Landbou
Hou 'n oog op die weer
JOHAN WILLEMSE

Daar verskyn al hoe meer berigte in die nuusmedia oor veranderinge in die wêreldklimaat. Dit word op die hoogste vlak in die wêreld bespreek, soos op die jongste vergadering van die G8-nywerheidslande. Wetenskaplikes verwag dat die aarde geleidelik warmer sal word en dat reënval- en temperatuurpatrone gaan verander. Dit raak ook Suid-Afrika se boere.

Die weer is 'n onderwerp wat in bykans elke gesprek opduik waar twee of meer boere bymekaarkom. Dit was nog altyd so. Deesdae het die weer-gesprekke egter 'n nuwe dimensie bygekry: Wêreldwye klimaatverandering. Aardverhitting is een van die onderdele daarvan.

Ek meen dit is 'n uitgemaakte saak dat die klimaat aan die verander is. Die meeste van ons ervaar dit op die plaas. Daar is verskeie teorieë, soos dat dit deel van die gewone siklusse is wat die aarde kenmerk. Dit word veroorsaak deur die groot hoeveelheid koolsuurgas wat die mens die atmosfeer inblaas, is nog 'n teorie.

Die feit van die saak is, weeronstabiliteit raak die landbou regstreeks. Die landbou in die breë en elke boer sal ernstig moet dink oor die toenemende risiko wat deur weeronstabiliteit teweeg gebring word. Dit beïnvloed oeste en opbrengste en saam met die toenemende markrisiko (skommelende pryse en wisselkoerse) sal ernstig besin moet word hoe elke boer die moontlike impak op sy boerdery kan verminder.

Ons in Suid-Afrika het gewoonlik baie te sê oor die omvangryke hulp wat boere in talle ander lande kry. In Suid-Afrika het die ervaring nou al geleer dat ons nie veel moet staatmaak op die Ministerie van Landbou nie. Ek glo dat ek nie verkeerd is as ek sê dat klimaatverandering nie besonder hoog op die sakelys van die Regering, meer spesifiek die Departement van Landbou, is nie. My inligting is dat 'n ramphulpstrategie nog in die ontwikkelingstadium is as deel van die strategiese plan vir die landbou.

Dit is maklik om populêre stellings te maak, maar die volgende is enkele voorbeelde van die verloop van weerpatrone oor die laaste jaar. In Suid-Afrika is daar aanduidings dat die winters vandag gemiddeld 3 grade tot 4 grade warmer is as die langtermyngemiddelde. 'n Styging van hierdie aard is beduidend en ek meen dat die invloed daarvan op die reënval en oeste al hoe groter gaan word.

Weerontleders wat die bekende El Niño-verskynsel dophou, is optimisties dat ons nader aan 'n neutrale fase is as aan 'n El Niño-fase.

Dit is egter kommerwekkend dat dele van Australië die afgelope jaar van die ergste droogtes nog gehad het. Boere in Brasilië het aan die begin van die jaar weens droogteskade sowat 13 miljoen ton minder sojabone geoes as wat aanvanklik geraam is. Ontleders verwag dat die prys van olyfolie in die komende jaar skerp sal styg weens weerskade aan boorde in Spanje en naburige lande.

In die jongste verlede het ek verneem van skerp stygings in die pryse van mielies en sojabone in Amerika. Dit is omdat belangrike produksiegebiede se oeste ernstig geknou is deur ongewoon droë en warm weer in 'n kritieke groeistadium. (Dit is egter nie ongewoon dat die mark in die piek-groeiseisoen van graan soms skrikgemaak word nie.)

Teen hierdie tyd weet ons dat die oeste in Amerika en die pryse daar regstreeks deurwerk na die internasionale graanhandel en ook na graanpryse in Suid-Afrika.

In Suid-Afrika het die pryse van mielies en sonneblomme teen middel Julie aansienlik gestyg op grond van die skerp stygings in Amerika. Dit krap boere in Suid-Afrika se besluitneming lekker deurmekaar.

Die graanpryse in Amerika raak ook besluite ten opsigte van die opberging van graan en die oprigting van etanolfabrieke. Die verloop van die weer in Amerika in die volgende paar weke en die impak daarvan op hul oeste en pryse sal regstreekse gevolge vir Suid-Afrika se boere inhou.

