Veranderings in die aarde se weerpatrone gaan boere in Suider-Afrika eersdaags dwing om boerderypraktyke te verander en veral bestuur op te knap. Die grootste brandpunte is in die Wes-Kaap, Limpopo en noordelike kusstreek van KwaZulu-Natal.
Boere in die Wes-Kaap, Limpopo en noordelike kusstreek van KwaZulu-Natal kom reeds agter iets is nie pluis nie, want die reënvalpatrone het klaar begin verander. Prof. Roland Schulze van die skool vir biohulpbron-ingenieurswese en omgewingshidrologie aan die Pietermaritzburgse kampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal het op 'n werksessie van die Suid-Afrikaanse Instituut van Landbou-ingenieurs in Pietermaritzburg 'n prentjie geskets waarvan boere en veral die Departement van Landbou deeglik kennis van kan neem.
Die basiese boodskap is dat kweekhuisgasse die weer reeds die afgelope dekade begin verander het en vorentoe 'n groot impak op landboubeplanning en bestuur gaan hê.
Suider-Afrika was nog altyd bekend vir sy lae en wisselvallige reënval. Dit is egter nie die rede waarom Suid-Afrika 'n droë land is nie, maar omdat die verdamping so hoog is. Londen kry byvoorbeeld ook sowat 500 mm reën per jaar soos gemiddeld in Suid-Afrika, maar die stad se potensiële verdamping is 'n lae 600 mm tot 700 mm per jaar, teenoor Pietermaritzburg se 1 600 mm en die Kalahari se 3 000 mm. Die stygende temperatuur gaan die potensiële verdamping vanuit plante se blare en uit die grond en damme verder laat toeneem.
Die slegste nuus is dat die toenemende verdamping uit die boonste laag grond gaan veroorsaak dat die getal dae wat dit te min water bevat, gaan toeneem. Dus die dae wat die plante verlep en die produksiepotensiaal in gedrang kom.
Die rede vir dié scenario is besoedeling. Weens besoedeling styg die hoeveelheid koolsuurgas in die atmosfeer. Tot 1930 was die hoeveelheid koolsuurgas relatief staties, maar daarna het dit vinniger begin styg weens die kweekhuis-effek, wat regstreeks aan besoedeling toegeskryf kan word. Of meer bepaald: Die verbranding van aardolie in die vorm van brandstof vir voertuie en vliegtuie en die opwekking van elektrisiteit met steenkool en nywerheidsontwikkeling. Die temperatuur het in dieselfde tyd begin hoër neig. Die agt warmste jare in die aarde se geskiedenis was almal redelik onlangs. Die warmste jaar nog in Suid-Afrika was in 1998 en die naas warmste jaar verlede jaar.
Wetenskaplikes voorspel 'n styging van minstens 2 °C in die onmiddellike toekoms. Dit gaan nie noodwendig minder reën veroorsaak nie. Op Potchefstroom word reeds 'n styging in die totale reënval opgemerk. Elders bly dit staties. Ander dele van die land kry minder reën. Die groot probleem is dat die droë tye langer gaan word, al reën dit meer of minstens nie minder nie. Dit beteken meer donderstorms, met ander woorde groot hoeveelhede reën in 'n kort tydjie, gevolg deur langer tye wat dit nie reën nie, sê Schulze. Die voorkoms van 'n El Niño (droë jaar) en La Niña (nat jaar) gaan ook toeneem. Dus ekstreme gebeure, soos droogtes en oorstromings.
Dit gaan ook later in die winter eers begin ryp en vroeër ophou. Die verandering in weerpatrone gaan verder 'n uitwerking op die natuurlike veld hê. Plek-plek kan die veld swakker word.
Die ingewikkelde prentjie wat geskets word, raak nóg ingewikkelder as die gevolge van die groter wisselvalligheid van die reënvalpatrone deur 'n wetenskaplike vertolk word. Schulze sê die provinsie Limpopo se reënval gaan waarskynlik met 20 % afneem, maar dit is nie al slegte nuus nie. Die reënval kan nóg wisselvalliger word as wat dit reeds is. In dié provinsie kan dit 50 % meer wisselvallig word, wat die druk op boerdery daar baie ondraagliker gaan maak.
