in produktiewe grond lei. Huntley sê ook dat klimaatsverandering 'n beduidende vermindering teweeg kan bring in die aantal dae wat die grond vogtig is en sodoende 'n impak op plantegroei sal hê. Hy voorspel 'n vermindering van 11 % tot 18 % in grondvog in die graanstreek van Suid-Afrika.

"Ons het deurlopende, beter en fyner voorspellings nodig om tred te hou met klimaatsverandering. Meer navorsing is van sleutelbelang." Hierdie navorsing moet toegepas word om nuwe boerderymetodes te ontwikkel. Nuwe kultivars en ander verbouingsmetodes sal ontwikkel moet word, aangesien dít waarmee tans in sekere gebiede geboer word, nie meer vorentoe gaan werk nie. Hy meen dat die landbou 'n onbekende gebied betree.

Klimaatsverandering word gekenmerk deur 'n toename in uiterste natuurgebeurtenisse. "Soos almal in Suid-Afrika kan sien, onder meer met ons droog-tes en vloede, is daar inderdaad so 'n toename wat plaasvind," sê hy.

Simulasies toon 'n afname in riviervloei. In die westelike dele van die land gaan die vloei van riviere glo vroeër en erger verminder. Die riviere in die oostelike gedeeltes van die land sal later en in 'n mindere mate die afname in riviervloei ervaar.

Sekere soorte plantegroei in verskeie dele van die land sal verander of selfs kan verdwyn. Dit voorspel 'n geweldige impak op biodiversiteit. "Duisende plantsoorte kan uitsterf." Huntley meen dat die Suidwes-Kaap se fynbos en ook die plantegroei in die Karoo, soos die kokerboom, veral kwesbaar is.

Die landbou se eerste teenvoeter behoort beter beplanning te wees. As gevolg van die afname in produktiewe grond moet beter produksiemetodes bedink word. Hy meen dat daar na nuwe tegnologie gekyk moet word, veral omdat minder grond vir landboudoeleindes beskikbaar gaan wees. Hier kan onder meer na geneties gemodifiseerde gewasse gekyk word. Wêreldwyd word 'n toename in koolstofdioksied (CO⊂2) ervaar, daarom is dit noodsaaklik om op die herstel van grond te fokus - veral wat die herstel van inheemse plantegroei betref.

Sweedse wetenskaplikes het al 120 jaar gelede begin met studies waarin hulle na die verhouding tussen koolstofdioksied en die atmosfeer gekyk het. Soortgelyke studies is in die 1960's op die Amerikaanse eilande van Hawaii begin.

Die navorsing wat Sanbi aangepak het, is die eerste landwye studie oor klimaatsverandering in Suid-Afrika wat aan die Kabinet voorgelê is.

Huntley sê dat die globale temperatuur sedert 2000 met 0,6 °C gestyg het en dat hierdie verhoging in temperatuur die vinnigste toename in die geskiedenis van die aarde is.

Prof. Bruce Hewitson, verbonde aan die departement omgewings- en aardrykskundige wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, was 'n spreker by 'n nasionale Waterkonferensie wat in Kaapstad gehou is. Hy sê dat klimaatsverandering vir ten minste 100 jaar tot 200 jaar lank gaan plaasvind. Temperatuurveranderinge is redelik maklik om te voorspel, maar toekomstige reënval gaan wetenskaplikes laat kopkrap.

Klimaatsverandering gaan veral in Afrika plaasvind en die verandering kan ook spesifiek tot streke binne 'n land verbind word. Die Wes-Kaap gaan byvoorbeeld 'n vermindering in die aantal reëndae beleef en selfs ook 'n verandering in hóé die reën val. "Dit is net so belangrik soos die totale reënval."

Die reënval sal in die Wes-Kaap teen die kus verminder, terwyl dit deur 'n toename naby berge gekenmerk gaan word.

Volgens Hewitson sal die gebruik van fossielbrandstof, wat wetenskaplikes beskou as die oorsaak van aardverhitting, met 90 % verminder moet word om klimaatsverandering te verander. "Dít is 'n onbegonne taak en sal nooit kan gebeur nie."

Die voorlegging van Sanbi se verslag het klaarblyklik vasberadenheid en toegewydheid ten opsigte van klimaatsverandering tot gevolg gehad.

Mnr. Marthinus van Schalkwyk, Minister van Omgewingsake en Toerisme, het by die bekendstelling van die verslag gesê dat hoewel die kwessie van klimaatsverandering 'n paar jaar gelede slegs as bespiegelinge deur "mallerige wetenskaplikes" afgemaak is, is dit duidelik dat dié verskynsel nou 'n werklikheid geword het. "Die toekoms het pas die hede geword. Mense het gedink dat die impak van klimaatsverandering nog dekades weg is, maar dit is net om die draai."

Hoewel wetenskaplikes gewoonlik die jaar 2050 gebruik om klimaatsverandering te meet, sal dit reeds oor tien jaar ten volle in die Wes-Kaap sigbaar wees. Daar moet nóú anders gedink word, want die landskap is besig om te verander. "Die navorsing toon duidelik dat die westelike deel van die land droër word en dat die oostelike deel natter word." Van Schalkwyk sê die landbou moet aanpas om sodoende genoegsame voedselveiligheid in die toekoms te kan verseker.

"Hoe ons nou hierdie kwessie benader, sal die toekoms bepaal." Hy meen die Regering moet so vertroud moontlik met die verskynsel van klimaatsverandering raak sodat Suid-Afrika as 'n ontwikkelende land met selfvertroue internasionaal oor hierdie verskynsel kan saampraat.

Hy is egter onseker of lande soos Amerika en Australië ooit die Kioto-protokol, wat daarop gemik is om die vrystelling van kweekhuisgasse te verminder, sal onderskryf. "Ek dink dié lande en die res van die wêreld is besig om die omvang van die probleem te besef, maar hierdie verskynsel gaan nie verdwyn nie." President Thabo Mbeki sal blykbaar hierdie kwessie by die G8-lande se byeenkoms in Julie verder aanvoer.

Van Schalkwyk meen steenkool-energie sal nie maklik vervang word nie, maar dat skoner tegnologieë noodsaaklik is en dat kernkrag die groot energiebron in Suid-Afrika se toekoms is.

Huntley se navorsing voorspel 'n styging van 3 % in temperatuur tydens die leeftyd van die huidige geslag in Suid-Afrika. Dit blyk dus wyse woorde te wees wanneer hy maan dat "ons ons toekoms moet begin bestuur en nie wag dat ons toekoms ons begin bestuur nie".

17 Junie 2005