Daarby moet ons die rand se wisselkoers en die verloop van pryse op die Amerikaanse graanmarkte in gedagte hou. Die skerp styging in die pryse van Amerikaanse mielies en oliesaad moet versigtig geïnterpreteer word, want 'n verandering in die weer kan dinge vinnig laat verander. Die wisselkoers moet ook in berekening gebring word.

Die stabiele verloop en relatiewe sterk verloop is te wyte aan verskeie probleme in Europa en Amerika. Die kans dat die rand beduidend gaan verswak, lyk al hoe skraler.

Die onstabiliteit beklemtoon weer die bewese en betroubare tegniek om graanpryse en verkope deur die jaar te versprei om die risiko te beperk.

Dit is nog te vroeg om besluite te neem op grond van die huidige pryse en die weerpatroon in Amerika. Teen die einde van Julie en vroeg in Augustus kan sake drasties anders lyk. Boere moet dus bedag wees op enige verandering in die volgende paar weke.

Amerika het laas jaar een van sy beste mielie-oeste nog gehad. Dit was nagenoeg 300 miljoen ton, met 'n opbrengs van tien ton per hektaar. Dit het die prys laat daal, maar het ook tot gevolg dat Amerika in September 2005, as die nuwe oes ingesamel gaan word, steeds 'n groot voorraad gaan hê.

Die oesskatting van middel Julie raam die nuwe oes sowat 9 % kleiner as dié van laas jaar. Hierdie skatting het pryse laat styg, maar dit is egter nog te gou om op grond hiervan te beplan. Ons moet in gedagte hou dat die eindvoorraad in 2006 na raming sowat 6 % meer sal wees.

Die wêreldvoorraad van mielies is ook laer as wat aanvanklik gedink is, maar steeds hoër as laas jaar. Die grafiek wys dat die eindvoorraad as persentasie van verbruik nog taamlik groot is. Heelwat meer oesskade sal in Amerika moet voorkom om pryse hoog te hou tot voordeel van Suid-Afrika se mielieboere.

Hierteenoor is die verloop van sake effens anders in Amerika se koringbedryf. In Amerika word koring in verskillende streke en in verskillende tye van die jaar geproduseer, wat gehalte- en prysverskille tot gevolg het. Die oes is groter as dié van verlede jaar en die eindvoorraad sal waarskynlik groter wees hoewel die voorraad in die wêreld effens kan afneem.

Die probleem is natuurlik dat Amerika se groter oes teen laer pryse uitgevoer gaan word en dit gaan die prys elders in die wêreld ook onder druk plaas. Ek verwag egter geen dramatiese gebeure nie.

Die verloop van sake in die mark vir oliesade toon groot onrustigheid. Die druk het vroeg vanjaar begin toeneem toe Brasilië se sojaboonoes sowat 13 miljoen ton kleiner as gewoonlik was weens weerprobleme. Die vraag na oliesadeprodukte (oliekoek vir veevoer en olie vir menslike gebruik) groei wêreldwyd sterk. Die groter gebruik van biodiesel, veranderende eetgewoontes en die groter vraag na vleis is die redes vir hierdie groei.

Amerika se verwagte sojaboonoes van ongeveer 70 miljoen ton tot 80 miljoen ton wat nou op die lande is, speel 'n groot rol om die mark te voorsien tot vroeg in die nuwe kalenderjaar wanneer boere in Suid-Amerika oes.

Die probleme met die Amerikaanse sojaboonoes volg op die kleiner Suid-Amerikaanse oes. Daar is reeds aansienlike opwaartse prysdruk op oliesaadprodukte in die wêreld. Heelwat van die produkte se pryse is in dollar nou al hoër as laas jaar en dit gaan waarskynlik vir etlike maande hoog bly. Die nuwe Suid-Amerikaanse oes sal heelwat groter as dié van laas jaar moet wees om die mark te stabiliseer.

Die onlangse voorbeelde van weeronstabiliteit en die waarskuwings dat die weer wêreldwyd aan die verander is, kan nie meer geïgnoreer word nie. Boere wat dit ignoreer, of nie daarvoor beplan nie, gaan hulle vasloop. Dit maak die boerdery nog ingewikkelder as wat dit altyd was. Die tradisionele weervoorspelling het nou soveel meer betekenis.

Suid-Afrika se vrugteboere is onder dié wat nou al 'n paar jaar lank ervaar dat die weer in Europa en die rand se wisselkoers hulle regstreeks raak. Graan- en oliesaadpryse kring vandag ook heelwat wyer uit. Dit raak 'n hele aantal bedrywe.

29 Julie 2005