Wat beteken dit alles vir die boere?
Schulze sê dit gaan 'n groot aanpassing van die boere se bestuur verg en in sommige opsigte sal dit selfs boerderypraktyke raak. Dit is nie net dat die temperatuur byvoorbeeld met 2 °C gaan toeneem nie (in sommige dele, soos die Vrystaat, selfs soveel as +3,5 °C). Die dele waar die temperatuur al merkbaar gestyg het, is die Wes-Kaap en die Middelland en kusstreek van KwaZulu-Natal. Die getal dae met baie hoë temperature ná mekaar gaan ook toeneem, wat katastrofies sal wees as dit byvoorbeeld in 'n kritieke groeityd van 'n gewas gebeur, soos blomtyd. Dit kan 'n swak of selfs misoes beteken.
Weens die verwagte toename in swaar donderbuie sal boere moet seker maak hul kontoere op skuins saailande is goed genoeg om swaarder reën in 'n kort tydjie te kan hanteer. Dit kan selfs 'n herbeplanning van kontoere verg. Waterafloopbane tussen landerye moet sonder obstruksies wees om water vinnig te laat wegvloei en moet 'n goeie grasbedekking hê om erosie te voorkom.
Wetenskaplikes is egter reeds kliphard aan die werk met navorsing oor watter alternatiewe gewasse in bepaalde gebiede met welslae verbou kan word as die weerpatroon sodanig verander dat tradisionele gewasse nie meer daar aard nie. Die donker wolk het dus 'n silwer randjie om, waarvan boere gerus kennis moet neem om darem nie té neerslagtig te raak weens al die doemprofete se voorspellings nie.
Enige boerdery word op die lang termyn op gemiddeldes gebaseer. Die gemiddelde reënval gaan in 'n bepaalde gebied dalk nie verander nie, wel die tipe reën. Dit kan 'n aanpassing in boerderypraktyke verg. Dele in die land waar boere byvoorbeeld nie voorheen kon mielies plant nie, kan in die toekoms daarvoor geskik word, terwyl sommige dele nie meer geskik vir bepaalde gewasse kan wees nie.
In hierdie opsig kan die Wes-Kaap, Limpopo se bergagtige dele en die noordelike kusstreek van KwaZulu-Natal probleme vir boere beteken. Schulze noem dié dele die groot brandpunte.
Die reënvalpatroon in die Wes-Kaap en Limpopo het reeds verander en stel groter eise aan boere. Die Bolandse berge verdeel die land in 'n winter- en somer-reëngebied. Vorentoe gaan dit nie meer so eenvoudig wees nie. Namate die koolsuurgas en temperatuur styg, gaan hierdie natuurlike skeiding van reënvaltye 'n tydperk van verwarring tegemoet en gaan die winterreën in die Wes-Kaap waarskynlik baie minder word.
In die geval van Noord-KwaZulu-Natal kan die hoër hitte en meer verdamping nadelig vir die besproeiingsboere wees, want baie meer water gaan verdamp voordat dit in die suikerriet, een van die belangrikste gewasse in die provinsie, se wortelsone kom. Baie suikerriet word hier besproei en is die lewensbloed van baie kommersiële en opkomende boere. Dit kan selfs 30% meer besproeiings per jaar verg om suikerriet tot volwassenheid te bring.
Ryp speel 'n belangrik rol om siektes en plae te beheer. Die slegte nuus is dat dit vorentoe vir korter tye gaan ryp. Dit is reeds merkbaar in die Vrystaat en Noord-Kaap. Dit gaan later in die winter begin ryp en vroeër ophou. Dit sal 'n groter las op boere se skouers plaas om siektes te bestry, wat normaalweg deur die uiterste koue van rypnagte vrek.
Die veranderde klimaat kan ook die natuurlike veld raak en die voedingswaarde verlaag, wat boere gaan noop om meer lekke te gebruik.
Bewaringsboerdery gaan 'n al hoe groter rol speel om vir al hierdie verwagte uiterstes voorsiening te maak.
Die swaarder reënbuie met groter tussenposes gaan die plaaslike bewoners van afgeleë gebiede erg raak. Baie mense gaan skep water vir hul alledaagse bestaan in die riviere. As hierdie riviere vir langer tye nie deur reënwater aangevul word nie, kan dit die armes aan groter ontberings blootstel. Damme gaan gemiddeld ook leër word. Die tye wat dit vol is, gaan korter wees. Nog erger: Die tye wat sommige damme bykans leeg is, gaan toeneem. In sommige gevalle gaan dit groter gebiede raak. 'n Dam in Swaziland waaruit tienduisende hektare suikerriet besproei word, gaan vir langer tye min water hê, wat nie net daardie suikerboere gaan raak nie, maar ook die aangrensende Mosambiek, wat water uit dié dam kry.
"Die Regering en veral die Departement van Landbou moet dringend aan-dag hieraan in hul toekomsbeplanning gee," sê hy.
Wetenskaplikes is intussen besig om groot vooruitgang te maak om mense op streekbasis oor die weer in te lig. Aan die begin is net gepraat van aardverwarming. "Die gebruik van gemiddeldes is nie meer goed genoeg nie. Baie meer akkurate inligting is op streekbasis nodig," sê Schulze.
Nou ontwikkel die inligting en databanke so vinnig dat mense in Suid-Afrika al op streekbasis inligting kan bekom. Hulle kan dus voorspel hoeveel reënlose dae die Wes-Kaap gaan hê en hoeveel donderbuie 'n gebied te wagte kan wees.
Die hele land is in 'n ruitenet verdeel. Inligting word voortdurend oor elke net ingesamel en elke net word dan in kleiner vierkante verdeel, elkeen met volledige inligting oor die aard van die terrein en riviere en spruite wat daar voorkom. Elkeen se weerdata is ook bekend.
Dit is baie nuttig as 'n nuwe dam byvoorbeeld beoog word. Dan kan die ingenieurs en wetenskaplikes na die hele betrokke opvanggebied kyk vanwaar die water vir die dam moet kom. Hulle kan die verspreiding en konsentrasie van die plaaslike bewoners, boerderye en ander faktore in ag neem om oor 'n uitspraak oor die impak, lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van so 'n dam te besin, met ander woorde hoe dit elke deeltjie van die betrokke gebied gaan raak.
Al die veranderings in die reënval gaan die besproeiingsboere ook raak, wat 60 % van al die water gebruik. Die meeste besproeiingstelsel is nie baie doeltreffend nie. Die verlies aan water in 'n kanaalstelsel is byvoorbeeld 20 % tot 25 %. Selfs drupbesproeiing mors 10 % water. Die spilpunte wat so algemeen in gebruik is, vermors 20 % water. As alle faktore in ag geneem word, is die waterverbruik in die hele ketting vanaf die dam tot by die wortelsone soms nie veel meer as 50 % nie.
Waterbestuur in besproeiingsgebiede gaan dus belangriker word, sodat die landbou die krimpende hoeveelheid water doeltreffender kan gebruik. Met die regte bestuur kan die gebruiksdoeltreffendheid selfs in die ergste gevalle maklik tot 75 %toeneem.
Schulze se laaste kernboodskap aan boere en beplanners: Vergeet van die geheelprentjie van aardverwarming. Begin op streekvlak dink: Wat moet elke boer doen om hom by die veranderende klimaat aan te pas en te oorleef? Die oplossings: Elke boer moet sy hele denkpatroon verander en sy boerderybestuur herontwerp.
Nog belangrike raad: Al is die hele prentjie kommerwekkend en dreigend, moet boere nie nou geld leen om 'n boerdery te herbeplan nie. Doen eers 'n deeglike evaluering en voer dan die noodsaaklikste stappe eerste en stap vir stap uit, anders kan 'n bykomende skuldlas die boer in elk geval kelder.
Die toekoms is reeds hier, sê hy. Veranderings in die weerpatroon wat vir sommige mense in die toekoms lê, is reeds hier en drempelveranderings kan oor so min as tien jaar deel van die Suid-Afrikaanse landbou wees.